So gemaklik soos ʼn ou paar rooi velskoene

Foto: Verskaf

Kan jy David Kramer en sy Volksiebus oor die Tierkloofpas onthou? Ek kan. Ek was ʼn laaitie toe daai advertensies op die televisie was en my bors het altyd opgeswel van trots omdat my pa ʼn paar Volksiebusse gehad het. Eers ʼn lugverkoelde 2.0-Microbus met ʼn outomatiese ratkas. Toe ʼn 2.1i met brandstofinspuiting en ʼn 4-spoedhandrat. Toe kom die juweel … die 2.5i Microbus met Audi se 5-silinderenjin en ʼn 5-spoedhandrat. Daai bus was fantasties.

Ek self hou nou nogal van ʼn bussie en ons gesin van vyf hou baie daarvan om te reis. Ons verste reistogte was nog altyd die lekkerste in ʼn bus. Volkswagen se nuwe Caravelle gaan vir baie gesinne ʼn droom wees.

Foto: Brendon Staniforth

Die 2.0-viersilinder-biturbodiesel pronk nou met 146 kW en 450 Nm. Die enjin is gepaard aan ʼn 7-spoed-DSG-dubbelkoppellaarratkas. Daai krag word wel dan aan al vier wiele gestoot met Volkswagen se 4Motion-vierwielaandrywingstelsel.

Daar is ʼn paar opknappings op die T6.1-weergawe van Volkswagen se bussie. Daar is nuwe LED-ligte voor en agter, ʼn nuwe sierrooster en voorste buffer. Die kleure is ook ʼn bietjie verander – maar aan die binneruim is waar die grootste opknappings kom.

Foto: Brendon Staniforth

Kom ons begin voor. Daar is ʼn nuwe paneelbord met VW se digitale instrumente en ʼn 10.2”-raakskerm-inligtingstelsel. Vir die eerste keer in die VW-handelsmerk kan ʼn mens aan Android Auto en Apple CarPlay koppel sonder ʼn draad. In die konsole is daar ʼn draadlose laaier vir jou selfoon.

Verhitte sitplekke en klimaatbeheer hou dinge gemaklik in die bussie, asook die armleunings aan elke kant van die twee voorste sitplekke. Agter het die Caravelle sy gewone opset van vyf sitplekke, twee in die middelste ry, ʼn tafeltjie en dán drie in die agterste ry.

Foto: Verskaf

Op die pad voel die nuwe enjin voorwaar verfyn en bitter sterk. Die vierwielaandrywing vreet selfs slegte grondpaaie op en ons het met die bekendstelling ʼn reuseberg geklim en die Caravelle was piekfyn. Indrukwekkend. Onder die vel is daar ʼn nuwe kruiswindhulpstelsel wat van die remme gebruik maak om die bussie reguit op die pad te hou, sou ʼn wind hom skielik ruk.

Vir die eerste keer kom die 6.1-weergawe van die Transporter-reeks met hulpstelsels soos sleepwa en parkeerhulp. Albei is stelsels waar die kar self ʼn sleepwa stuur, en wel waar die bestuurder die rigting wys waar jy die sleepwa wil hê met die spieëltjie se knoppie. Die ander stelsel soek self ʼn parkering en doen al die stuurwerk self.

Foto: Verskaf

Daar is ses weergawes in die Transporter-reeks. Pick Up in enkel- en dubbelkajuit, Panel Van, Crew Bus, Kombi, Caravelle en California Coast. Daar is drie enjins – almal 2.0-turbodiesels. Die eerste weergawe bied 81 kW, die tweede een 110 kW en die baas van die plaas 146 kW.

Ons gaan weer tyd met die Caravelle deurbring – maar sover is ek vir ʼn ses geslaan. Die Caravelle bly die maatstaaf waarteen die meeste ander bussievervaardigers hulself sal meet.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Pick Up enkelkajuit 2.0 TDI 81kW LWBR412 800
Volkswagen Pick Up enkelkajuit 2.0 TDI 110 kW 4Motion DSG LWBR466 100
Volkswagen Pick Up dubbelkajuit 2.0 TDI 81kW LWBR485 300
Volkswagen Pick Up dubbelkajuit 2.0 BiTDI 146 kW 4Motion DSG LWBR590 800
Volkswagen Paneelwa 2.0 TDI 81 kW LWBR530 600
Volkswagen Paneelwa 2.0 TDI 110 kW DSG LWBR568 700
Volkswagen Crewbus 2.0 TDI 81 kW LWB 10-sitplekR612 000
Volkswagen Crewbus 2.0 TDI 110 kW 4Motion DSG LWB 5-sitplekR639 000
Volkswagen Crewbus 2.0BiTDI 146 kW 4Motion DSG LWB 8-sitplekR752 700
Volkswagen Kombi 2.0 TDI 81 kW TrendlineR697 700
Volkswagen Kombi 2.0 TDI 110 kW DSG TrendlineR726 000
Volkswagen Kombi 2.0 BiTDI 146 kW 4Motion DSG Trendline PlusR871 800
Volkswagen Caravelle 2.0 BiTDI 146 kW 4Motion DSG HighlineR1 149 400
Volkswagen California Coast 2.0 BiTDI 146 kW 4Motion DSGR1 196 500

Die Pick Up-, Panel Van- en Crew Bus-reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/60 000 km-diensplan en 2 jaar/onbeperkte km-waarborg. Die Kombi-, Caravelle- en California-reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/60 000 km- omvattende instandhoudingsplan en 3 jaar/120 000 km-waarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.