Volmaak, elegant sonder voorgee

Daar was die afgelope 120 jaar maar ʼn handjievol motors wat ʼn mens as volmaak kan beskou. Selfs as ʼn mens ʼn paar verskillende opinies kry, is die kans goed dat iemand nie saamstem nie… maar een só ʼn volmaakte model is moontlik die Range Rover.

Beslis nie vir die begrotingbewustes onder ons nie, maar vir diegene wat die ekstra nulle in hul bankrekening het, is daar moontlik geen ander motor wat dié luuksheid, elegansie én bekwaamheid kan bied nie.

Die ontwerp is imposant… kyk, dit is ʼn enorme voertuig, maar op een of ander manier het Land Rover dit reggekry om dié monster bitter elegant te laat lyk. Ons toetsmodel het dowwe goue verf en roomkleurige bekleedsel gehad. Glad nie kindervriendelik nie, maar gelukkig is my drie makkers gewoond aan toetsmotors skoonhou.

Die binneruim is ʼn fees. Daar is pragtige leer- en sagte kopkussings, skerms en funksies vir ʼn vale. Die agtersittendes kan meeste van die funksies beheer met die raakskerm in die middelkonsole, masserende sitplekke verhit én verkoel, bekerhouers vir sjampanjeglase – ai, dié binneruim is ontwerp vir mense buite my vriendekring. Ten minste kan die skerms in die voorste kopstutte die kinders besig hou én pla hulle my nie te danke aan die oorfone wat saam met die motor kom. Selfs my vrou kan links sit en heeltemal ander inligting op die skerm sien as ek sodat dit nie my aandag aftrek nie.

Agter die stuur is ʼn paar goed opvallend. Die sitplek pas soos ʼn handskoen – of dalk jou gunsteling paar pantoffels. Alle funksionaliteit wat vir die bestuurder belangrik is om te beheer is maklik bereikbaar. Die Meridian-klankstelsel speel Ludovico Einaudi en laat die klank soos ʼn warm, sagte kombers my in die winter toevou. Klassieke musiek is mos statig, of hoe?

Die dieselenjin onder die kap luier seepglad en tjoepstil. Hy bied 258 kW en 700 Nm. Dis groot nommers vir ʼn 3.0 V6-turbodiesel. Die ratkas wat saam die enjin gepaard gaan bied ʼn seepgladde, lieflike ervaring met egalige versnelling. So ʼn groot ou bus kan nogal wikkel indien jy jou voet in die luukse mat begrawe.

Op die pad is waar die Rangie ʼn mens heeltemal betower. Vir só ʼn groot voertuig draai hy om ʼn tiekie. Daar is vierwielstuur! Die agterwiele draai tot en met sewe grade in die teenoorgestelde rigting. Dit maak die Range Rover baie makliker om te parkeer en te maneuvreer in klein spasies. Beter as die vierwielstuur is die soepel vering. Die Rangie loop op enorme 23”-wiele, maar die ritgehalte is uiters luuks en soepel, sonder enige belaglike bakrol as ʼn draai nader kom.

Aan die veiligheidskant is daar elke denkbare aktiewe en passiewe veiligheidstelsel. Onder die passiewe stelsels is daar sluitweerremme, vastrap en stabiliteitsbeheer, lugsakke en dies meer. Aan die aktiewe kant is daar baandwaalwaarskuwing met baanhulp, kruisverkeerwaarskuwing, aanpasbare spoedkontrole, botsingwaarskuwing met noodremhulp – die lot!

Ek sal die Range Rover só opsom: Dit is ʼn pragtige voertuig. Ek sou wel ʼn gewone wit een wil hê met ʼn swart binneruim en sewe sitplekke… maar die groot buks is nie swaar op brandstof nie, dis elegant en hiperluuks. Sou jy graag van die teer wil afklim en ʼn bietjie in die bos in voeter het die Range Rover uiters gevorderde 4×4-stelsels én kan hy 3.5 ton sleep. Dalk is daar só Range Rover en ʼn Okto Chateau-woonwa iewers in my toekoms!?

Die Range Rover-reeks lyk só:

Range Rover D350 SE258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR2 848 600
Range Rover D350 HSE258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR2 966 600
Range Rover D350 SE L 7 sitplek258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR3 967 600
Range Rover P530 HSE390 kW/ 750 Nm11,8 ℓ/100 kmR3 148 600
Range Rover D350 Autobiography258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR3 428 600
Range Rover D350 Autobiography L258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR3 513 600
Range Rover D350 Autobiography L 7 sitplek258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR3 544 600
Range Rover D350 First Edition258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR3 556 600
Range Rover P530 Autobiography390 kW/ 750 Nm11,8 ℓ/100 kmR3 610 600
Range Rover P510e Autobiography375 kW/

700 Nm

1,6 ℓ/100 kmR3 637 300
Range Rover D350 First Edition L258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR3 640 600
Range Rover P510e First Edition375 kW/ 700 Nm1,6 ℓ/100 kmR3 693 300
Range Rover P530 Autobiography L390 kW/ 750 Nm11,8 ℓ/100 kmR3 695 600
Range Rover P530 First Edition390 kW/ 750 Nm11,8 ℓ/100 kmR3 719 600
Range Rover P530 Autobiography L 7 sitplek390 kW/ 750 Nm11,8 ℓ/100 kmR3 726 600
Range Rover P530 First Edition L390 kW/ 750 Nm11,8 ℓ/100 kmR3 804 600
Range Rover D350 SV258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR3 992 600
Range Rover P530 SV390 kW/ 750 Nm11,8 ℓ/100 kmR4 069 600
Range Rover P510e SV375 kW/ 700 Nm1,6 ℓ/100 kmR4 085 300
Range Rover D350 SV L258 kW/ 700 Nm7,4 ℓ/100 kmR4 426 600
Range Rover P530 SV L390 kW/ 750 Nm11,8 ℓ/100 kmR4 504 600

Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/ 100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan. Die hibriede model kry ʼn agtjaar-batterywaarborg by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

R4,5m vir ‘n kar? “Ek sou kon doen met ‘n biljoen.” Oorweeg ook ‘n plekkie in die Karoo, ‘n tweedehandse Japanese 4X4 en R2m wat oorbly in die bankrekening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.