Hoe sien God kinders?

Foto ter illustrasie. (Foto: Willsantt/Pexels)

Deur Sonia Swart

“Pa, Meneer sê Pa moet plan maak om vir my skoolskoene te koop!”

“Nag Mamma… o ja! Môre moet ek 100 koekies vir die klasverkoping vat…”

“Ek wens daai kind hier langsaan wil net ophou skree!”

Kinders is deel van elke samelewing. Selfs al is jy kinderloos, is daar altyd êrens ʼn kind wat jou pad kruis as bron van vreugde, kommer of irritasie. Dus is dit belangrik dat ons probeer bepaal wat God se perspektief oor kinders is. Kom ons begin by Matteus 18:1-14.

ʼn Interessante ding gebeur in die eerste vers, ʼn diep menslike ding. Die “wie van ons is die belangrikste?”-vraag ontstaan onder die dissipels.

Om hulle te antwoord, laat staan Jesus, verbasend genoeg, ʼn kindjie tussen hulle en rig Hy boonop ʼn uitdaging aan die dissipels om so nederig soos hierdie kind te word as hulle hoegenaamd belangrik genoem wil word en die koninkryk van die hemel wil binnegaan (V3 en 4.) En nog is die verrassings nie klaar nie, ook vertel Jesus sy leerlinge dat wie ʼn kind namens Hom ontvang, Hom ontvang (v5).

Vreemd, want hoe word ʼn grootmens weer so afhanklik en nederig soos ʼn kind? Ons streef dan juis daarna om opgang te maak. Elke kerfie op die statusleer tel. Meer mag, meer aansien, meer geld… Ook die dissipels het nie die drang na grootsheid en erkenning vrygespring nie. Ek dink nogal die bedreigdheid deur en frustrasie met mekaar het so dik geloop dat hulle nie anders kon as om te vra wie van hulle dan nou eintlik die belangrikste – die leier – is nie.

’n Omverwerping van waardes

Jesus trek ʼn streep deur alles wat die mense om Hom as status en belangrik beskou, deur ʼn kind as voorbeeld te gebruik. Vanuit God se perspektief, is belangrikheid nie ʼn opwaartse klim teen die leer van prestasie en status nie. Eerder die teenoorgestelde. ʼn Kind, sonder enige aansien verteenwoordig nie net ander kinders nie, maar al die weerloses. Die randpersone by wie ons maklik verbybeweeg, juis vanweë hulle tekort aan status. Dink maar aan die bedelaar en straatkind, die moeë vrou wat jou aankope in sakkies laai en die agtergrondfigure in die organisasie waar jy werk. Dis diesulkes op wie Jesus hier die fokus plaas.

In die Bybelse tye, het kinders baie lae status gehandhaaf. En juis daarin lê hierdie kind se belangrikheid! Jesus verwag van sy volgelinge die gesindheid van algehele afhanklikheid en nederigheid, soos die van ʼn kind. God leer sy leerlinge dat omgekeerde waardes in sy Koninkryk geld.  Hy ag die nederiges en afhanklikes.

In die eerste vier Bybelboeke, sien ons dat Joodse kinders wel van waarde geag is. Teen die tyd van Jesus se aardse bestaan, is die Joodse kultuur egter al sterk deur dié van die Romeine en Grieke beïnvloed. Kulture waarin kinders nie van waarde was nie. Dit is teen hierdie agtergrond dat Jesus die voorbeeld van omgekeerde waardes met die hulp van ʼn kind illustreer.

Meer nog, ’n kind word die maatstaf

Hoe ʼn kind aanvaar en behandel word, word die nuwe maatstaf. Ongeag hoe besig ek en jy is, hoe belangrik en vuil en verflenterd die straatkind op die hoek of die irriterend die woelige kind in die kerk, klaskamer en huis is – as Sy verteenwoordigers vra Hy ons om hulle en ander “onbelangrikes” lief te hê.

Dit beteken om kinders te dien met die selfloosheid van Jesus. Om na hulle fisiese, emosionele en geestesbehoeftes om te sien soos wat Jesus regdeur sy bediening na die behoeftes van mense omgesien het.

Deel jou geloofslewe met kinders

Daar is meer gedeeltes in die Bybel wat kinders insluit, maar kom ons staan ʼn oomblik by Deuteronomium stil. Hier vind ons God se volk op die punt om die Beloofde Land te betrek. Die skrywer, waarskynlik Moses, gebruik ʼn kragtige manier om seker te maak dat die volk se geloof versterk word voor hulle meer met ander kulture en godsdienste te doen gaan kry. Hy laat hulle die geskiedenis en wat hulle beleef het, weer hoor en oorvertel.

Wat my herinner aan Karien en haar ma wat deur hulle gesinsboek blaai.

“Hierdie was toe ek gebore is, nê Mamma? Wag, ek wil net weer lees wat julle geskryf het… sjoe, julle was darem bly toe ek gebore is! Pappa skryf dat julle vyf jaar vir my gewag het. ”

“En hierdie was toe Theunsie in die hospitaal was. Ek onthou ek kon op sy hoë bed sit toe ons vir hom gebid het;”

“Hier het Pappa geskryf hoe die Here vir ons gesorg het toe Pappa sy werk verloor het. Ek onthou die kruideniersware wat ons voor die deur gekry het!”

“Ek onthou hierdie dag toe ons ʼn Outannie se groentebakke gemaak het. Ek kon haar help om tamaties te saai.”

Karien se ouers het ʼn plakboek gebruik om hulle uitlewing van Deuteronomium 6:1-9 se opdrag te onthou. Hulle het erns gemaak met die opdrag om “by die huis, op pad, wanneer jy gaan slaap en wanneer jy opstaan” – met ander woorde elke oomblik van die dag – oor God se Woord te praat, maar ook as gesin uit te leef. Inderdaad verg geloofsoordrag meer as feite en inligting oordra. Wie jy is en hoe jy leef, bepaal hoe kinders om jou word en hoe hulle glo en leef. Dit verg meer as om in stilte te glo, dit verg aktiewe gesprek, saamdoen en saambid.

Dink ʼn bietjie na hoe dikwels jy geloofsaktiwiteite met kinders deel? Sondae is dit gerieflik om hulle uit te stuur na die kinderkerk. By selgroepbyeenkomste kyk die kinders dikwels in ʼn ander vertrek na ʼn DVD. Kinderpreke is geneig om vermaaklik te wees en baie truuks word gebruik om dit “kindervriendelik” te maak, maar die prediker besef nie dat sy voorbeelde abstrak is nie. Daardie glas met die bleikmiddel wat die gekleurde water “skoon was soos Jesus se bloed” – almal bo twaalf kan dink dis ʼn oulike voorbeeld. Almal onder daardie ouderdom gaan waarskynlik vassteek by een van die abstrakthede – hoe kom Jesus se bloed in die glas? Hoe was bloed iets skoon? Hoe kom die bleikmiddel by hart uit om dit skoon te was?

Kinders kan saam met ons glo, saam met ons vir siekes bid, in die sopkombuis help, die eensames besoek. Ons moet net leer hoe om hulle deel daarvan te maak, hoe om konkrete taal te gebruik en bowenal moet ons aanvaar dat daar nie ʼn mini-Heilige Gees is nie. God woon met sy volle krag in kinders, ons taak is om hulle in te sluit en as mede-dissipels te begelei. *

Hoe kan ek kinders namens God liefhê?

Dr. Sonia Swart (Foto verskaf)

ʼn Gemeenskap wat kinders insluit en waar kinders veilig is en gerespekteer word, voer God se liefdesopdrag uit. Ons betree ʼn kind se leefwêreld as ons ʼn respekvolle verhouding met hom kweek, saam met hom speel en met aandag na hom luister. Ook as ons met hom praat. Eerlik is oor waar ons faal en waar ons moet groei.

Ons aanvaar hom onvoorwaardelik net soos hy is. Ons skep ʼn ruimte waar hy veilig is, gee aan hom erkenning en probeer om sy hart en lewe regtig te verstaan. Selfs wanneer ons grense stel, moet die leiding en dissiplinering in ʼn atmosfeer van liefde geskied. Dink daaraan asof God langs ons staan as ons met ʼn kind praat, ʼn kind aanraak – ja, ook wanneer ons doelbewus ʼn kind se behoeftes ignoreer.  Kinders is so belangrik dat die engele voortdurend voor die Vadertroon verskyn om oor hulle welsyn te berig (Matteus 18:10.). God is geïnteresseerd in die kinders om ons. Durf  ʼn selfoon, werk, werkloosheid, drank, sport, vriende… wat ook al, so belangrik wees dat ons nie tyd het of wil moeite maak ter wille van kinders nie?

Tyd en spel

Kinders spel liefde TYD. Maar kinders is tweetalig, want hulle spel liefde ook SPEEL. Kieliegevegte, bordspeletjies, balskop – speel soveel as moontlik. Maar, laat die kinders lei – speel die speletjie soos hulle wil. Moenie inbars en oorneem nie. Vra of en hoe jy mag saamspeel.

God nooi ons om oor Matteus 18:1-14 en Deuteronomium 6:1-9 te besin en Hom te vra hoe ons oor die kinders in ons omgewing moet dink en teenoor hulle moet optree.

  • Sonia is ʼn dogter van God, mamma van ses en ouma van nege kleinkinders. Sy en haar gesin het 29 jaar gelede by die Petra Instituut betrokke geraak. Dié instituut is ʼn organisasie sonder winsbejag wat gemeenskappe wil skep waar kinders veilig is en gerespekteer word, deur leiers in sulke gemeenskappe op te lei. Sonia is ʼn mentor van studente wat die Petra Instituut se aanlyn kursus volg en sy is ook betrokke by geldinsameling vir die instansie. Sonia het ʼn PhD in praktiese teologie: pastorale berading aan die Noordwes Universiteit verwerf. Sy bieg dat sy ʼn hopelose kok en naaldwerkster is, maar geniet navorsing, lees en skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marié ·

Dis baie waar. Ek stem saam dat Sy koninkryk omgekeerd is waar die kleinste en minste na waarde geag word. Tog ervaar ons dit dikwels nie in kerke nie.
Ek onthou hoe ons saam Heidi Baker sendingwerk in Mosambiek se bos gedoen het, en dat ons dikwels kinders saamgeneem het, party selfs so jonk as 3-4 jaar. Dikwels het die blinde oë begin sien en die dowe ore oopgegaan as hierdie kindertjies hulle handjies opgelê en vir mense gebid het. Ek glo dat dit is omdat hierdie kinders se harte rein en hulle gebed opreg is.
Ons kan dus baie by kinders leer – veral om weer soos ń kind te glo en die lewe met baie vreugde en opgewondenheid te benader…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.