Wenke om na jou motor om te sien tydens inperking

(Foto: Pixabay)

Aangesien die meeste van ons heeltyds by die huis is tydens die staat van inperking, gebruik ons nie ons motors nie of hoogstens heen en weer vir vinnige inkopiesessies.

Dit is wel baie belangrik om na jou motor om te sien in hierdie tyd, veral as dit ʼn ouer model motor is. Imperial Auto, Ford en MasterDrive gee die volgende wenke:

Doen dít tydens inperking

  • Gebruik die geleentheid om jou kar goed skoon te maak – binne en buite. Dit kan ook ʼn lekker gesinsaktiwiteit wees!
  • Indien moontlik, parkeer jou kar onderdak wanneer jy dit nie gebruik nie. As dit in die son moet staan en jy het nie ʼn bedekking daarvoor nie, plaas handdoeke oor die paneelbord om dit teen die son te beskerm.
  • Bedek enige oop lugstelsels met ʼn lap as die kar vir ʼn paar weke gaan stil staan. Jy kan ook oorweeg om ʼn ou lap by die uitlaatpyp op te druk om te voorkom dat insekte en goggas nie daar inkruip nie.
  • As jy nog nie jou motor aangeskakel het sedert die inperkingsperiode begin het nie, moet jy dit nou doen. Skakel dit elke paar dae aan en hou dit vir sowat vyf minute aan. As jy ʼn ouer model motor het kan jy oorweeg om jou battery te ontkoppel om te voorkom dat dit afloop.
  • Draai kleefplastiek om die ruitveërs om te voorkom dat hulle aan die ruit vassit. Moenie van die agterste ruitveër vergeet nie! Indien jy nie kleefplastiek het nie, lig bloot jou ruitveërs op.
  • Maak jou petroltenk vol indien moontlik. Hoe voller die tenk hoe minder is die moontlikheid dat klam lug die enjin kan binnegaan en roes vorm.
  • Maak jou deure en vensters goed toe om te voorkom dat goggas of kleiner diere daarin kan kom.
  • Los jou handrem af. As dit opgetrek bly kan dit moontlik vashaak of breek nadat dit weer aangeskakel word. As jy nie teen ʼn helling hoef te stop nie, posisioneer bloot jou rathefboom na eerste rat of in die parkeer-posisie vir outomatiese motors.

 

Doen dít wanneer inperking verby is:

  • Verwyder die lappe wat jy in die uitlaatpyp gedruk het.
  • Ondersoek jou ruitveërs om te sien of die rubber gekraak het en verwyder die kleefplastiek.
  • Ondersoek die lugdruk van jou bande en blaas dit op indien nodig.
  • Maak seker al die vloeistofvlakke is reg.
  • Indien jy die battery ontkoppel het, herkoppel dit en maak seker die batterye-poorte is skoon.
  • Was enige stof af wat opgegaar het.

Indien jou kar anders klink as gewoonlik kan jy dit na ʼn werkswinkel vat om seker te maak alles is reg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

charmaine ·

Dit was my man en seun se aktiwiteit hierdie naweek ons motors se enjin’s is gewas, olie en bande is nagegaan filters is gewas en die motors is behoorlik gewas binne en buite. Gelukkig is my man baie goed met motors en ja dit is iets wat afgeskeep word. En omdat ek nie nodig het om te ry nie staan hy veilig onder dak en blink.

Scalla ·

Jy hoef dit gelukkig net een keer te doen, nie elke week nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.