Só sleep mens in styl

Ons het in 2021 en 2022 by ATKV Drakensville in Natal gekamp. Werklik ʼn lekker kampplek, maar die weer was vir ons eenvoudig net te nat. In die Junie‑Julie-skoolvakansie in 2021 kamp ons nuwe vriende raak by ATKV Eiland-Spa. Hulle oortuig ons dat Hartenbos dié plek is en 1 November 2022 bespreek ons by Hartenbos vir Desember 2023. Staanplek D19… ons kan nie wag nie.

So teen die middel van verlede jaar begin ek wonder waarmee ons gaan sleep. Ek is werklik lus vir ʼn bussie – dit bied goeie spasie, sleep gewoonlik goed en daar is oorgenoeg plek vir elke kind om sy eie nes te skrop sonder om ʼn ander een s’n te verwoes. By die bekendstelling van Toyota se GR-Corolla word ons in ʼn pragtige Quantum VX rondkarwy. Ek vra vir Riaan, senior bestuurder vir kommunikasie, of ek daai einste bus kan gebruik – hy het reeds ʼn sleepstang aan – en hy stem in.

Toyota se Quantum VX Premium is die luuksste bus tans op die mark in Suid-Afrika. Dié sessitplek-weergawe het net vier uitskoprusbanke agterin, soos La-Z-Boy-stoele – elkeen elektries verstelbaar, verhit en met ʼn voetrus.

Onder die kap sit Toyota se fantastiese 2.8 GD-6‑viersilinderturbodieselenjin en ʼn 6-spoed‑wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas. In dié bus is die enjin gestel om 115 kW en 420 Nm te bied. Die Quantum is werklik lekker breed. Ons sleep ʼn Sprite Swing. Die Swing kruip mooi agter die bussie weg – minder windweerstand.

Op 18 Desember stel ons koers vir Colesberg. Ons slaap daai aand by Huis Visagie, Hoërskool Colesberg se koshuis. Teen R200 per persoon vir die nag is dit ʼn ware winskopie. Ons trek omtrent 10:00 by die huis weg en vat dit rustig uit Pretoria, deur Johannesburg. Die oomblik toe die N1 lekker voor ons uitstrek, stel ek die spoedkontrole op 110 km/h en sit terug terwyl die kilometers verby toer. Op Bloem begin die swart wolke bokant ons draai en die trekkers in die landerye aan die regterkant maak enorme bruinrooi stofwolke wat kilometers ver strek. Tussen Bloem en Colesberg, soos ʼn perfekte lyn oor die N1, ry ons in die storm in. ʼn Verskriklike wind, 90 grade na regs. Ek trek dadelik terug 100 km/h toe, maar die wind en reën raak in ʼn stadium só erg dat ek die spoedkontrole afskakel, met die voet ry en terugsak 80 km/h toe. Kort voor lank is ons veilig in Colesberg, nie moeg nie en werklik verstom met die bus se sleepvermoë. Dag een is 701 km, en ons haal 13,9 ℓ/100 km, of 7,2 km/ℓ in die ou taal.

Dag twee is 583 km. Ek wil deur Graaff-Reinet ry en vir die kinders die pragtige kerk wys. Die eerste stuk tussen Colesberg en Middelburg waai die wind vir ʼn vale, reg van voor – op die neus. Ek begin in ʼn stadium paniekerig raak toe die brandstofmeter wys 19,2 ℓ/100 km! Die wind het darem ophou waai en ons herlaai met ʼn Wimpy-ontbyt in Graaff-Reinet. Soos ons nader aan die kus kom, val die brandstofverbruik heeltyd. Die Outeniquapas is vir my werklik pragtig, en dis nie meer lank nie. Net ná twaalf trek ons by Hartenbos in… 13,2 ℓ/100 km. Die bus het soos ʼn droom gesleep.

Op 3 Januarie is dit tyd om huis toe terug te keer. Ons wil Meiringspoort om ry Beaufort-Wes toe en dan Colesberg – 596 km en die keer klim ons die passe. Twee passe, ʼn bietjie wind en lekker warm temperature langs die pad,  maar ons stop die aand weer by Huis Visagie. Met die terugkeer het ek besluit om slegs teen 100 km/h te sleep en te sien hoe die bus maak – 13,2 ℓ/100 km en net nog meer stabiel. Werklik rustig.

Op 4 Januarie is die laaste been. Die Gariepdam se wal loop glo oor, so ons wil daar aangaan en die kinders wys – dan die N1 al die pad huis toe! Ons word begroet deur pragtige weer – daar trek nie eers ʼn luggie nie. Ons laat die pragtige gesig van die damwal agter en stel koers vir Pretoria. Op die N1 stel ek die spoedkontrole vir 100 km/h – 1 650 r/min in sesde rat en so toer ons rustig tot by die huis. Die 11,6 ℓ/100 km – of 8,6 km/ℓ – met die karavaan aan is werklik goed.

Soos ons die karavaan onder die afdak instoot, dink ek, wat ʼn masjien! Ons is moeg gery en die boude is lam, maar jy is nie uitgeput nie. Die karavaan loop klopdisselboom agter die Quantum.

Ons gaan Desember weer Hartenbos toe. Ek wil weer met ʼn bus sleep, maar een ding wat ek sal doen, is om na te slaan waar al die koöperasies op ons roete is en uit te vind of hul diesel bied. Die grootste verskil in dieselprys wat ons gekry het, was R4 per liter. Op ʼn 80 liter-tenk is dit R320 wat jy kan bespaar om net by die koöperasie in te gooi.

Indien jy in die mark is vir ʼn nuwe sleeptuig en ʼn bussie sal oorweeg, gaan toetsbestuur beslis ʼn Quantum VX… alles loop altyd reg, Toyota!

Die bussie lyk só:

Toyota Quantum VX Premium 6-seat115 kW/420 Nm8,7 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km‑waarborg

9‑dienste‑diensplan

R1 194 600

Die kompetisie lyk só:

Ford Tourneo Custom 2.0SiT SWB Limited136 kW/415 Nm6,7 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km‑waarborg

Diensplan opsioneel

R843 900
Kia Carnival 2.2 CRDi SXL148 kW/440 Nm6,8 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km‑waarborg

6 jaar/90 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 148 995
Hyundai Staria 2.2D Luxury130 kW/430 Nm8,7 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km‑dryfstelselwaarborg

7 jaar/105 000 km‑diensplan

R1 263 900
Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI 146 kW Highline 4Motion146 kW/450 Nm8,2 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 464 800
Mercedes-Benz V250d Avantgarde140 kW/440 Nm7,4 ℓ/ 100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg

7 jaar/140 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 753 788

Die Ford is ʼn winskoop teen die prys, maar nie heeltemal so luuks soos die ander nie. Bussies sleep werklik fantasties – gaan toets een, jy sal beïndruk wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.