Dié jonges slyp vroeg-vroeg al sakevaardighede

Dié vier jong “sakevroue” het vanjaar weggestap as wenners van AfriForum se Besigheidbytjies- en Juniorentrepreneurskompetisie. (Foto: Verskaf)

Jy is nooit te jonk om jou eie onderneming op die been te bring nie – en hiervan kan Immeke Nel (gr. 1), Chani Britz (gr. 6), Engelize Botha (gr. 7) en Nina Wärnich (gr. 10) (en dalk hul bankbalanse) getuig.

Dié vier jong “sakevroue” het vanjaar weggestap as wenners van AfriForum se Besigheidbytjies- en Juniorentrepreneurskompetisie nadat hulle met laerskool- en hoërskoolleerders van oor die land meegeding het om te kyk wie die beste produk of diens suksesvol kan ontwikkel, bemark én verkoop.

Die kompetisie word sedert 2019 jaarliks aangebied om vir jong, voornemende entrepreneurs ʼn voorsmakie van die sakewêreld te gee. Dit het oor die afgelope paar jaar gegroei van slegs ’n laerskoolkompetisie tot ’n kompetisie waar hoërskoolleerders nou ook kan inskryf.

Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk, sê dit was nog nooit so belangrik om jong volwassenes te help om hul entrepreneursvaardighede te slyp nie.

“Entrepreneurs maak ’n impak op hul maatskappye, gemeenskappe, die plaaslike ekonomie en sodoende ook die wêreld, maar entrepreneurskap is nie noodwendig iets waarmee almal gebore word nie.

“Dit is egter iets wat geleer, gevorm en uiteindelik ontwikkel kan word. Daarom wil ons kinders van jongs af help deur hul belangstelling in die sakewêreld te prikkel en hul vaardighede vroeg-vroeg te help slyp.”

Immeke wil onderneming uitbou

Klein Immeke Nel, ʼn gr. 1-leerder van Laerskool Newtonpark in die Oos-Kaap, het die eerste plek in die grondslagfase behaal met haar onderneming Immie’s Gifts.

Immeke wou genoeg geld hê om gaatjies in haar ore te laat inskiet en hieruit het haar onderneming – wat geskenke verkoop – gespruit.

“Toe ek vyf jaar oud was, wou ek wéér vir my oorbelletjies laat insit, maar Mamma het gesê ek moet hierdie keer self daarvoor betaal omdat ek my ander oorbelletjies self uitgehaal het.  Toe besluit ek dat ek ’n winkel nodig het om goedjies te maak en te verkoop sodat ek my eie geld kan maak.”

Haar twiggy pots is veral gewild en was die eerste produk wat sy gemaak het. Sy gebruik oorskiet-eikehout uit haar pa se werkswinkel en glasproefbuise om vars of gedroogde blomme uit te stal.

Immeke sê sy gaan haar kontantprys van R3 000 gebruik om ʼn groot kunsstel en ʼn breimasjientjie te koop om nóg geskenkies vir haar winkel te maak. Die res gaan reguit na haar spaarvarkie.

“Ek het by Besigheidsbytjies geleer dat ʼn mens nie al die geld wat jy maak, dadelik moet spandeer nie en ek moes ook leer hoe om geduldig te wees.”

Vir Chani is wen ʼn ‘bonus’

Chani Britz, ʼn gr. 6-leerder van Oranje Primêre Meisieskool in Bloemfontein, het met die louere in die intersenfase weggestap danksy haar onderneming Koekies & Krummels – wat veral gewild is onder haar koshuismaats.

“Ek het dit begin om my eie sakgeld te verdien en om soos my ouers ook ʼn entrepreneur te wees. Ek dink dit is goed as jy van kleins af leer werk,” sê Chani, wie se ma, Michelle, self ʼn suksesvolle sakevrou is. Sy verskaf gevriesde maaltye oor groot dele van Suid-Afrika en Namibië.

Die jong entrepreneur vertel dat haar pa en boetie altyd smul aan die krummels wat oorbly wanneer sy bak en brou. Só het sy besluit op die naam Koekies & Krummels.

Chani, ook ʼn kranige langafstandatleet, vertel dat sy met haar oorwinning aan haarself bewys het dat sy enigiets kan vermag. Haar prysgeld van R5 000 word gebêre vir ʼn oorsese toer na Engeland vir die Laser Run-wêreldkampioenskap.

“My ma sê altyd ʼn mens moet enige geleentheid aangryp want jy leer lewenslesse daaruit. Ek was baie, baie bly en baie trots op myself, maar die wen was eintlik net ʼn bonus.”

Engelize los velprobleem self op

Engelize Botha, ʼn gr. 7-leerder aan Laerskool Anton van Wouw in Pretoria, het R7 000 se prysgeld in haar sak gesteek danksy haar unieke velsorgproduk genaamd Zoemsalf.

Sy is vanjaar se wenner in die senior fase. Engelize se onderneming is gebore uit haar eie behoefte om ʼn oplossing vir haar droë vel en lippe te vind.

“Die medikasie wat ek vir my vel gebruik, het droë akneekolle op my vel gelos en my lippe ook baie droog gemaak. Die produkte op die mark was baie duur en ook glad nie effektief nie, toe probeer ek om self iets te maak.”

Zoemsalf bestaan uit 100% organiese produkte, waarvan die hoofbestanddeel byewas is. Dit kan op die vel, lippe en selfs insekbyte en klein brandwonde aangewend word.

Engelize terg dat haar ma dit selfs as ʼn oogroom gebruik.

Sy is verheug oor haar oorwinning, maar Engelize sê haar deelname aan die kompetisie het haar veral waardevolle lesse oor entrepreneurskap geleer.

“Ek het geleer wat om te doen van die beginfase af en hoe om ʼn unieke produk te ontwikkel waar daar ʼn behoefte is. Ek is ook bly dat al my harde werk nie verniet was nie en die wen gee my nog meer motivering om harder te werk.”

Nina bou een kraletjie op ʼn slag

Nina Wärnich, ʼn gr. 10-leerder van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP), was die wenner van die VOO-fase (verdere opleiding en onderrig-fase) en het R10 000 in haar sak gesteek danksy haar onderneming genaamd Nini Jewelry.

Nina glo ʼn knap begroting moenie in jou pad staan wanneer dit by mode kom nie. Daarom vervaardig sy bekostigbare handgemaakte krale-produkte, waarvan haar sonbril-toutjies die gewildste is.

Kliënte kan ook die produkte verpersoonlik om by hul eie styl te pas.

“Hierdie was ʼn goeie geleentheid om vir my besigheid blootstelling te gee, terugvoer van kundiges te kry sodat ek dit kan verbeter en kapitaal te gegeneer om dit verder uit te brei,” vertel Nina.

Sy gaan ʼn gedeelte van die prysgeld in haar onderneming terugploeg en ʼn gedeelte aanwend vir ʼn Duitse uitruilprogram in Desember. Haar langtermyndoelwit is egter om Nini Jewelry uit te brei sodat dit later tot haar universiteitstudies kan bydra.

“Ek was heeltemal verras en my hart het oorgeloop van dankbaarheid. Daar was soveel goeie inskrywings en die mededinging was straf. Ek voel bevoorreg dat die publiek en beoordelaars die potensiaal in my besigheid raakgesien het en vir my inskrywing gestem het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.