Geweld is nie meer ’n stille plaag

(Argieffoto: Pixabay)

Hoeveel meer geweld kan die mensdom verduur? Ons sien missiele wat stede vernietig, geweervuur wat ​lewens neem. Maar dit is net een manier waarop geweld in ons tyd afspeel.

Nader aan die huis – in die huis – is geweld alledaags. Gedurende die eerste ses maande van die inperking in 2020 het een Tshwane-inbelsentrum meer as 1 000 oproepe, van vroue en kinders wat vir hulp met gesinsgeweld vra, per dag aangemeld.

“Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me…” was ons verweer as ʼn boelie se woorde ons seergemaak het toe ons kinders was. Maar die waarheid is dat woorde net soveel pyn as fisiese geweld kan veroorsaak. Die feit is, in gevalle van fisieke geweld is woorde gewoonlik net die begin.

ʼn Video wat opslae gemaak het op sosiale media oor geweld in ʼn Oos-Randse skool, het weer die werklikheid van geweld in ons land uitgelig.

Geslagsgebaseerde geweld, geweld tussen huweliksmaats, gesinsgeweld − dit is ons realiteit.

In die Verenigde Koninkryk daag die #HaveAWord-veldtog mans uit. Die veldtog bereik mans met die vraag: “Wat dink jy as jy hierdie soort geweld deur jou maats toelaat? Hoekom praat jy nie om dit te stop nie?”

Die Johnny Depp en Amber Heard-hofsaak beklemtoon die feit dat geslagsgeweld nie net mans is wat vrouens bedreig nie, maar die omgekeerde kan wees.

Die rol van bykomende faktore in verhoudings moet altyd in ag geneem word: alkohol, dwelms, armoede en werkloosheid. Dit kan beslis geweld veroorsaak. ʼn Broodwinner wat sy werk verloor en nie ʼn ander werk kan kry nie, ervaar dit as meer as net ʼn geldkwessie. So ʼn persoon ly verlies aan selfagting, raak en voel hulpeloos. Hy voel ongewens en nutteloos. En as familielede negatief reageer, kan hulle heel moontlik knoppies druk wat tot geweld kan lei.

“Ongelukkig reik baie mense na middels om hulle te help om die stres in hul lewens te hanteer. Dit kan wel help om ʼn persoon te laat ontspan, maar kan groei tot ʼn volwaardige afhanklikheid van ʼn middel, selfs gewone pynstillers. Dit maak dinge baie erger. As maatskaplike werkers sien ons ʼn skerp toename in hierdie probleme en ongelukkig is dit meestal die kinders in ʼn gesin wat die ergste hieronder ly. Hulle ontwikkel leerprobleme, sukkel met interpersoonlike kwessies en gesonde ontwikkeling is nie moontlik nie,” sê Marize Nel, toesighouer by CMR Gauteng-Oos.

“Ons standpunt is absoluut duidelik oor geweld. Dit is nie die antwoord nie, nooit, en in geen situasie nie. Dit maak sake erger en plaas die kwesbares in die spervuur. Die samelewing as geheel behoort moeite te doen om geweld in die huis te bekamp. Dit begin met respek vir ander mense en is iets wat alle ouers hul kinders kan leer,” sluit sy af.

  • Kontak CMR Gauteng-Oos se hoofkantoor by 012 361 4619 of die naaste tak van ʼn welsynsorganisasie vir meer inligting of hulp.
  • Besoek die CMR Gauteng-Oos se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.