Nuwe motors vir die nuwe jaar

2023 beloof om groot opwinding in die motorbedryf te bring met talle nuwe modelle wat dié jaar die lig sal sien – hier is ʼn paar wat ons aandag getrek het.

Kom ons begin laag in die mark. Suzuki se vyfdeur-Jimny gaan dalk, maar net dalk, nog in 2023 in Suid-Afrikaanse vertoonlokale beskikbaar wees. Dit is steeds die huidige model, net ʼn bietjie gerek met twee bykomende deure, meer ruimte en ʼn groter kattebak. Ek is seker een van die grootste Jimny-liefhebbers – en nou kan ek my hele gesin inpas.

Ek karring al vir jare aan Renault. Daar is ʼn Suid-Amerikaanse produk wat die Suid-Afrikaanse mark op sy kop gaan draai. Die produk se naam is Oroch. Dit is ʼn Renault Duster, maar in dubbelkajuitbakkie-vorm. Dink net, ʼn dubbelkajuitbakkie met ʼn 1.5‑dieselenjin en waarskynlik ʼn prys van minder as R400 000. Ek soek een!

Hoër op in die mark sit BMW se pragtige nuwe X1. Dit is ʼn C-segment‑sportnutsvoertuig. Nie net is die ontwerp van die nuwe X1 pragtig nie, maar ons sal ook ʼn iX1 kry… ʼn volle elektriese model. As ons na hul strategie met hul iX3 kyk, staan ons ʼn kans dat die iX1 heelwat minder as R1 miljoen sal kos. Ek sien daarna uit.

Ook uit BMW se stal is die fantastiese M2. Opinies is uiteenlopend oor die ontwerp, maar BMW was nog altyd meesters van opwindende blitsbuksies. Die nuwe M2 beloof om getrou te bly aan die reputasie.

Saam in die hoëverrigting-kategorie sit twee ander vuurpyle. Een is Audi se RS6 Performance – ʼn monsterstasiewa. Beslis die mooiste stasiewa na my mening. Mercedes-AMG wil ook hul hoed in die kryt gooi met hul C43. Ons het die motor al in Oos-Londen gesien en as passasier daarin gesit. Die C43 gaan beïndruk as hy eers beskikbaar is.

Mitsubishi het ʼn produk wat al vir jare my aandag trek – die Outlander. Dis ʼn jammerte dat ons nie die Outlander PHEV in Suid-Afrika kry nie. Die PHEV wen al jare lank allerhande toekennings reg oor die wêreld as die topverkoper in die PHEV-segment. Ons sal aanvanklik die nuwe ontwerp te sien kry, maar die PHEV word nog vir Suid-Afrika ondersoek.

Ek is deesdae ʼn bietjie allergies vir sportnutsvoertuie want dit voel asof dit al is wat ons kry, maar Mercedes-Benz se pragtige nuwe EQE sal vanjaar op ons paaie gesien word. ʼn Uiters moderne ontwerp, met klassieke weelde in die binneruim.

Wat is Suid-Afrika sonder bakkies? Die nuwe Volkswagen Amarok sal in 2023 plaaslik bekendgestel word.

Land Rover se Defender is ʼn fantastiese voertuig. Ons kry reeds die 90- en 110-modelle en Land Rover sal vanjaar die 130 by die reeks voeg. Ek wat drie kinders het, gereeld karavaan sleep en altyd van ekstra spasie hou, dink die groter Defender 130 gaan ʼn puik gesinsvoertuig wees wat elke luuksheid bied, boonop met 4×4-vernuf wat die bestes sal kan uitstof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Pragtige karre. Asemrowende pryse? In S.A. gaan nuwe Europese voertuie seker bykans onbekostigbaar word. ‘n Mens sien dit reeds duidelik in die geweldige toename van Chinese fabrikate, wat uitstekende waarde vir geld bied.

Koos 100 ·

Brendon. Ek is bevrees dat die motors se pryse die hoogte in gaan skiet. Ons ekonomie en rand waarde val daagliks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.