SYM NHT 200 – Nog ’n kleinkapasiteit-avontuurfietsie

Foto: Brian Cheyne

Daar het nou al heelwat kleinkapasiteitfietsies my pad gekruis die laaste jaar of wat. Ek hoop dit is ’n aanduiding dat al hoe meer mense begin motorfiets ry. Die nuutste toevoeging tot die Taiwannese vervaardiger SYM se katalogus is die NHT 200.

My eerste kennismaking met SYM se miniatuuravontuurfietsies was die NHT 125. Die term “avontuurfiets” gebruik ek maar ligtelik hier. Die fiets is gestileer soos dit ’n avontuurfiets betaam, maar met net 125 cc om die fietsie vorentoe te beur, gaan jy dit nie ver van die teerpad waag nie. Ons lisensiestelsel maak voorsiening vir 16-jariges om fietse te ry tot en met 125 cc. Dit het van die NHT 125 eintlik die ideale beginnersfiets gemaak. Maar nou word jy 18 en jy soek so ʼn bietjie meer oemf in dieselfde fiets. En daarvoor is die NHT 200 net die ding. Ek verkies dat mense geleidelik opgradeer na motorfietse met ʼn groter kapasiteit namate hul ervaring groei.

Foto: Brian Cheyne

Die NHT 125 en 200 is identiese fietse, afgesien van die groter enjin en baie klein kosmetiese veranderinge. Dit is glad nie ’n onooglike fietsie nie en hy lyk nogal parmantig. Die afwerking van die SYM is heel goed. Ek is egter nie heeltemal oortuig van die 200 se chroom vellings nie, en veral nie van die plakkers wat daarop aangebring is nie. Om op te maak daarvoor, het SYM ’n bykomende beskermende pyp oor die 200 se enjin aangebring om hom te onderskei van sy kleiner stalmaat.

Die instrumentasie is dieselfde vloeikristaleenheid as wat op die 125 is. Die instrumentasie is volledig en buiten spoed en enjinomwentelinge, bevat dit ook ’n ritmeter, ratposisie en brandstofvlak. Daar is ook ’n handige USB-sok onder die instrumentepaneel. Al die gewone kontroles is waar jy dit verwag en is van ʼn hoë gehalte.

Foto: Brian Cheyne

Die NHT 200 is ’n klein fietsie. My lengte het teen my getel, en ek het redelik beknop gevoel op die fiets. Die handvatsels was vir my net té naby aan my lyf. Omdat die NHT 200 en die NHT 125 feitlik identies is, het ek nie veel van die verrigting verwag nie. Die enjin lewer egter amper dubbel soveel krag as die 125 en het my aangenaam verras. Vir so ʼn klein fietsie trek hy glad nie sleg nie. Op die snelweg kon ek gemaklik die spoedgrens handhaaf sonder dat dit voel of jy die fiets moor. Weg van die teer behoort die 19”-voorwiel handig te pas kom.

Die NHT 200 sal ’n goeie pendelfietsie wees en kan darem hier en daar ’n grondpaadjie aanvat. Soos met die NHT 125 kan dit ook ’n ideale fiets wees vir mense wat wil leer grondpad ry, maar die groter fietse as intimiderend ervaar.

Klik hier vir die produkblad. 

Spesifikasies:

Enjin183 cc-enkelsilinder
Gewig (nat)150 kg
Kraglewering13,5 kW @ 8 500 r.p.m.
Wringkrag15,7 Nm @ 7 500 r.p.m.
Tenkkapasiteit11 ℓ
PrysR35 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.