Vyfdeur-Jimny ʼn werklikheid – en op pad na SA!

Deur Bernie Hellberg jr.

As een van Suzuki se gewilde sportnutse, en ʼn 4×4 wat by die grootstes en bestes kan kers vashou, het die driedeur-Jimny amper eiehandig Suzuki as ʼn wêreldwye topverkoper gevestig.

Met sy astrante houding het die Jimny diep in Suid-Afrikaners se harte gekruip, al was hy net té klein vir groter gesinne om saam dié outjie se legendariese rowwepad-vermoë te geniet.

Daardie dae is nou verby met die bekendstelling van die splinternuwe vyfdeur-Jimny by die 2023 Auto Expo in Nieu-Delhi, Indië, en Maroela Media was daar om hom eerstehands te verwelkom.

Teen 3,9 m is dié vyfdeur-veldrymasjien 360 mm langer as sy driedeurboetie, en staan hy boonop 50 mm hoër, met ʼn wielbasis wat met 340 mm rek om plek te maak vir ʼn ekstra stel deure en effens groter kattebak. Maar, moenie dink die ekstra ruimte boet enige van die Jimny se legendariese 4×4-vaardigheid in nie! Dieselfde 1,5 l– atmosferiese enjin en Suzuki se All-Grip Pro 4×4-stelsel sal aanhou sorg vir hope rowwepad-pret, met dié verskil dat die hele gesin nou saam die berge en dale kan aandurf.

Die vyfdeur-nuweling sal waarskynlik in die eerste kwartaal van 2024 sy buiging in Suid-Afrika maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.