Nuwe modelle en verspreider vir Indian Motorcycles

(Foto: Beam Productions/Daniella Kerby/Gerrit Erasmus)

Indian-motorfietse is nou al ’n geruime tyd in Suid-Afrika beskikbaar. Trouens, ek het al die eerste Scout-model in 2017 getoets. Dan was daar die prettige FTR en die toerfiets, die Chieftan Dark Horse. Elkeen van hierdie fietse het ’n unieke karakter en toepassing. Die afgelope paar jaar was dinge egter stil by Indian. Die pandemie het ook sy rol gespeel en die plaaslike handelaar het gesukkel om nuwe modelle ingevoer te kry.

Vroeër vanjaar het die maatskappy Tuning Fork die verspreiding van Indian se modelle oorgeneem. Tuning Fork is ook die verspreider van Yamaha-produkte; van motorfietse tot musiekinstrumente, en selfs bote. Die hele inventaris van Indian-onderdele is oorgeneem, en hulle hou tans oor die R60 miljoen aan voorraad. Met die nodige kontantinspuiting kon hulle nou die nuutste Indians invoer en ons is genooi om twee dae op hierdie fietse deur te bring.

Tans is daar net twee handelaars: een in Lynnwood, Pretoria, en die ander een het verskuif vanaf Melrose Arch na World of Yamaha se gebou in Sandton. Die nuwe vertoonlokaal lyk baie goed, en jy kan heelwat Indian-bybehore daar koop. In die voorportaal is ons deur sewe nuwe Indians begroet. Daar was ’n Scout, ’n Bobber, twee variante van die nuutste Chief, die nuwe FTR Carbon, ’n Vintage, en die fiets waarna ek die meeste uitgesien het, die nuwe Challenger. Ek het al baie berigte oor hierdie fiets gesien, en om hom nou uiteindelik in lewende lywe te sien, was opwindend.

Die beplande roete vir die dag was ’n kort roete tot net buite Parys, met vier stoppe waar ons moes motorfietse ruil. Dit het beteken dat ons nou nie juis lang afstande sou aflê op elke fiets nie, maar eerder indrukke sou kry van elke model.

Eerste aan die beurt was die nuwe FTR1200Z R Carbon, om sy volle doopname te gebruik. Dit is ’n baie aggressiewe kaalfiets met baie koolveselpanele. Vir die eerste stukkie van die roete in Johannesburg se verkeer was dit die regte keuse. Die fiets hanteer soos ’n droom, en is verbasend gemaklik vir so ’n aggressief gestileerde fiets. Die eerste stop het hopeloos te gou gekom.

Ek was toe herenig met die Scout, afgewerk in die mooiste wit verfwerk. Die Scout sal Indian se brood-en-botter-model wees. Die fiets is laag, eenvoudig en heeltemal mak. Dit behoort die ideale fiets te wees vir beginners wat iets anders soek. Alles was nog net soos ek dit onthou het, die eenvoud vanself.

Die nuwe Challenger het my totaal oorrompel. Ek het heelwat groot toerfietse vanjaar gery, en die Challenger hoef nie een aks terug te staan vir die kompetisie nie. Verbeel jou ’n luukse gemakstoel met twee wiele en ’n reuse-enjin. Die Challenger gebruik ook net die beste komponente, soos Brembo-remme en Fox-vering. Op hierdie betrokke stukkie pad kon ek darem etlike skerp draaie beleef, en die groot toerfiets het my verbaas.

In Parys het ek oorgeklim op ’n Chief met die mooiste groen afwerking. Die Chief beskik oor ’n aantreklike, ronde TFT-raakskerm. Die skerm werk selfs met ’n handskoen aan en bied twee verskillende uitlegte vir die instrumentasie en ook navigasie. Die betrokke Chief het oor ’n windskerm beskik wat my kop vreeslik rondgegooi het. Eers later het ek uitgevind jy kan dit maklik afhaal.

Ons het die aand oorgeslaap by The Duckpoint Venue en net voor aandete op ’n bootvaart gegaan op die Vaalrivier. Natuurlik is die bote deur Yamaha-enjins aangedryf. Tydens die kort sakesessie is die hele modelreeks uiteengesit en ook die pryse van die fietse bekend gemaak. Jy moet maar sterk staan as jy deur die pryslys blaai. Ons liewe geldeenheid maak dit nie maklik nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Die volgende oggend het ek eers die Vintage gehad om mee te ry. Hierdie fiets het baie chroom- en leertossels, net soos die Amerikaners daarvan hou. Dit is weereens ’n fiets wat sinoniem is met gemak. Dit is nou regtig ’n volwaardige langafstand-toerfiets.

Die laaste twee fietse van die dag het my nie veel beïndruk nie. Dit was ’n Bobber Twenty en die ander Chief-variant. Hoewel die Bobber uitermatig gemaklik is, het dit die opsionele kort uitlaatpype gehad. Die klink baie goed, maar ná een kilometer sing jou ore. Die ander Chief se voetruste was, vir my lengte, op ’n baie ongemaklike posisie. Nietemin, ek is seker daar sal iemand wees wat sal aanklank vind by hierdie modelle.

Noudat Indian weer goed op dreef is, sal ek meer tyd met elke fiets kan deurbring en dan meer kan uitbrei op elke model. As jy in Kaapstad, Durban of Bloemfontein bly, het ek goeie nuus. Indian beoog om hul handelaarsnetwerk uit te brei na hierdie sentra in 2023. Een tema wat ons gereeld gehoor het oor die twee dae was die feit dat hierdie fietse uiters betroubaar is. So, as jy hou van hierdie styl fiets, maar nie na die ander Amerikaanse handelsmerk wil kyk nie, dan behoort die Indian die antwoord te wees.

Pryse:

Model 
ChallengerR 750 000
Chief Bobber Dark HorseR 540 000
Chief BobberR 500 000
ScoutR 325 000
Scout BobberR 335 000
Scout Bobber TwentyR 350 000
FTR1200Z R CarbonR 430 000

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.