Toer in luukse styl met Honda Goldwing

Die Honda Goldwing 1800. (Foto: Brian Cheyne)

Die lug is koel, maar die verhitte saal en handvatsels haal die ergste byt uit die lug. Ek sit heel ontspanne met my arms gemaklik voor my, my voete so ’n aks agter my knieë. Onder my loop ’n sessilinder-enjin onvermoeid en byna geluidloos. Ek het geen afspraak of tyd wat my jaag nie. Ek kan my net verlustig in die Honda Goldwing 1800 waarop ek sweef.

In Amerika, met die lang reguit paaie, is die Honda Goldwing nou al goed ingeburger in die toerkultuur. Sedert sy bekendstelling 44 jaar gelede het die fiets heelwat gewig aangesit en dit was tyd vir Honda om in te gryp.

Die vorige Goldwing het van 2001 tot 2017 slegs klein opgraderings gekry. Vir die 2018-model het Honda ’n skoon vel papier nader gesleep, potlode begin skerp maak en ’n splinternuwe Goldwing geskep.

Die Honda Goldwing 1800. (Foto: Brian Cheyne)

Die resultaat is ’n fiets wat nie net slanker lyk nie, maar byna 60 kg minder weeg. Die hele fiets lyk skerper as sy voorganger. Dit is ’n aantreklike fiets en troef die kompetisie wat stilering betref. Die fiets is smaller van voor tot agter. Dit het beteken dat die kanttasse nou kleiner is, maar daar is altesaam steeds 110 L-pakplek. Die windskerm is ook kleiner as die vorige Wing, maar steeds uiters doeltreffend. Die brandstoftenk is kleiner, maar Honda glo dat die beter ekonomie van die fiets jou dieselfde reikafstand behoort te gee.

Die grootste verandering aan die ontwerp is egter aan die voorste vering. Die fiets beskik nie oor tradisionele vurke nie. Dit het ’n dubbele mikveerstelsel soortgelyk aan ’n motor se voorvering. Dit beteken dat die voorste vering vertikaal beweeg deur knikke, en nie nader aan die fiets soos met tradisionele vurke die geval sou wees nie. Dit het die Honda-ingenieurs in staat gestel om die enjin en die meeste van die gewig vorentoe te skuif. Dit maak die fiets uiters stabiel op spoed.

Die Honda Goldwing 1800. (Foto: Brian Cheyne)

Die enjin self is ’n 1 833 cc-, plat sessilinder-eenheid. Die aansitter is heeltemal stil, en die enjin het ’n hartlike diep grom aan hom. Die enjin lewer 95 kW teen 5 500 rpm, en ’n lywige 170 Nm wringkrag. Soos met hierdie klas fiets is aandrywing deur middel van ’n as. Aanvanklik het ek gevoel dat die verrigting nie heeltemal is soos wat jy van so ’n groot enjin sou verwag nie. Die fiets het egter vier ryprogramme, en as jy die fiets aanskakel, is hy in die Toerprogram. Dit verseker ’n egalige versneller wat ideaal is as jy ’n passasier saamdra. In die Sportprogram is die Wing ’n totaal ander fiets en enige bedenkinge wat ek gehad het oor die fiets se verrigting is ter ruste gelê. Daar is ook ’n Reënprogram en een vir Ekonomie.

Instrumentasie bestaan uit ’n analoë spoedmeter en toereteller wat weerskante van ’n groot TFT-skerm sit. Op die brandstoftenk is daar ’n reeks knoppies en ook ’n knop wat kan draai, net soos die hedendaagse luukse motors. Die stelsel is maklik om te gebruik en ek kon gou my musiekspeler verbind met die fiets. Die musiek speel deur vier luidsprekers. Daar is twee luidsprekers onder die instrumentasie gemonteer en twee wat in die agterste sitplek ingebou is.

Die Honda Goldwing 1800. (Foto: Brian Cheyne)

Die Goldwing is ’n groot fiets en sy doel is om sy passasiers in luukse gerief oor lang afstande te dra. Hier skitter die groot Honda. Ek het gedink die fiets gaan lomp wees, maar die dinamiek van die fiets is van sodanige aard dat hy heel gemaklik is of jy nou in verkeer vassit of êrens op ’n bergpas ry. My passasier was heel in haar noppies met die agterste sitplek. Sy het hoog genoeg gesit om nie heeltyd agter teen my valhelm vas te kyk nie.

Die Goldwing is in alle opsigte ’n groot verbetering op sy voorganger en is ook nou beskikbaar met Honda se DCT- outomatiese ratkas. ’n Mens kan dalk kla oor minder pakplek, maar die volume is meer as genoeg vir ’n lang wegbreekkans. Neem jy Honda se betroubaarheid in ag, het die Goldwing GL 1800 min gelyke. Hierdie fiets sal enige lang pad baie kort laat voel.

Klik hier vir die produkblad.

Die feite:

Enjin1 833 cc-sessilinder
Gewig ( droog )379 kg
Kraglewering93 kW @ 5 500 rpm
Wringkrag170 Nm @ 4 500 rpm
Tenkkapasiteit21,1 L
Saalhoogte745 mm
PrysVanaf R367 000

Vanaf R411 600 (DCT Outomaties)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marco polo ·

Dankie Brian, interessante lekkerlees artikel! Ek weet nie hoekom mense nog met karre wil ry en in die verkeer wil sukkel as hulle kan motorfiets ry nie!

anton ·

Ek hoor wat jy se Marco maar jy moet ook weet dat met n motorfiets jy steeds natreen, koud kry en kan om val en meeste van die tyd sleg 2de kom in n ongeluk. En in S.A raak dit daagliks n groter uitdaging/risiko met n motorfiets op die pad.
Jy kan ook net 2 persone vervoer.
Vir R400 000 kan ek 2 goeie nuwe motors koop. Een vir myself en een vir vroulief.
Ek weet die plesier wat dit verskaf is n ander saak. Ek ry self baie jare al motorfiets.
Persoonlik dink ek motorfietse het net te belaglik duur geraak!
Jy betaal heng baie vir eintelik baie min. Veral as jy dit met n motor vergelyk.
Maar dat dit lekker bly om motorfiets te ry, bly n feit soos n koei.

Stephan de S ·

Ag nee Marco, mense ry motors omdat hulle in Rooikappie-taal ” beter wil sit my kind”????????

Gys ·

Ek het nog nooit op so groot teerpad toerfiets gery nie. Hierdie een lyk lekker vir iets soos roete 62 daar deur die Suid-Kaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.