Suzuki Boulevard M109R – die Japannese alternatief

(Foto: Brian Cheyne)

Daar is sekere motorfietsterme wat net nie mooi in Afrikaans vertaal kan word nie. Ek voel soms lus om ’n prys uit te loof vir iemand wat kreatiewe Afrikaanse woorde kan skep vir terme soos ’n “cruiser” of “café racer”. Of soos in die geval van die Suzuki Boulevard, ’n “power cruiser”.

Die Suzuki Boulevard M109R het sy buiging in 2006 gemaak, en hy was sy tyd vooruit met moderne stilering, hoëgehalte-afwerking en brute krag. Ek het altyd Boulevards sien ry en bly wonder hoe die ryervaring sou wees. Gelukkig het Suzuki nou een beskikbaar gemaak vir die media en ek kon uiteindelik ’n naweek op een rondrits.

(Foto: Brian Cheyne)

In hierdie klas is daar heelwat fietse wat die kroon wil dra as die grootste en sterkste. Die Triumph Rocket 3 wen die titel vir die grootste enjin, en die Ducati Diavel sal beslis ’n wedren van robot tot robot wen. Dan wil ek my verstout om die BMW R18 Pure ook deel van hierdie groep te maak. Waar die Suzuki egter loshande die wenner is, is wat sy prys betref. Teen R226 500 is die Suzuki net kort van R100 000 goedkoper as die R18.

Die M109R is ook ’n groot fiets, maar hy dra sy gewig baie laag. Die 109 in die naam dui op die enjin van 109 kubieke duim, oftewel 1783 cc. Die twee silinders is teen 54 grade gemonteer wat die hoogte van die enjin verminder. Die hele fiets is net oor ’n meter hoog, spieëls ingesluit! Die saal is ’n skamele 705 mm van die grond af. Die vloeiende lyne gee die indruk van sy versteekte krag, maar dit is ook ’n ontwerp wat nie in almal se smaak val nie. Die aandrywing is deur middel van ’n as, want ek dink ’n ketting sal maar swaar leef met hierdie enjin. Daar is baie chroom oral, maar Suzuki het ook ’n weergawe wat in swart afgewerk is.

Die saal is uiters gemaklik en die brandstoftenk sprei jou bene nogal. Dit is duidelik dat Suzuki die tenk ook so laag moontlik wou maak en hom toe baie breed gemaak het. Op die tenk is die analoogspoedmeter en twee klein vloeikristalskermpies vir brandstofvlak en ritinligting. Dit lyk amper soos ’n polshorlosie uit die 80’s. Die handvatsels lyk soos iets wat hulle uit ’n gimnasium geneem het en bokant dit sit ’n bykomende vloeikristalskerm met ’n toereteller. Dit wys ook jou huidige ratposisie. Die sleutelgat sit aan die kant van die fiets wat ’n rukkie vat om aan gewoond te raak. Die voetkontroles is voor gemonteer wat jou ’n uitgestrekte ryposisie gee.

Die R in die benaming wys op die fiets se sportiewe kant, en heelwat komponente is van Suzuki se GSX-R superfiets geneem. Die voorvurke is onderstebo gemonteer en die fiets het dubbele skyfremme voor.

Die enjin luier bedrieglik stil en wek die indruk dat die Boulevard nie veel skop gaan hê nie. Dit het my presies 10 m geneem om te besef daardie indruk is heeltemal verkeerd. Selfs met ’n koue enjin moes ek baie let op wat ek met my regterhand doen. Daar is nie sprake van elektroniese hulpmiddels nie, so ’n oorywerige regterhand kan jou gou in die moeilikheid kry. Teen die tyd dat ek by die snelweg gekom het, was ek tuis op die fiets en kon ek hom vrye teuels gee. Nog ’n verrassing was dat die ratkas net vyf ratte het, maar dit is meer as genoeg vir die wringkragryke Boulevard. Daar is nie windbeskerming nie, en met die uitgestrekte ryposisie moet jy behoorlik klou as jy vinnig begin ry.

Met sy 240 mm-reuse-agterwiel het ek verwag dat draaie ’n probleem gaan wees, maar tog is die fiets heel hanteerbaar. Maak net seker jou voete sit hoog genoeg op die voetrusse, want my hakke het gou die teerpad geraak. Die kraglewering is uiters verslawend. Met soveel wringkrag kan jy maar op enige spoed in enige rat wees, maar wanneer jy die versneller draai, is jy weg.

Die Boulevard was ’n uiters verfrissende fiets om te ry en het my verwagtinge oortref. Die enjin loop seepglad, en jy weet hy sal vir ewig hou. Die afwerking is van hoë gehalte en die fiets vertoon glad nie te sleg nie. As hierdie tipe fiets dus jou aandag trek, gaan toetsbestuur gerus een, jy sal aangenaam verras wees.

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karel Kobus Kruger ·

Suzuki moet maar net op my nommer druk indien hulle iemand soek om die fiets in Kaapstad af te lewer. Ek sal my eie verblyf en vliegkaarjie terug betaal. Nog beter, ek sal n Rocket of R18 weer terug ry, ook gratis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.