Vyf uit vyf vir die vyfdeur-Jimny

Dit blyk dat Suzuki tans geen voet verkeerd kan sit nie. Suzuki het homself al vir ʼn wyle in die derde plek gevestig wat maandelikse voertuigverkope betref, en het verlede maand 4 480 motors plaaslik verkoop.

Ek is oortuig dat die splinternuwe vyfdeur-Jimny die vermoë het om Suzuki se plaaslike verkope tot oor die 5 000 voertuie per maand te stoot.

Toe ek aanvanklik na die foto’s gekyk het, was ek nie oortuig nie. Die Jimny het effens vreemd gelyk – bietjie lank en maer, soos ʼn wurmpie. In lewende lywe lyk dit egter presies soos ʼn Jimny, eintlik soos die driedeur van die begin af moes gelyk het.

Die ontwerp is basies onveranderd, hy het net met 340 mm gegroei. Die 340 mm bied bruikbare beenruimte vir agterste passasiers en ʼn lekker kattebak. Die kattebak is nou vir my net só prakties soos ʼn goeie kompakte luikrug s’n. Die ontwerp aan die binneruim is onveranderd, afgesien van ʼn groter raakskerm op die GLX-model en natuurlik die beter beenruimte agter.

Die vyfdeur-Jimny is steeds in ʼn handrat óf ʼn outo beskikbaar en albei ratkaste gaan steeds gepaard met die 1.5-viersilinderpetrolenjin wat 75 kW en 130 Nm bied. Ná meer as 600 km sal ek hier bevestig dat die vyfdeur heeltemal goed die mas opkom en dat daar basies geen verskil is tussen die verrigting van die drie- of vyfdeur nie. Ons het heeltemal gemaklik 110 km/h getoer, met bande wat laag gepomp is vir die grondpaaie en sanderige rivierbeddens waarin ons gery het. Ons het 8,2 ℓ/100 km gehandhaaf – puik indien mens dink ons het ʼn hele klomp kilometers in dik riviersand afgelê waar die Jimny hard gewerk het, maar hom tog puik van sy taak gekwyt het. Tussen die hele vloot van ongeveer 15 voertuie het nie een vasgeval nie. Dis grootliks te danke aan die uiters bekwame laestrekratkas wat die Jimny het.

Dis egter op die langpad waar die vyfdeur sy troefkaart wys. Die 340 mm langer asafstand van dié model stel hom in staat om heelwat minder te wieg en waggel. Ja, die wind kan hom nog pla – maar die vering het baie meer tyd om golwings in die pad onder die knie te kry. Die GLX-vyfdeur spog met ses lugsakke, asook die gewone veiligheidsuite soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en stabiliteitsbeheer.

Ons vloot van 15 Jimny’s het die honderde kilometers van Polokwane af, deur Vivo en Alldays oor die grens tot in Botswana, oor die Tuli-strook deur ʼn paar rivierbeddens en ʼn wildskamp en terug deur die Pontdrift-grenspos afgelê. Twee-twee in ʼn kar, mét bagasie, en dit is merkbaar dat die vyfdeur heelwat ruimer voel as sy kleinboet. Nog ʼn fantastiese toevoeging tot die vyfdeur-Jimny is spoedkontrole. Dit maak die langpad ʼn fees.

Wat die vyfdeur-Jimny bied, vir onder R500 000, is onweerlegbaar. Ek lief dié tjor sommer baie.

Die vyfdeur-reeks lyk só:

Suzuki Jimny 1.5 GL AllGrip 5-deur handratR429 900
Suzuki Jimny 1.5 GLX AllGrip 5-deur handratR457 900
Suzuki Jimny 1.5 GLX AllGrip 5-deur outoR479 900

Die reeks word gedek deur ʼn vyfjaar/200 000 km-waarborg en vierjaar/60 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Die Jimny is beslis die goedkoopste veldvoertuig waar jy die gesin kan inlaai en gerieflik die veld roetes aanpak. Ek kan myself nogal agter die stuur sien met besoeke aan wild parke en veld ritte. Met die 1.5 enjin is die handhaaf van ‘n gemiddelde spoed van 120km/h nie altyd haalbaar, veral by opdraendes en winderige toestande. Dit bly nog steed ‘n goeie koop.

Manie ·

Ek loer al geruime tyd vir ‘n bekostigbare 4×4 voertuig waarmee my vrou en ek op die plekke kan uitkom waar my 2 wiel aandrywing bakkie nie kan kom nie. Sy is mal oor die Jimny, maar die prys maak net nie vir my sin nie. Daar is uitstekende 4×4 DK Hilux bakkies met lae km’s beskikbaar teen dieselfde prys as ‘n nuwe Jimny. Dit maak vir my net meer sin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.