Nie verniet Suzuki se topverkoper

Ek het so drie jaar gelede die bekendstelling van die huidige generasie Suzuki Swift bygewoon. ʼn Oulike buksie met ʼn merkwaardige verbetering in stilering in vergelyking met sy voorganger. Ek kan wel goed onthou hoe bekommerd ek was dat Suzuki met die Swift te laag mik. Die model wat ek toe onder hande gehad het, was die GL. Wieldoppe en nie veel anders om oor huis toe te skryf nie.

Só het die Swift effens van my radar afgeval. Ek’t wel dié week die bekendstelling van die opgeknapte weergawe bygewoon. Met die eerste oogopslag is dit vir my duidelik dat dit nie meer dieselfde tjorrie is nie.

Dié GLX is werklik mooi. Die gehalte van die spons in die sitplekke voel ook vir my van ʼn beter gehalte. Die sitplekke is lekker gemaklik en die leerbedekte stuurwiel hou mooi vas in ʼn mens se hande. Al die kontroles is mooi ergonomies uitgelê, en veral die raakskerminligtingstelsel met Apple CarPlay en Android Auto werk dooddollies.

Ek en my rymaat vertrek van ʼn hotel in die Waterfall-omgewing in Gauteng. Dit is sommer dadelik duidelik dat daar ʼn reuseverbetering is in die gehalte van die materiale en bougehalte van die binneruim.

Tydens die perskonferensie gee ek die ouens ʼn moeilike tyd oor die 1.2-enjintjie en wil weet hoekom hulle nie die 1.0-turbo bring wat oorsee beskikbaar is nie. Die antwoord is eenvoudig. Dit is bloot nie nodig nie. Die 1.2 trek soos ʼn windhondjie en bied puik brandstofverbruik. As jy meer krag wil hê, skakel net ʼn rat of twee terug en trap hom. Sodra die toere bó 4 000 r/min kom, begin die aanpasbare kleptydreëling mooi inskop en die klein Swift versnel lekker sterk, selfs op die platorand.

Op die pad ry die Swift lekkerder as wat dit sou lyk terwyl hy net daar in die parkeerterrein staan. ʼn Ligte koppelaar met ʼn seepgladde ratwisselingaksie maak van die handrat-model Swift ʼn puik klein stadsbuksie – ʼn mens het werklik nie ʼn outo nodig met die Swift nie.

Die Swift se vering is soepel genoeg om die toestand van ons paaie te trotseer, en die padhouvermoë heeltemal in die kol vir ʼn klein luikrug.

Dit is vir my baie maklik om die opgeknapte Swift op te som. Die GLX weergawe is ʼn enorme verbetering in gehalte en spesifikasie teenoor die GL wat ek drie jaar gelede gery het. Die eerste Swifts wat om en by 2007 in Suid-Afrika aangekom het, was ʼn fantastiese buksies. Die modelle wat gevolg het, het egter afgewater gevoel. Met dié opknapping is Suzuki weer op koers. Die visuele opknappings en nuwe kleurpakette maak die Swift ʼn aantreklike opsie tussen voertuie soos die Polo en Fiesta – dit teen meer as R100 000 minder!

Die reeks lyk só:

Suzuki Swift 1.2 GA handrat61 kW/112 Nm4,9 l/100 kmR180 900
Suzuki Swift 1.2 GL handrat61 kW/112 Nm4,9 l/100 kmR199 900
Suzuki Swift 1.2 GL outo61 kW/112 Nm4,9 l/100 kmR214 900
Suzuki Swift 1.2 GLX handrat61 kW/112 Nm4,9 l/ 100 kmR218 900
Suzuki Swift 1.2 GLX outo61 kW/112 Nm4,9 l/100 kmR234 900
Suzuki Swift Sport 1.4T handrat103 kW/230 Nm6,1 l/100 kmR336 900
Suzuki Swift Sport 1.4T outo103 kW/230 Nm6,1 l/100 kmR356 900

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/30 000 km-diensplan en 5 jaar/200 000 km-waarborg.

Ons gaan weer tyd met die Swift deurbring en sal dan verslag doen oor hoe hy hom in die daaglikse verkeer en roetine gedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.