Motorverkope daal, uitvoere staan sterk

(Foto: Verskaf)

Daar is verlede maand effens minder voertuie as in die vorige maand verkoop terwyl uitvoere fluks vorder.

Daar is in Oktober 45 445 voertuie plaaslik verkoop, nét minder as die 46 021 die vorige maand. Dit is ook net ʼn raps minder as die 45 966 voertuie wat in Oktober 2022 verkoop is.

Toyota is steeds loshande die voorloper wanneer dit by motorverkope kom, met 12 440 plaaslike verkope, gevolg deur Volkswagen se 6 595 verkope. Suzuki het sy eie rekord laat spat in die derde plek met ʼn fantastiese 4 480 voertuie. In die vierde plek kon Hyundai 2 638 voertuie verkoop en Ford rond die top vyf af met 2 318 voertuie.

Wat uitvoere betref, lyk die prentjie effens anders. Volkswagen was verlede maand met ʼn reusemarge die grootste uitvoerder met ʼn verstommende 12 309 VW Polo’s wat vanuit Gqeberha uitgevoer is. Toyota is in die tweede plek met 7 480 uitvoere, hoofsaaklik Hilux-bakkies wat uit Durban uitgevoer word. Kort op sy hakke is Mercedes-Benz met 7 364 C-klas- motors wat uit Oos-Londen uitgevoer is. In die vierde plek het Ford goed gevaar met 6 544 Rangers wat uit Durban en Port Elizabeth uitgevoer is en die top vyf word deur BMW afgerond met 5 500 X3’s wat uitgevoer is.

Al sukkel plaaslike verkope bietjie in die huidige ekonomie, het uitvoere wesenlik gegroei met 40 302 uitvoere in Oktober teenoor 36 247 in September en ʼn enorme styging teenoor Oktober 2022 se 29 508 uitvoere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.