Renault knap twee van sy Techroad-modelle op

Die eerste Renault-model om die Techroad-opknapping te kry is die Sandero, ʼn gewilde buksie in die Suid-Afrikaanse mark. Die Sandero se goeie spasie en hoë spesifikasievlak was nog altyd aantreklik. Sy groot proporsies vir die segment en effe beter grondvryhoogte maak van die Sandero ʼn puik buksie. Die 900 cc driesilinderturbopetrolenjin bied ʼn billike 66 kW en 135 Nm terwyl hy 5.4 ℓ/ 100 km kan handhaaf.

Die Techroad-behandeling sluit in twee ekstra lugsakke, elektriese vensters agter en elektriese spieëls. Daar is parkeerhulp mét ʼn truratkamera, spoedbeheer én navigasie – uniek in dié segment. Leerbekleedsel is ʼn opsionele ekstra, maar ek self hou van die ontwerp van die unieke Techroad-lap.

Die Sandero reeks lyk nou só:

Renault Sandero ExpressionR209 900
Renault Sandero Stepway ExpressionR223 900
Renault Sandero Stepway PlusR243 900
Renault Sandero Stepway TechroadR243 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km waarborg en 2 jaar/ 30 000 km diensplan.

Die tweede Techroad-opgeknapte buksie is Renault se Duster.

Dit is geen geheim nie dat ek dink die 1.5 dCi Duster is ʼn puik gesinsbuks. Dit bied fantastiese spasie en goeie gehalte in die nuwe model. Die 1,5 viersilinderturbodieselenjin bied ʼn fantastiese 80 kW en 250 Nm. Dit gepaard met Renault se 6-spoed EDC outokas bied ʼn verstommende 4,8 ℓ/ 100 km. Die Duster het baie goeie grondvryhoogte van 210 mm … klasleidend in dié segment. Daar is twee enjins, ratkaste en dryfstelsels beskikbaar in die reeks. 1.6 petrol, 1.5 diesel, handrat en outo en twee óf vierwielaandrywing.

Die Duster Techroad se inligtingstelsel bied CarPlay en Android Auto en die Duster bied ʼn indrukwekkende spesifikasievlak met klimaat- en spoedbeheer, navigasie en wegtrekhulp. As ʼn gesinsbuks dink ek die Duster bied beter spasie as die kleiner sportnutse waarteen hy meeding soos Hyundai se Venue en VW se T-Cross, teen beter pryse as mens die spesifikasie in ag neem.

Die Duster-reeks lyk nou só:

Renault Duster 1.6 Expression 4×2 handratR278 900
Renault Duster 1.5 dCi TechRoad 4×2 handratR316 900
Renault Duster 1.5 dCi TechRoad 4×2 outoR350 900
Renault Duster 1.5 dCi Dynamique 4×4 handratR350 900
Renault Duster 1.5 dCi Prestige 4×2 outoR363 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km waarborg en 3 jaar/ 45 000 km diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.