Volkswagen se perfekte gesinsbuks?

Maroela Media se nuusredakteur het onlangs ʼn behoefte gehad aan ʼn gesinsmotor met meer pakplek as haar eie Polo. Die bestemming was die Natalse kus met hul babatjie – maar net een jaar oud – wat die reis saam aangepak het.

Ek het aanvanklik gewonder wat die ideale voertuig sou wees om te reël – maar dit was eintlik heel eenvoudig. Pieter, haar man, het self ʼn Tiguan besit, én sy ry self tans ʼn Volkswagen… so hulle is goed konfyt met die handelsmerk, én ʼn Tiguan.

Ek het vir die twee ʼn paar onderwerpe gegee om vir my terugvoer op te gee. Om te sê dat Pieter omtrent in sy noppies was met die Tiguan is om dit lig te stel.

Die nuwe Tiguan se ontwerp is besonders mooi. Die vloeiende lyne perfek afgerond met die sportiewe R-Line-pakket. Dié Tiguan is beslis mooier as sy voorganger.

Volgens die egpaar is die binneruim nie nét gepeper met fantastiese luukshede soos sagte, verhitte leersitplekke, ʼn panoramiese sondak en ʼn pragtige klankstelsel nie, maar die ruimte in die tweede ry sitplekke is perfek om ʼn behoorlike babastoeltjie in te pas. “Een ding wat dalk effens groter kon wees, is die kattebak, want alle ouers met ʼn kleintjie weet, ʼn week by die see benodig ʼn reusekattebak.”

Dié Tiguan is die 1.4 TSI. Hy word aangedryf deur ʼn 1.4 turboaangejaagde viersilinderpetrolenjin wat 110 kW en 250 Nm bied. 0 – 100 km/h neem 9,2 sekondes en hy sal aanhou tot 200 km/h. Volkswagen se beweerde brandstofverbruiksyfer is ʼn uiters ekonomiese 7,7 ℓ/ 100 km, maar hulle het nie daai syfer gehaal op hul reis nie – eerder 8,2 ℓ/ 100 km.

Die ritgehalte en padhouvermoë van die Tiguan is uiters indrukwekkend. Die enjin toer lieflik stil en daar is min windgeraas wat in die kajuit indring. ʼn Luukse funksie wat bydra tot die veiligheid van die voertuig is die sogenaamde “heads-up display”. ʼn Foefie wat verskeie vervaardigers inbring is dat die CarPlay en Android Auto sonder ʼn draad werk. Dié tegnologie is nog nie perfek betroubaar nie en is soms vol fiemies. Ander veiligheidstelsels waaraan ʼn mens bitter vinnig gewoond raak is die agterkruisverkeerwaarskuwing en noodremhulp. Indien ʼn mens te naby aan ʼn voertuig of hindernis beweeg sal die kar self rem. Dieselfde geld vir wanneer jy agteruit beweeg, sodat jy nie per ongeluk uit jou oprit oor ʼn fietsryer of voetganger ry nie.

Dit is bitter maklik om Volkswagen se jongste Tiguan op te som. Dit is ʼn pragtige voertuig en is weer eens bewys van uitnemende Duitse vakmanskap. Die enorme suite veiligheidstelsels is uiters gerusstellend en maak enige langpad ʼn ware belewenis. Elaine en Pieter sal enige tyd die Tiguan vir ʼn nuwe gesin aanbeveel.

Die reeks lyk só:

Volkwagen Tiguan 1.4TSI 110 kW110 kW/ 250 Nm7,7 ℓ/ 100 kmR 528 800
Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110 kW Life110 kW/ 250 Nm7,7 ℓ/ 100 kmR 596 000
Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110 kW R-Line110 kW/ 250 Nm7,7 ℓ/ 100 kmR 654 200
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 162 kW 4Motion R-Line162 kW/ 380 Nm8,3 ℓ/ 100 kmR 720 700

Die reeks word gedek deur ‘n 3 jaar/ 120 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mazda CX-5 2.0 Dynamic auto121 kW/ 213 Nm6,9 ℓ/ 100 km3 jaar/ onbeperkte km waarborg en diensplanR 516 700
Renault Koleos 2.5 Dynamique126 kW/ 233 Nm8,1 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 00 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R 534 900
Subaru Forester 2.0i-S ES115 kW/ 196 Nm7,6 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 75 000 km omvattende instandhoudingsplan

R 564 000
Citroën C5 Aircross 1.6T Shine121 kW/ 240 Nm7,9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg & diensplanR 589 900
Toyota Rav4 2.0 VX127 kW/ 203 Nm6,5 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

6 dienste diensplan

R 595 000
Kia Sportage 2.0 CRDi EX131 kW/ 400 Nm6,3 ℓ/ 100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R 595 995
Nissan X-Trail 2.5 4×4 Tekna126 kW/ 233 Nm8,3 ℓ/ 100 km6 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 90 000 km diensplan

R 617 900
Peugeot 5008 1.6T GT Line121 kW/ 240 Nm7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en diensplanR 674 900
Honda CR-V 1.5T Executive140 kW/ 240 Nm6,7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R 699 900

Daar is ʼn magdom mededingers in dié segment. Die Subaru staan uit met sy vierwielaandrywing, maar elke mededinger bied iets uniek. Toetsbestuur almal – jy sal nie spyt wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Eintlik is die enigste motors in daardie kategorie wat jy moet oorweeg, die Subaru Forester of die Toyota Rav4. En ek se dit nie oor ek ‘n Forester ry nie. Ek ry ‘n Forester omdat dit die waarheid is. Ek sal hom net ruil vir ‘n Rav4. Die ander is nie rerig gemaak vir grondpaaie of naweek kamp nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.