Wind in die hare

Ek het onlangs berig oor Mercedes-Benz se elegante E-klas-koepee. Ek is nie in die teikenmark vir ʼn motor met ʼn afslaandak nie, my (min) hare is rooi en my vel spierwit en vol sproete. Die son, al is hy lekker, is nie my grootste pel nie. Ek het jare terug die fout gemaak om my deur ʼn kollega te laat ompraat om sy laaitie by die skool te gaan haal in ʼn BMW 130i met ʼn afslaandak. Daar was ʼn hittegolf. Die blase was verskriklik.

Daar is egter mense met taaier velle as ek, wat pette dra en sonroom smeer. In Gauteng sien ek nie regtig die punt van ʼn afslaandak nie, maar ek het al langs die kus gebly, en daar is dit fantasties. Die seelug, son, strand en wind in die hare.

Soos met die koepee is die afslaandakweergawe van die E-klas uiters elegant. Dié spesifieke model is die 300. Hy word aangedryf deur ʼn lekker sterk 2.0-viersilinderturbopetrolenjin wat 190 kW en 370 Nm bied. Dié enjin gepaard met Mercedes se 9G-tronic- outomatiese ratkas sal die Merc versnel van stilstand tot 100 km/h in 6,6 sekondes, en hy sal aanhou snol tot ʼn elektronies beperkte 250 km/h. Mercedes-Benz sê dat die E300 ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7,4 l/100 km kan handhaaf. Heel indrukwekkend.

Dit is op die pad waar die E weer beïndruk. Mercedes het ʼn goeie balans getref tussen soepel vering en padhouvermoë, asook die kenmerkende geskud van ʼn afslaandak uitgeskakel.

Waar hulle wel ʼn ses slaan, is met die lugvloei oor die voertuig wanneer die dak af is. Mens kan gemaklik ʼn foonoproep maak teen 120 km/h op die snelweg. Dis fantasties. Daar is sekere klein tjorries waar mens sukkel om te hoor, en dis met die dak in plek en vensters toe! Aan die veiligheidskant bied die E sewe lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en remhulp, vastrap en stabiliteitsbeheer.

Die afslaandakmark in Suid-Afrika is nie groot nie, maar vir diegene wat hou van myle kopruimte in hul voertuie kan ek die aantrekkingskrag sien. Die E-klas is werklik pragtig. Gaan toetsbestuur een – jy sal nie spyt wees nie.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz E200 Cabriolet AMG Line145 kW/320 Nm7,4 l/100 kmR1 172 640
Mercedes-Benz E300 Cabriolet AMG Line190 kW/370 Nm7,4 l/100 kmR1 276 640

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi S5 TFSI Cabriolet quattro260 kW/500 Nm9,1 l/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 194 000
BMW M440i xDrive convertible285 kW/500 Nm8,2 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 366 234

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Belinda ·

Stunning verby… Mercedes het regtig begin mooi karre maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.