Grysblou is die kleur van emigrasie

Argieffoto (Pixabay)

Deur dr. Sulette Ferreira

As navorser het ek soms die voorreg om vir ʼn kort rukkie in mense se lewensreise te deel. Dit gee my ʼn kykie in hulle leefwêreld; dikwels deur wawyd-oop harte en soms net deur ʼn skrefie-oop venster.

Om te verstaan

“Kom gerus binne,” nooi die statige 70-jarige dame. Haar knus meenthuis is met jare se keurig uitgestalde herinneringe versier; getuienis van ʼn leeftyd se liefdevolle verhoudinge. Sy bedien vir ons rooibostee in fyn, wit-en-pienk, roosversierde koppies. Ek skakel die bandspeler aan. “Vertel my asseblief die verhaal van u dogter wat geëmigreer het?” Sy kyk stip voor haar uit. Haar stemtoon dra gesag. Dit is duidelik dat sy al die onderwerp deurdink het. In die suiwerste Afrikaans ontvou ʼn lewensverhaal wat my vir altyd sal bybly:

Sy was so ʼn integrale deel van my lewe. Vir haar troue maak ek vir haar ʼn trouboek. Die aanhef is in die vorm van ʼn brief waarin ek my hart uitstort: “Jy is die wonderlikste ding wat in my lewe kon gebeur.”

My moeder se naam was ook “M”. Aan die begin van my lewe het ek ʼn “M” gehad wat my hand vasgehou en my gelei het. Ek het daarna uitgesien om ook ʼn “M” te hê wat my hand aan die einde van my lewe gaan vashou.

Dit was eenvoudig nie vir my beskore nie. Die wete dat ek haar in hierdie mate moes ontbeer, was vir my ongelooflik traumaties. Alles waarna ons uitgesien het – ons saamwees, die belewenis van my kleinkinders, die totale integrasie wat daar tussen ons was – is net stomp afgekap.

Vandag bevind talle Suid-Afrikaanse ouers hulle in die situasie waar hulle kinders en kleinkinders nie meer teenwoordig is om hulle “goue jare” te verryk nie. So ervaar hulle ʼn vreemde “kroniese hartseer” oor geliefdes met wie hulle gereeld oor ʼn langer afstand gesels, maar fisiese nabyheid altyd ontsê word. In my studie rakende die ouer wat in Suid-Afrika agterbly ná die emigrasie van ʼn volwasse kind, vleg verlies soos ʼn goue draad deur die emigrasieproses. Later in my navorsing kon ek ʼn naam vir hierdie hartseer vind: onuitgeklaarde verlies.

ʼn Onuitgeklaarde verlies

Met permanente emigrasie van volwasse kinders word elke rolspeler op ʼn unieke manier deur ʼn verskeidenheid verliese geraak.

Die volwasse kinders wat hierdie lewensveranderende besluit neem, bevind hulself in ʼn tussen-in wêreld waarvan hulle opnuut moet sin maak. Hulle ervaar die verlies van moedertaal, bekende omgewing, tradisionele waardes en gewoontes, familiestrukture en dalk ook hulle manier van geloofsuitdrukking.

Vir die ouer voel die kind ná emigrasie fisies onbereikbaar. Die gevoel van voortslepende afskeid en onvervulde behoefte om naby jou kinders te wees, maak gereeld met jou emosies amok. Dis die onopgeloste vrae oor wat kón gewees het, wat móés gewees het, en veral die onbeskryflike verlange om bymekaar te wees.

Oor hierdie emigrasieverlies is talle boeke geskryf en dramatiese films gemaak. Pauline Boss van die Universiteit van Minnesota definieer hierdie ambiguous loss (onuitgeklaarde verlies) as ʼn onsekere en onvoltooide verlies wat die rouproses kan vertraag en belemmer. Boss onderskei twee tipes onuitgeklaarde verliese.

Met die eerste tipe is die persoon fisies teenwoordig maar emosioneel afwesig, soos byvoorbeeld mense met Alzheimer se siekte, ernstige depressie, afhanklikheid, kroniese siektetoestande, asook verslawing aan werk of rekenaarspeletjies. Die persoon is fisies aanwesig, maar word ervaar as emosioneel “afwesig”.

By die tweede tipe verlies is die persoon fisies afwesig maar psigologies steeds teenwoordig. Voorbeelde is die emigrasie van ʼn geliefde, egskeiding, en ʼn kind wat vir aanneming opgegee is. Afsluiting word bemoeilik deur die wete dat die persoon leef, maar nie in persoon bereikbaar of beskikbaar is nie.

ʼn Onuitgeklaarde verlies kan jou lewe in die oomblik laat vries – jy kan nie vorentoe of agteruit beweeg nie. Dit voel kompleet of iemand jou pause-knoppie gedruk het en jou lewe op hold plaas. Hierdie immobilisering skep verwarring en hartseer, wat ook depressie tot gevolg kan hê.

In die hantering van die verlies is dit belangrik om die emigrasieverlies ʼn naam te gee, want dit valideer jou verlies. Dit eksternaliseer die probleem en verminder die geneigdheid om skuldig te voel en jouself vir die situasie te blameer. Jy kan nie die situasie verander nie, dit is buite jou beheer. Jy het egter beheer oor hoe jy daarop gaan reageer.

Everything can be taken from a man but one thing: the last of the human freedoms – to choose one’s attitude in any given set of circumstances, to choose one’s own way. (Viktor E. Frankl – Man’s Search for Meaning)

Die blou van verlang

Tydens gesprekke met ouers beskryf hulle dikwels hierdie emosie van verlange as ʼn gemis en “wens ons kinders was hier of ons was daar”.

ʼn Ouer beskryf hierdie verlange soos volg:

Jy weet, ek word partykeer in die nag wakker dat ek so ʼn intense verlange na die kinders het, dit is ongelooflik. Maar weet jy wat, snaaks, ek vertel dit nooit vir hulle nie, maar ek sê ek verlang, jy sê mos maar jy verlang. Maar ek dink nie hulle weet van ons regtige seer nie.

Hierdie emosie van verlange bekruip ʼn mens soms op die onmoontlikste tye. Dit is asof jy goed funksioneer en dan net ewe skielik, met die hoor van ʼn liedjie of ʼn toneel in ʼn film, daardie leë gevoel ervaar. Die gevoel wat so swaar op jou hart kom lê en so moeilik is om te verduidelik … verlange.

Laurika Rauch se liedjie “Blou” gee spesiale uitdrukking aan so ʼn verlange. Haar rou emosiebelaaide stem spreek van melancholie:

wie sou verstaan hoe ek sou voel?

wie sou verstaan?

oral om, om my heen is dit blou

ek wil by jou wees

ek wil by jou wees vanaand

alles is blou

alles oor jou

Emosies soos verlange dien om verhoudings in stand te hou en te bevestig. Hierdie behoefte om op ʼn tasbare manier weer bymekaar te wees en om met jou geliefdes herenig te word, lei tot aksie – ook oor groter geografiese afstande heen.

Hoe hanteer ek as ouer die emosies?

Ons meet goeie ouerskap dikwels aan die gehalte van samesyn en hoe teenwoordig en aktief jy by jou gesin betrokke is. Vroue (en moeders) het daarom ʼn behoefte om gereeld te kuier en meelewende versorging te bied. Emigrasie maak dit baie moeilik en ouers voel soms magteloos. Ons moet anders leer dink oor ons betrokkenheid en ná emigrasie nuwe metodes ontwikkel om in kontak met familie wat ver is te bly.

Die internet maak dit vandag makliker. Selfone se video- en stemfunksies kan julle steeds in mekaar se lewens teenwoordig laat voel. Dit gee aan die kinders ʼn blik op wat in julle lewens gebeur. Dink jou ook in húlle leefwêreld in en hou die gesprekke interessant. Bly positief – hulle moet immers lus wees om weer te bel of selfs weer by die huis te kom kuier!

ʼn Ander manier van kontak hou, is om tasbare voorwerpe soos foto’s, briewe en gedenkwaardighede te gee. Simbolies is so ʼn geskenk die verpersoonliking van die verre geliefde, wat die inhoud daarvan ver kan oortref. Só vertel een emigrasiemoeder:

Op die laaste dag het my seun vir my ʼn besondere geskenk gegee: ʼn amulet wat ʼn Maori aan sy geliefde gee as simbool van die besondere band wat hy met haar het; ʼn tasbare simbool van hulle toekoms en wat hulle alles met mekaar gaan deel. Dis nou een van my kosbaarste besittings, al woon ons kontinente uit mekaar!

Stuur daarom asseblief ʼn geskenk vir jou verre kleinkind. Draai dit versigtig met ryspapier toe, want dit moet ver reis, en dis tog immers ʼn stuk van (of dalk jou hele) hart wat jy ook in daardie boks sit!

  •  Dr. Sulette Ferreira is ’n familieterapeut in privaatpraktyk wat in berading en navorsing vir gesinne wat emigreer spesialiseer.
  • Hierdie artikel is met die vergunning van die tydskrif Granaat, van Die Dameskring, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.