Mercedes-Benz se A-klas verfris

Toe ek sowat drie jaar gelede Mercedes-Benz se nuwe A-klas vir die eerste keer onder hande gekry het, was ek nie aanvanklik uitgeboul nie. Die motor was vir my effens grof en het beslis beter afronding benodig.

Ek het egter intussen al drie modelle van die nuwe reeks onder hande gehad: die A200-sedan, A200-luikrug en die barbaarse A45 AMG! Daar is nog twee modelle in die reeks waarmee ek ʼn tydjie moet deurbring: die A200d-sedan en die A35 AMG.

Mercedes het nou sy A-klas verfris en wat ek wel kan sê, is dat daar min aan die stilering of ontwerp verander is. Die nuwe blikbrein is egter lekker slim en met die “Hey Mercedes”-funksionaliteit toegerus waar mens met die kar kan praat om take uit te voer soos om die radio op ʼn sekere frekwensie in te stel, die lugreëling koeler of warmer te maak en dies meer.

Ek is egter oortuig dat daar baie werk onder die dop gebeur het. Die A200 voel wesenlik meer afgerond én heelwat ligter op brandstof as toe ek hom laas gery het.

Die Mercedes- AMG A45 is ʼn perd van ʼn heeltemal ander kleur – aangedryf deur die wêreld se sterkste 2.0-viersilinderturbopetrol-produksie-enjin wat ʼn verstommende ervaring bied. 0–100 km/h neem ʼn blitsige 3,9 sekondes en hy is elektronies beperk tot 270 km/h, ʼn mylpaal wat hy bitter vinnig haal. Die oomblik dat mens die sport plus- of race-rymodus selekteer, word elkeen van die 415 perde ingespan – 415 perdekrag is gelyk aan 310 kW én hy bied 500 Nm.

Mercedes-Benz se A-klas-reeks het ʼn model vir elke smaak: petrol óf diesel en intreevlak óf bomklapper-AMG.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz A200-luikrug130 kW/270 Nm8,2 sek

225 km/h

5,6 ℓ/100 kmR791 550
Mercedes-Benz A200-sedan130 kW/270 Nm8,3 sek

230 km/h

5,4 ℓ/100 kmR846 550
Mercedes-Benz A200d-sedan110 kW/320 Nm8,4 sek

227 km/h

4,5 ℓ/100 kmR916 200
Mercedes-AMG A 35 4Matic-sedan235 kW/400 Nm4,8 sek

250 km/h

7,3 ℓ/100 kmR1 128 750
Mercedes-AMG A 35 4Matic-luikrug235 kW/400 Nm4,7 sek

250 km/h

7,4 ℓ/100 kmR1 234 550
Mercedes-AMG A45S 4Matic+-luikrug310 kW/500 Nm3,9 sek

270 km/h

8,9 ℓ/100 kmR1 381 550

Die reeks word gedek deur ʼn tweejaar/onbeperkte km-waarborg en ʼn vyfjaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan.

Mercedes-Benz het vir ons meer verduidelik oor sy Agility-program. Eenvoudig gestel lyk dit soos enige huurkoopkontrak, maar daar is ʼn gewaarborgde toekomstige waarde aan die kontrak gekoppel. Daar is ʼn voorafgestelde limiet op hoeveel kilometer die voertuig per jaar kan aflê, en aan die einde van die 36- of 48-maande-kontrak koop Mercedes-Benz die voertuig by jou terug teen ʼn gewaarborgde prys.

Daar is bepalings en voorwaardes, byvoorbeeld hoeveel gery mag word – ongeveer 20 000 km per jaar, ʼn billike toestand waarin die motor moet wees en hoeveel loopvlak daar op die bande moet wees.

Dié program het twee puik uitwerkings gehad vir Mercedes. Omdat Mercedes bepaal teen watter prys hul goeie motors tweedehands in die mark beskikbaar kom, begin hul motors effens beter presteer op herverkoopwaarde teenoor die ander luukse handelsmerke soos BMW, Audi en Volvo.

Vir diegene wat dit kan bekostig, is daar eenvoudig geen kwessie nie. Enige bank of finansieringsprogram wat die risiko vir die koper verlaag, gaan uiters gewild wees, én dan kan Agility-kliënte elke vier jaar ʼn nuwe model aanskaf, óf weer ʼn kontrak sluit vir hul huidige motor – nes hulle kies.

Só lyk die Agility-pakkette op die bogenoemde modelle:

Mercedes-Benz A200-luikrugR14 399 per maand
Mercedes-Benz A200d-sedanR15 899 per maand
Mercedes-AMG A 35 4Matic-sedanR19 599 per maand
Mercedes-AMG A 35 4Matic-luikrugR21 099 per maand
Mercedes-AMG A45S 4Matic+R25 199 per maand

Dié paaiemente is uitgewerk op 10%-deposito met ʼn 48-maande-termyn en ʼn gekoppelde rentekoers van 12,75%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.