Yamaha Tracer 9 GT – ’n Sport- en toerfiets perfek gemeng

(Foto: Brian Cheyne)

Sporttoerfietse probeer om twee fietse tegelyk te wees. Dit moet ’n uiters gemaklike sitposisie hê sodat jy lang ure in die saal kan deurbring, maar hy moet net so gemaklik wees as die pad begin kronkel. Die resep is redelik eenvoudig: Jy neem ’n bewese sportfiets, gee hom ’n meer regop ryposisie en sit bagasie by. Dan voeg jy ’n groter skerm by vir windbeskerming, en daar het jy jou sporttoerfiets. Yamaha se interpretasie van ’n middelgewig sporttoerfiets was die Tracer 900. Hierdie fiets is onlangs verfris en is herdoop na die Tracer 9.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek onthou my eerste kennismaking met die vorige Tracer 900 baie goed. Dit was tydens die South African Bike Festival op Kyalami. Net na die lang afdraande wat as “die mynskag” bekend staan, is draai 13, ’n bedrieglike draai na regs. Ek en die Tracer het vol bravade by die draai aangekom en ek het skielik besef ons is hopeloos te vinnig vir my beperkte talent. Die Tracer het egter my bas gered. Ek het net eenvoudig verder geleun en die Tracer het saamgespeel. Ek was wel baie wyd, maar tog veilig deur die draai. Ek het myself koud geskrik, en gemaak of dit heeltyd deel was van my plan, wyd gebly en by die kuipe ingedraai. Net daar het ek besef dat die Tracer definitief ’n sportiewe kant ook het.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Tracer 9 kom in twee modelle: die 9 en die 9 GT. Ek het die GT-weergawe gehad vir ’n naweek.   Op die oog af is die Tracer-herkoms duidelik sigbaar, maar Yamaha het ook heelwat stileringselemente van hulle R1-fiets gebruik. Die hoofligte lyk heelwat kleiner totdat jy besef dat dit nie die hoofligte is nie. Soos met die R1 is die hoofligte twee LED-eenhede wat netjies in die bakwerk ingebou is. Dit vertoon uiters mooi en die bakwerk self het ook iets wat lyk soos die drukvlerke van hulle kompetisiemotorfietse. Die Tracer het ’n groot, maklik verstelbare windskerm en selfs handbeskermers.

(Foto: Brian Cheyne)

Die enjin is ook opgradeer en is nou die 890 cc-eenheid uit hulle kaalfiets, die MT-09. Dit is ’n meer doeltreffende enjin wat ook ligter is as die vorige weergawe. Die driesilinderenjin lewer 117 pk teen 10 000 rpm en beloof om meer ekonomies te wees. Dit, tesame met die groter brandstoftenk, behoort jou ’n groter reikafstand te gee. Yamaha het verskeie verbeteringe aan die raam aangebring om dit ligter te maak en die enjin sit nou laer in die raam. Die GT-model kry uiters doeltreffende snelskakeling en elektroniese semi-aktiewe vering by, met twee verstellings vir sport of gerief.

(Foto: Brian Cheyne)

Vir langafstandgemak sit jy regop op die Tracer. Die handvatsels is breed en die saal is herontwerp om meer ondersteuning te bied. Daar is selfs drie verskillende posisies vir die voetruste. So, om jou sit te kry op die Tracer behoort nie ’n probleem te wees nie. Voor jou is ’n baie vreemde instrumentepaneel wat in twee gedeel is. Die linkerkant bevat die meeste van die inligting soos spoed, toere en ratposisie. Aan die regterkant is vier blokkies wat jy kan verpersoonlik soos jy wil. Dit is ’n baie vreemde uitleg, en jy raak oorweldig deur die buitengewoon baie opsies waaruit jy kan kies.

(Foto: Brian Cheyne)

Die enjin is ongelooflik glad met die kenmerkende driesilinderklank. Een vreemde ontwerpkeuse is dat daar geen sigbare uitlaatpyp is nie. Dit wil voorkom asof die persoon wat die uitlaatpyp moes ontwerp nie sy huiswerk gedoen het nie. Die hele uitlaatstelsel eindig net stomp onder die fiets.

Op die pad is die Tracer waarlik ’n fees om te ry. Die ryposisie is uiters gemaklik en die snelskakeling werk seepglad, selfs teen lae toere. Die fiets is toegerus met spoedbeheer en verhitte grepe soos dit ’n sportfiets betaam. Ek wou nie ophou ry nie. Selfs op ’n koue en nat Saterdagoggend het ek uit die vere geklim en gery tot op Warmbad vir ontbyt en koffie. Die spoedbeheer het die verkeerspolisie weggehou en die verhitte grepe die koue. Ek het met die terugkomslag die ou R101 roete gery en selfs geniet om slaggate mis te ry. Die hantering is uiters sekuur.

Ek moes hard soek om fout te kry met die Tracer, en naas die uitlaatpyp is daar seker die verstelling van die verhitte grepe. Dit is versteek op die skerm en verg baie presiese verstelling met ’n wiel onder jou regterduim. Nie iets was jy op spoed moet aanpak nie.

Die Tracer kry dit dus reg om tegelyk sportfiets en toerfiets te wees. Ek kan hierdie fiets nie hoog genoeg aanprys nie. Dit is ’n ongelooflike gemaklike fiets om mee saam te leef en ek sal baie ver op hierdie fiets kan ry. Die toetseenheid het ek by Linex Yamaha in Randburg gekry, en as jy my nie wil glo nie, gaan loer gerus by hulle in en vra vir ’n toetsrit! Afhangend van jou spesifikasie begin die Tracer 9 se prys by R209 950 en die GT se prys by R249 950.

Besoek hulle webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.