Volvo EX30 maak elektriese werkverrigting meer bekostigbaar

Deur Martin Pretorius

Suid-Afrikaners is steeds sku vir battery- elektriese voertuie (BEV), met beurtkrag en ons gebrekkige laaistasie-infrastruktuur wat gereeld as argumente teen herlaaibare motors gebruik word. Die ander groot probleem met BEV’s tot op hede was egter hulle pryse, wat gewoonlik heelwat hoër was as dié van vergelykbare petrol- of dieselmodelle.

Volvo kan niks doen aan die eerste twee knelpunte nie, maar wil die laaste probleem oplos met hulle kompakte EX30-sportnutsvoertuig. Hierdie nuwe klein Volvo is steeds nie goedkoop nie, maar hy kos omtrent soveel soos ʼn binnebrand-blitsbuks en sy werkverrigting kan vele groter opponente op hulle neuse laat kyk.

Die intreevlak EX30 land in Suid Afrika met ʼn rigprys van R775 900, en bied ʼn stewige 200 kW en 343 Nm om hom in net 5,7 sekondes tot by 100 km/h te laat wip. Met ʼn kleiner (51 kWh) battery as die duurder EX30’s, reken Volvo dat hy ʼn reikafstand van 344 km kan gee.

Hierdie afstand is uiteraard optimisties, maar selfs die kleiner battery behoort darem omtrent 250 km in normale gebruik te kan lewer. Ander EX30’s bied ʼn 69 kWh‑battery wat die beweerde reikafstand tot 476 km kan rek, en kan bestel word met die basiese enkel-motor‑uitleg (een elektriese motor tussen die agterwiele), of met ʼn dubbel-motor‑uitleg wat 315 kW en 543 Nm lewer.

Laasgenoemde sal wenkbroue laat lig met sy verrigting, want hy verkort glo die sprong tot by 100 km/h na net 3,6 sekondes. Dit is werklik blitsig, en kan dalk net die wakkerste nuwe kar onder ʼn miljoen rand wees. Die goedkoper dubbel-motor‑EX30 kos R935 900, omtrent soveel soos ʼn nuwe Golf R, maar sal maklik onder die Volkswagen uitdraf.

Om alles te kroon, is die EX30 nogal aantreklik ook, met ʼn aangename kombinasie van hoekige lyne en ʼn vaartbelynde profielaansig. Sy binneruim is ook iets besonders en sal aanklank vind by mense wat Skandinawiese argitektuur waardeer, danksy ʼn uiters eenvoudige ontwerp en ongewone materiaalkeuses. Alhoewel Volvo trots vermeld dat die plastiekvoorpaneel en deurbekleding van herwinde materiaal gemaak is, het hulle seker gemaak dat die eindresultaat steeds luuks genoeg voorkom.

Praktiese oorwegings het baie aandag geniet, met oorgenoeg bêreplek in die deure, ʼn bottelhouer wat uit die armleuning uitgly, draadlose selfoonlaaiplek met rubbervingers om die foon mooi vas te hou, en ʼn dubbelvlak-bêreplek tussen die voorsitplekke. Die paneelkissie sit nou in die middel, onder die voorpaneel, maar daar is geen ander rakkies vir los items onder of bo-aan die voorpaneel nie.

Die prys-versus-verrigting-vergelyking van hierdie unieke motor lyk uiters aanloklik, maar daar is een ding wat voornemende kopers in gedagte moet hou: Dit gaan ʼn rukkie neem om gewoond te raak aan die ongewone manier waarmee mens die EX30 moet benader omdat alles aan hom radikaal verskil van tradisionele motors se werking.

Eerstens is daar geen bekende skakelaars in die kajuit nie, behalwe die twee stokkies aan die stuurkolom. Die linkerstokkie beheer die ligte en ruitveërs, en met die een op regs kies ʼn  mens om vorentoe of agteruit te ry. Alle ander funksies, behalwe die sitplekke se verstelling en die kantruite, word beheer deur die raakskerm, of deur die raakpanele op die stuurwiel se speke.

Selfs die vensterknoppies is anders as wat jy sou verwag, want hulle is vooraan die middelste armleuning gemonteer. Daar is net twee knoppies, onderskeidelik vir die linker- en regtervensters, en hulle skakel tussen die voor- en agterruite met ʼn bykomende raakknoppie tussen hulle. Dieselfde paneel beheer ook die deurslotte, maar, alhoewel dit minimalisties en stylvol voorkom, sal die uitleg aanvanklik glad nie intuïtief wees nie.

Die raakskerm is ʼn ander moontlike kwelpunt, want hy dien ook as die bestuurder se inligtingsentrum. Daar is geen tradisionele instrumente of selfs ʼn digitale skerm voor die bestuurder nie, so al hierdie inligting word nou in ʼn smal strook bo-aan die groot sentrale skerm vertoon. Saam met die ander beheerfunksies raak die skerm nogal dig bevolk, en die bestuurder moet leer waar om die onderskeie funksies te vind.

Wil jy die kattebak of paneelkissie oopmaak? Raak aan virtuele knoppies op die skerm. Wil jy die ligte self aanskakel voor die outomatiese stelsel dit doen? Hulle beheer is gemeng tussen die skerm en die regterstuurwielspeekpaneel. Jonger kopers sal dalk vinnig gewoond raak aan hierdie manier om dinge te doen, maar meer ervare bestuurders sal eers moet oefen voor hulle wegtrek.

Drie toerustingsvlakke is beskikbaar. Alle Plus- en Ultra-variante gebruik die groter battery en dit is beskikbaar met een of twee elektriese motors. Ons het ongelukkig steeds geen geleentheid gehad om die EX30 op die pad te beproef nie, dus wonder ons steeds oor die bestuurservaring, maar ons behoort êrens in April een te ontvang vir ʼn padtoets.

Die reeks lyk só:

Volvo EX30 Core Single Motor200 kW/343 Nm; 51 kWh‑battery0‑100 km/h in 5,7s; 344 km-reikafstandR775 900
Volvo EX30 Plus Single Motor Extended Range200 kW/343 Nm; 69 kWh‑battery0-100 km/h in 5,3s; 476 km-reikafstandR865 900
Volvo EX30 Plus Twin Motor Performance315 kW/543 Nm; 69 kWh‑battery0-100 km/h in 3,6s; 460 km-reikafstandR935 900
Volvo EX30 Ultra Single Motor Extended Range200 kW/343 Nm; 69 kWh‑battery0-100 km/h in 5,3s; 476 km-reikafstandR965 900
Volvo EX30 Ultra Twin Motor Performance315 kW/543 Nm; 69 kWh‑battery0-100 km/h in 3,6s; 460 km-reikafstandR995 900

Die reeks word gedek deur ʼn waarborg en instandhoudingsplan, albei vir 5 jaar/100 000 km geldig, en ’n batterywaarborg vir 8 jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wynand ·

Um, ek dink ek lewe dalk nog in die vroë 2000’s, van wanneer af is R700 000+ bekostigbaar? Ek ry self ‘n Volvo, amper 10 jaar oud en glo vas aan die handelsmerk, maar ek dink ons is besig om baie ander, meer belangrike goed in te boed vir ons liefde van vier wiele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.