Motorfietse: 2022 in ’n neutedop

Die Honda CB500X

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer Gauteng ’n spookdorp word en almal see toe ry. Maar hierdie jaar is anders. Fase 6-beurtkrag, vlak 4-stormwaarskuwings, en die mense van Durban moet Gauteng toe kom om te kom swem. Gelukkig is daar ’n ontsnapping vir my, en ek vind dit op my motorfiets. Die jaar het heelwat meer opgelewer as wat ons verwag het, en die nuwe jaar beloof ook ’n rits nuwe modelle. So, kom ons kyk terug op die jaar wat was.

Ek hoop dit is die laaste artikel waarin ek gaan verwys na die pandemie. Ons land het genoeg uitdagings soos dit is, en die pandemie het nog steeds ’n uitwerking op die motorfietsbedryf. Die grootste hiervan is skeepsvrag. Nie net sukkel die logistiek nie, maar die koste van skeepsvrag het die hoogte in geskiet. Daardie verhoging word ongelukkig gedra deur die eindverbruiker. Die grootkapasiteit-motorfietse raak baie duur, so ons sien dat die sub-500 cc-segment sy kop begin optel het.

Ek is ’n groot voorstander van kleiner fietse. Nie net omdat hulle meer bekostigbaar is nie, maar omdat jy soveel meer genot uit hulle kan put. Hierdie jaar was die grootste nuus seker die bekendstelling van die nuwe Honda CB500X. Ek was verheug toe ek hoor Honda bring uiteindelik hierdie model na Suid-Afrika. Met sy lae gewig, uiters mededingende prys en legendariese Honda-betroubaarheid kan dit die ideale reismaat raak vir enigiemand, hetsy jy pas begin ry het, of al baie ervaring het. Tog was dit net een van ’n rits klein fietse wat ek vanjaar gery het, en nie een het my teleurgestel nie. Die Yamaha MT-03, Voge 300DS, TVS Apache 310 en die KTM RC 390 het elkeen sy plekkie in die mark, en ek kan nie onthou wanneer laas ons soveel verskeidenheid gehad het nie.

Aan die ander kant van die spektrum het Suzuki twee nuwe fietse bekendgestel: die GSX-S1000, en sy toerfietsweergawe, die GSX-S1000GT. BMW het sy K1600-reeks opgeknap en Triumph het die nuwe Tiger 1200 in die Oos-Transvaal losgelaat. Dan het Indian verras met ’n nuwe verspreider en ’n rits nuwe modelle, so ons is bederf met ons keuses.

Die hoogtepunt van die jaar was egter ’n baie spesiale rit saam met Ducati op Mystery Ride 4. Nie net was dit weereens ’n belewenis nie, maar ek kon dit meemaak op Ducati se Supersport 950. Sover dit sporttoerfietse betref, het die Supersport net ’n baie spesiale bekoring. Nie net het ons lekker saamgery en gekuier nie, maar die hele groep het hul beursies oopgemaak vir die JJ Watson-huis vir bejaardes in George. So is baie van die groot kapitaalprojekte by die tehuis afgehandel.

Een Ducati wat vanjaar groot opslae in Suid-Afrika gemaak het, was die Desert X. Ducati hier plaaslik kan nie voorbly met bestellings vir hierdie fiets nie. Ek loer gereeld in by Ducati se vertoonlokaal in Centurion, en hulle kan nie eens vir my ’n toetsrit gee op een nie. Daar is ’n ellelange waglys, en elkeen wat inkom, het reeds ’n baas, so ek sal maar geduldig moet wag.

My grootste Kerswens is dat nog meer mense begin motorfiets ry. 2022 het heelwat nuwe modelle na ons geweste gebring, en 2023 beloof nog meer. Motul bied spesiale opleiding aan vir dames wat wil leer ry, en Suzuki bied gereeld ’n dag op ’n baan aan om ervaring op te bou, so jy het nie meer ’n verskoning nie. Almal behoort ’n motorfiets in hul lewe te hê!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.