Depressie tydens swangerskap ‘gevaarlik’

(Foto: Anthony Tran/Unsplash)

Depressie tydens swangerskap word dikwels nie gediagnoseer nie, word gevolglik nie behandel nie en kan ernstige gevolge inhou.

Só waarsku die Suid-Afrikaanse Psigiatriese Vereniging (Sasop) wat sê tot soveel as een uit elke vyf nuwe ma’s kan depressie voor of ná geboorte ervaar – ʼn groot risiko nie net vir hul eie gesondheid nie, maar ook vir die ontwikkeling van hulle pasgebore babas.

Gesonde ma, gesonde baba

Hoewel daar vantevore geglo is dat medikasie skadelik vir ʼn ongebore kind is, is daar toenemende wetenskaplike bewyse oor die veilige gebruik van antidepressante tydens swangerskap. Om dié medikasie te staak, kan volgens sommige kenners groter skade aan ma en baba aanrig.

“Die risiko’s wat antidepressante vir ʼn fetus inhou, word deurlopend oorskat, terwyl die risiko’s van onbehandelde depressie weer die heeltyd onderskat word weens die stigma wat aan geestestoestande kleef,” waarsku dr. Bavi Vythilingum, ʼn spesialis-psigiater en Sasop-lid.

Sy sê depressie tydens swangerskap word dikwels nie gediagnoseer en nie behandel nie omdat die fokus grootliks op die liggaamlike gesondheid van die ma en baba is. Dít kan egter lei tot vroeë kraam, lae geboortegewig en selfs ontwikkelingsvertragings.

Nageboorte-geestessiektes, wat by ma’s meestal kop uitsteek as depressie en angs, is naas wanvoeding die grootste risikofaktor vir swak ontwikkeling by pasgebore babas en jong kinders. Dít het dan weer ʼn uitwerking op kinders se eie geestes- en liggaamlike gesondheid, intellektuele vermoëns en toekomstige potensiaal.

Dit kan met bykans enigeen gebeur

Vythilingum sê die lewensverandering wat tydens swangerskap begin plaasvind, maak vroue meer kwesbaar vir geestessiektes en wanneer depressie voor of tydens swangerskap al by ʼn vrou gediagnoseer is, het hulle ʼn groter kans om nageboorte depressie te ontwikkel.

“Depressie en angs veroorsaak beduidende lyding en ongeskiktheid. Dit lei tot ʼn groter kans op middelmisbruik en selfdood, dit bemoeilik die ma se vermoë om haar baba te versorg en ʼn band te smee en ontwrig familieverhoudings,” sê sy.

(Argieffoto:
Carlo Navarro/Unsplash)

Geestesgesondheid tydens swangerskap word plaaslik en internasionaal as ʼn groot openbare gesondheidskwessie beskou. Suid-Afrika se departement van gesondheid beskou swangerskap- en kindergesondheid as een van sy kernprioriteite vir gesondheid, terwyl ʼn daling in swangerskap- en babasterftes een van die Verenigde Nasies (VN) se belangrikste doelwitte is.

Vythilingum sê bykans alle vroue kan geestessiektes tydens swangerskap of in die eerste jaar na ʼn baba se geboorte ontwikkel, maar voorafbestaande geestestoestande, alkohol- of dwelmmisbruik, ʼn gebrek aan maatskaplike ondersteuning, armoede en ongewenste swangerskappe verhoog die risiko. Blootstelling aan uiterste stres, of gesin- of geslagsgeweld kan óók gevaarligte laat flikker.

Kry betyds hulp

Sy sê swanger vroue of nuwe ma’s wat simptome van depressie ervaar, moet hul dokter, verloskundige of psigiater kontak sodat met ʼn individuele behandelingsplan begin kan word. Simptome sluit in ʼn versteuring in slaappatrone, gevoelens van onvoldoendheid, hulpeloosheid of paniek, ʼn gebrek aan motivering, of die gevoel dat jy sonder enige rede wil huil.

“Hoewel dit alles alledaagse tekens van depressie is, moet vroue en hul lewensmaat bedag wees op gevoelens van afgetrokkenheid teenoor die baba, ʼn gevoel dat sy nie die kind liefhet soos sy behoort nie en gedagtes dat sy haarself of die baba wil seermaak,” sê Vythilingum.

Psigoterapie is as ʼn reël die begin van behandeling en daarmee saam kom die mobilisering van familiesteun – veral deur die pa of lewensmaat – asook gemeenskapshulpbronne soos nageboorte- en babaklinieke.

(Foto: Brett Jordan/Unsplash)

Medikasie

Medikasie soos antidepressante kan voorgeskryf word, afhangend van die aard en erns van die toestand – en ook eers nadat die voordele én risiko’s van medikasie vir die ma en baba opgeweeg is.

“Klinici moet die groeiende bewyse van die nadelige en langdurige uitwerking van onbehandelde voorgeboortedepressie en depressiesimptome tydens swangerskap op kinders opweeg teen die bekende én nuwe studies oor die veiligheid van blootstelling aan antidepressante in die baarmoeder,” sê Vythilingum.

Sy stel voor vroue wat swanger word terwyl hulle antidepressante gebruik, moet die medikasie nie summier staak nie, maar moet eerder ʼn dokter of psigiater raadpleeg wat sal vasstel of die gebruik van die spesifieke medikasie voortgesit, verander of gestaak moet word.

Volgens Vythilingum is sogenaamde SSRI-depressante (serotonienheropnameblokkeerders) die beste nagevors en die veiligste vir gebruik tydens swangerskap met ʼn betreklik lae risiko vir die ongebore baba. Sy benadruk egter dat enige besluit oor die gebruik van medikasie altyd in oorleg met ʼn pasiënt se verloskundige en psigiater geneem moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.