TVS Raider 125 – skool toe in styl

(Foto: Brian CHeyne)

Die skole het weer hervat en daarmee saam kom die atletiek, swem, netbal en ander naskoolse aktiwiteite. Dan moet iemand se ouers bontstaan met die rondritswerk. Op 16 kan jy egter ’n motorfietslisensie kry, op voorwaarde dat die enjinkapasiteit nie 125 cc oorskry nie. Dit sal vir jou die nodige onafhanklikheid gee sodat jy op niemand aangewese is om jou rond te ry nie.

In hierdie deel van die mark wemel dit van afleweringsfietse, en hulle lyk maar almal dieselfde. Die ontwerpe is nie juis innoverend nie, want die fietse moet bekostigbaar en betroubaar wees. Die Indiese maatskappy TVS het egter ’n model wat uitstaan en nie lyk asof dit uit dieselfde fabriek as die ander kom nie: die TVS Raider 125.

Die TVS Raider is ’n uiters aantreklike fiets met sportiewe lyne. Nie net is die ontwerp vars nie, maar ook is die tegnologie wat gebruik word baie modern. Waar die massaproduksiefietse twee agterste skokbrekers het, beskik die TVS oor ’n enkelskokbreker agter. Die LED-koplig het dagryliggies en die agterlig is ook ’n LED-eenheid.

Die Raider is toegerus met ’n USB-sok by die handvatsels. As jy egter skrikkerig is om met jou selfoon oop en bloot te ry, het die TVS ’n sluitbare kompartement onder die agterste sitplek. Hierdie kompartement het genoeg plek om jou beursie en selfoon veilig weg te sluit terwyl jy ry. Die fiets beskik oor ’n moderne LED-instrumentepaneel, terwyl ander fietse in hierdie klas nog analoogwysers het.

Een eienskap wat van die TVS ’n wenner maak, is sy enjin. Dit loop wonderlik stil. Amper geruisloos. Die enjin lewer 11.4 pk en is gekoppel aan ’n vyfspoedratkas. Dit klink dalk nie na baie nie, maar dit is meer as genoeg om die fiets voor die verkeer te hou. Ek was selfs op die snelweg met hom, en hy voel glad nie ontuis daar nie. Die toere klim wel hoog teen hoër spoed, en ek het beslis ’n sesde rat gemis. Die Raider beskik oor ’n 10 liter-brandstoftenk wat jou ’n redelike reikafstand gee. Jy hoef egter nie ver te ry om hierdie fiets te waardeer nie. Die hantering is uitstekend en die bougehalte bogemiddeld goed.

Teen R28 999 is die fiets beslis bekostigbaar. TVS-motorfietse word in Indië vervaardig en beloof ook om uiters betroubaar te wees. Trouens, TVS bied ’n drie jaar/50 000 km-waarborg op die Raider. Soos ek reeds genoem het, is die Raider ’n baie aantreklike motorfiets, en geen 16-jarige sal skaam kry om met hom te ry nie.

(Foto: Brian CHeyne)

Vir meer inligting besoek gerus TVS se webwerf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jedi Knight ·

Baie oulike fiets vir 125cc. Maar dink net hoe jaloers sal jy jou onderwysers maak as jy met n 1300GS of R18 of Rocket by die skool opdaag. En die juffroutjies sal aan jou kleef soos n “bad rash”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.