Navigeer gesinstyd, -pret en nuwe tegnologie só

(Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Covid-19 en al sy pyne en uitdagings het nuwe tegnologie laat blom. Werk-, familie- en vriendskapsverbindings is op verskillende platforms en vlakke ontwikkel.

Dit is nuut en anders as enigiets wat ons voorheen geken het.

Volgens Erna Rheeder van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) is dit veral ouers wat hul weg moet vind en hul gesinne moet leiding gee op hierdie opwindende, maar ook vreesaanjaende reis.

“Op internasionale Gesinsdag wat op 15 Mei gevier word, wil die SAVF weer benadruk hoe belangrik gesinne is. Die manier waarop gesinne tegnologie hanteer, is van kardinale belang. Omhels, bemagtig, kontak, balanseer en beskerm, is sleutelwoorde wanneer gesinne nuwe tegnologie aanpak,” sê Rheeder.

Die SAVF het ʼn paar wenke vir gesinne wat wonder hoe om die gebruik van tegnologie beter te bestuur:

  1. Ouerbemagtiging

“Bemagtig jouself en ander as ouers deur middel van tegnologie. Goeie ouerskapopleiding, webinars en artikels is aanlyn beskikbaar.”

Volgens Rheeder is daar talle positiewe ouergroepe op Facebook wat uitstekend is om te volg.

“Vul jou gedagtes met mooi, bemoedigende inhoud deur Facebook-bladsye met dié karakter te volg. Begin WhatsApp-ouergroepe waar vrae en antwoorde oor ouerskap gedeel kan word. Vra die kundiges op Google, of enige ander plek. Gebruik tegnologie om die beste ouer moontlik te word.”

  1. Sorg vir balans as jy van die huis af werk

“Om van die huis af te werk, beteken dat jy meer tyd het om te werk. Wees egter wys met jou tyd. Laat jou werk ’n begin- en afsluittyd hê, asof jy op kantoor is. Neem pouses om te eet, ontspan, te strek en op iets moois te fokus.”

Rheeder benadruk dat dit belangrik is om ʼn definitiewe begin vir gesinstyd vas te stel as jy steeds tuis werk.

“Wys dat gesinstyd vir jou belangrik is en koester jou gesin – al vra dit baie selfdissipline om weg te breek van jou werk.”

  1. Tegnologie-verwante pyne

“Hoe langer ons op rekenaars werk, hoe meer fisieke pyne en spierspasmas ervaar ons. Oefening, stap, hardloop, fietsry en balspeel as gesin, is van die maniere om pyne te voorkom en daarvan ontslae te raak. En saam met hierdie gesinspret voorkom jy ook donker buie en depressie in jou gesin.”

Rheeder sê as jou gesin saam met bogenoemde die skoonheid van die natuur, musiek of kuns kan geniet, verseker julle terselfdertyd mekaar se fisieke én emosionele gesondheid.

  1. Beskerm en bemagtig jou kind

“Saam met al die voordele van tegnologie, kom blootstelling aan pornografie, kuberafknouery en ander bedreigings. Kry inligting oor programme, sagteware en ander maniere om jou kind te beskerm.”

Rheeder meen dit is uiters belangrik om jou kind te bemagtig met maniere van selfbeskerming.

“Leer jou kind selfdissipline oor die gebruik van tegnologie – deur jou voorbeeld en deur belangrike waardes soos gesinstyd en gesinspret te handhaaf, te koester en aan te moedig.

“Ons moet almal rus, ontspan en met mekaar gesels. Waardeer en beskerm dit deur tegnologievrye etenstye, speeltye en rustye in te stel.

“Hierdie riglyne kan ons as gesinne help om na aan mekaar en sterk en veerkragtig te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.