Nuwe Opel-bussie betower

Deur Bernie Hellberg Jr

Die woord “Zafira” herinner my aan my kinderdae toe kulkunsspeletjies net sou werk as jy die regte “towerwoord” sou sê. Zafira is egter die naam van Opel se luukse veeldoelvoertuig en is g’n vreemdeling op die land se paaie nie, aangesien hy reeds sedert 1999 in verskeie gedaantes plaaslik beskikbaar is.

In sy vierde generasie het die Zafira ontpop in ʼn luukse bussie wat, prysgewys, die kompetisie behoorlik opdraande behoort te gee, en ons het hom in die Magaliesburg-omgewing bestuur. Saam met die gedaantewisseling is sy naam ook effe aangepas, en heet hy nou Zafira Life.

Wat ʼn mens eerste opval omtrent die nuwe Zafira Life is hoe hy sedert sy eerste generasie gegroei het van ʼn vyfsitplek gesinsmotor, tot vandag se sewe- of agt-sitplek luukse passasierkarwyer. Albei modelle – die intreevlak Edition en modieuse Elegance – is ewe lank (5,3 m) en ewe breed (2,01 m, die naas-breedste in sy klas), en lyk op die oog af amper identies – dit is vir mode-sensitiewe kopers belangrik om nie af te steek teen duurder modelle nie. Ek hou van die Zafira Life se stilering. Dit is aantreklik en modern, tog nie só futuristies soos sy Hyundai Staria- mededinger nie.

Die Zafira Life se binneruim trek die meeste voordeel uit die voertuig se lekker groot afmetings. Of jy die Edition met sy 2+3+3 sitplek-konfigurasie verkies of die Elegance-model wat sewe passasiers in leerbedekte luuksheid vervoer, albei het beskikbare kattebakspasie van ʼn ruim 1 060 ℓ, wat nagenoeg dubbel die volume is van ʼn standaard sportnuts. Boonop is daar baie stoorplek in die kajuit, en spog elke ry sitplekke met ʼn 12 volt-herlaaier vir slimfone en dies meer. Uniek aan die Zafira Life is ʼn 220/230 volt-kragprop agter die bestuurdersitplek, vir toestelle soos ʼn skootrekenaar of ʼn kampeeryskas wat meer elektriese oemf kort.

Met die Edition-model word die Zafira Life met heelwat tegnologie toegerus, en in die Elegance nóg meer. Albei kry outomatiese klimaatbeheer met ʼn sentrale konsole vir die agterste passasiers. Die seweduim-raakskerm wat Apple CarPlay en Android Auto, asook navigasie as standaard insluit, is betreklik klein teenoor dié van die kompetisie. Daar is ook nie ʼn slimfoonherlaaier soos in die Hyundai Staria nie, wat beteken slegs een apparaat per voorste passasier kan op ʼn slag gelaai word. Daar is spoedbeheer op albei modelle, sowel as parkeersensors voor en agter, en ʼn 180 grade-trurat-kamera wat nodig is om die ellelange bus makliker te parkeer. Aan die veiligheidsfront is daar sluitwerende remme met remkragverspreiding en noodrembystand, asook stabiliteitsbeheer, blindekolwaarskuwing, en ʼn nuttige kinderslotknoppie voor, wat die skuifdeure aan albei kante beveilig wanneer die kleinspan ook aan boord is.

Hoewel ek nie noodwendig die topmodel in ʼn reeks sou kies nie, het die Elegance-weergawe tog waarde as jy ʼn luukse bus nodig het. Teen R869 900 gee Opel jou elektriese sitplekke met verhitting en ʼn masseeropsie, elektriese skuifdeure, ʼn panoramiese sondak bó die tweede ry “BBP”-sitplekke, en ʼn opvoutafeltjie tussen laasgenoemde. In eerlikheid is dié ietwat van ʼn onnodige foefie, maar sou jy wou belê in ʼn kantoor op wiele, sal so ʼn tafeltjie waarskynlik nuttig wees.

In en om die Magaliesburg-omgewing het ek geleentheid gehad om albei modelle deur hul passies te sit. Vir sy prys (die Edition kos R749 900) is die Zafira Life se 2.0-liter turbodieselenjin en 8-spoed outomatiese ratkas kombinasie fris genoeg vir dié bus. Al is die 20-kW en 60-kW verskil tussen die Zafira Life en die Staria (2,2-liter turbodiesel) opmerkbaar, wen jy weer wat brandstofverbruik betref, en behoort die Opel in die omgewing van 6,5 ℓ/100 km diesel te gebruik.

Teen dié tyd is dit nie meer ʼn geheim dat ek van bussies hou nie, en dit is vir my ʼn riem onder die hart dat méér van hulle nou beskikbaar raak. Die Zafira Life staan nie ʼn tree terug vir enige ander bussie nie, en boonop plaas sy trotse Duitse herkoms hom in ʼn liga waar duurder, maar nie noodwendig beter, produkte vir té lank koning gekraai het.

Die reeks lyk só:

Zafira Life 2.0TD Edition110 kW/370 NmR749 900
Zafira Life 2.0TD Elegance110 kW/370 NmR869 900

Opel dek die Zafira Life met ʼn vyf jaar/100 000km-waarborg, en ʼn vyf jaar/100 000 km-diensplan met diensintervalle van 15 000 km wat ook ingesluit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Oukei, maar waar is die OPC model? Ek het jare gelede amper ‘n Zafira OPC gekoop. Want dit sou die perfekte kar vir my familie en myself gewees het. As General Motors se diens nie so swak was nie, sou ek een gekoop het. Dis jammer hulle doen nie meer daardie kragtige model nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.