Triumph Tiger 900 opgekikker vir 2024

Hierdie tyd van die jaar is die motorfietsbedryf hard besig om hulle nuwe modelle vir 2024 reg te kry. Dit is gewoonlik voor, of tydens, die EICMA‑skou in Milaan waar die bekendstellings gebeur. Triumph het egter vir ons reeds ’n voorsmakie gegee van die opgraderings wat hulle aan hul middelgewig‑avontuurfiets, die Tiger 900, gaan maak.

Die Tiger 900 is al in 2020 plaaslik bekendgestel en dit was nou tyd vir ’n uitgebreide opdatering. Hierdie is nie ’n nuwe fiets nie, maar eerder ’n inkrementele verbetering van feitlik elke komponent op die fiets. Meer krag, meer wringkrag, nuwe bakpanele en heelwat verbeterings aan die elektronika. Die reeks bestaan uit die GT, GT Pro en Rally Pro, maar ek vermoed dat net die twee Pro‑modelle na Suid-Afrika sal kom.

Die kenmerkende driesilinder‑enjin van die Tiger is behou, maar met nuwe komponente lewer die enjin nou 13% meer krag. Die syfer het nou oor die 100 pk merk geklim tot 106 pk. Wringkrag is ook verbeter en ten spyte van die verhoogde verrigting, het die brandstofverbruik met 9% gedaal.

Die GT‑modelle is meer vir die pad georiënteer, en beskik oor allooi‑vellings, 19” voor en 17” agter. Die GT is toegerus met Marzocchi‑vering en is elektronies verstelbaar, afhangend van die lading op die fiets. Die Rally‑model is meer gerig op veldry, en beskik oor Showa‑vering. Die voorwiel is 21” en het binnebandlose speekvellings. Brembo se nuutste Stylema‑remme sorg vir die stopslag, en dít is wat Triumph se Tiger‑reeks so ongelooflik goed maak. Hulle kies net die beste komponente vir hulle fietse, en dit verlaag die ontwikkelingskoste en uiteraard maak dit die Tiger meer bekostigbaar.

Die elektronika en ander veiligheidskenmerke is ook uitgebrei en verbeter. Die remme is nou gekoppel, so as jy die voorrem trek, aktiveer dit die agterrem ook. Dit maak dat die Tiger vinniger tot stilstand kom in ’n noodsituasie. Tydens noodremming sal die flikkerligte ook aankom om ander voertuie te waarsku.

Vir gemak is die saal herontwerp en bied 20 mm‑hoogteverstelling. Die handvatsels en die saal is verhit en is standaard toerusting op die Pro‑modelle. Banddrukmonitering is ook standaard. Vir beter gerief is die handvatsels nader aan die ryer geskuif en op dempers gemonteer. Selfs die 20 liter‑brandstoftenk is herontwerp vir beter rygerief. Die windskerm is verstelbaar, wat sal verseker dat die meeste ryers gemaklik sal wees sonder dat die wind hulle kop rondwaai. Die nuwe 7”‑instrumentepaneel bied navigasie via jou slimfoon.

Triumph het verder die bakpanele herontwerp om die Tiger ’n meer vloeiende ontwerp te gee. Daar is nou ook drie nuwe verfskemas om uit te kies. Natuurlik het Triumph ’n volledige bybehorekatalogus om jou Tiger uniek joune te maak.

Triumph beïndruk my regtig met die manier hoe hulle hul reeks uitbrei en verbeter, en dit lyk nie asof hulle ’n voet verkeerd kan sit nie. Die 900 is reeds ’n goeie fiets en die veranderinge vir 2024 maak dit net nog ’n beter proposisie.

Vir meer inligting, hou gerus Triumph se webwerf dop. Die nuwe fietse word vroeg in die nuwe jaar verwag, en tans is daar nog geen aanduiding van prys nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.