Merc gee nuwe tree met GLC-koepee

Toe ek ʼn jong lat was, het die woord koepee verwys na ʼn tweedeurmotor. Gewoonlik een met sportiewe bedoelings. Deesdae kry ʼn mens koepeeweergawes van vierdeurmotors wat geskoei is op die vierdeurweergawe van die tweedeurvoorganger. Ja-nee, ek weet ook nie. Ek dink die eerste was Audi. Jy het ʼn A4 gekry. Toe ʼn A5 – met twee deure. Goed. Toe kry jy ʼn A5 Sportback met vier deure wat nie ʼn A4 is nie. Waansin.

Die gewildste segment deesdae is sportnutsvoertuie. Van klein tot groot. Hy moet hoog ry, leliker wees as sy sedanboetie, en boonop swaarder op brandstof ook. En minder lekker ry. Huh!? Maar dis wat die publiek wil hê.

Ons is onlangs genooi na die bekendstelling van Mercedes-Benz se nuutste GLC‑koepee. Ja, hy het vier deure. Ons het met sy uiters mal neef te doen gehad in Spanje – die GLC 63 SE Performance. ʼn Stewige 500 kW en oor ʼn duisend Nm.

Wat die GLC ʼn koepee maak, is sy skuins dak. As jy hom van die kant af kyk, kry jy daai koepeesilhoeët. Die binneruim in die voorste helfte in onveranderd. Pragtige paneelbord, uiters gemaklike sitplekke en groot skerms vir ʼn vale. In die agterste helfte van die kajuit is daar skrams minder kopruimte en in plaas van ʼn amper-regop agterruit, is dié een heel skuins. Dis omtrent dit – maar die algehele ontwerp sê koepee eerder as doelgerigte sportnutsvoertuig.

Onder die kap sit twee juwele. Mercedes-Benz skiet tans die ligte uit met hul dieselenjins. Ons het die 220d sowel as die 300d getoets. Die 220d bied ʼn indrukwekkende 145 kW en 440 Nm. Die 300d ʼn kolossale 198 kW en 550 Nm. Aitsa! Ek dink die 220d is my gunsteling. Die 300d is werklik indrukwekkend,  maar die uiters puik brandstofverbruik van die 220d wen die argument vir my. Daar is net genot as jy sien jou verbruik is maklik by 6 ℓ/100 km en die reikafstand van die tenk oor ʼn duisend kilometer.

Op die pad verwag jy baie van die driepuntster. Dis ʼn Merc. Die moderne Benz ry ongelukkig heel hard, maar dis ook grootliks vanweë die groot sierwiele. Ek het verlede jaar met ʼn GLC 220d gery met klein wiele met behoorlike bande op, met ʼn lekker profiel en hy’t soos ʼn droom gery.

Die veiligheidsuite wat die GLC bied, is uit die boonste rakke. Daar is al die gewone passiewe stelsels soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap‑ en stabiliteitsbeheer en so aan,  maar die stelsels aan die aktiewe kant soos baanhulp, blindekolwaarskuwing en aanpasbare spoedkontrole of botsingwaarskuwing met noodremhulp is puik gekalibreer. Hy is op sy pos en doen sy werk, maar pla nie aanhoudend oor niks nie.

Ek sal die GLC‑koepee só opsom: Dis ʼn pragtige motor, die enjin is puik en die binneruim pragtig. Ek kan aan geen rede dink hoekom jy nie een sou koop nie. Vir my persoonlike leefstyl sou ek die gewone GLC neem bó die koepee,  maar vir die modebewustes onder ons, sien ek die aantrekkingskrag van die koepee.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLC 220d 4Matic CoupéR1 392 350
Mercedes-Benz GLC 300d 4Matic CoupéR1 447 350

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.