Ouerskapsvaardighede om kinders te ondersteun

egskeiding-SA-huweliksweek

(Argieffoto.)

Niemand het die reg om ʼn kind van ʼn ouer te vervreem sonder goeie gronde nie. “Ons sien gewoonlik dat die ander ouer die skuldenaar is,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelik Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

Egskeidings waar die ouers op slegte terme uitmekaar gaan, speel die grootste rol hier. Baie ouers kan nie hul negatiewe emosies teenoor die ander ouer opsysit tydens interaksie met hul kinders nie. Dit maak die trauma soveel erger vir die onskuldiges, naamlik die kinders.

“Ongelukkig maak ouers wat nie goeie ouerskapsvaardighede het nie hul kinders die teiken. Om woede teenoor die ander ouer op kinders uit te haal, kom algemeen voor. Die Kinderwet (Wet 38 van 2005) beskryf dit as emosionele mishandeling.

Van der Merwe sê om ʼn kind by die kwessies wat die egskeiding veroorsaak het te betrek, is hartseer en onaanvaarbaar. Net so ook om blatant sleg van die ander ouer te praat. “Dit is nie aanvaarbaar om die ander ouer se optrede met die kinders te bespreek nie, of om negatiewe dinge van die ander persoon te sê nie. Baie ouers kom hier kort. Hulle is geneig om hul frustrasies die loop te laat neem sonder om die effek wat dit op die kinders kan hê, in ag te neem.

“Dit gaan egter veel verder as net om die verkeerde dinge voor kinders te sê. Ouerlike vervreemding is om met voorbedagte rade die kind van die ander ouer te probeer vervreem deur kontak en ʼn verhouding met die ander ouer te ondermyn. Selfs waar daar rede is om dit te doen, moet ʼn kind nooit in die middel geplaas word nie.

“Indien daar rede is om te glo dat ʼn kind van ʼn ouer weggehou behoort te word, moet ʼn kinderbeskermingsorganisasie of professionele persoon wat in die veld van gesin- of kinderondersteuning werk, gekontak word om dit te ondersoek en te bepaal hoe daar in die kind se belang te werk gegaan behoort te word.

“Daar is wel gronde hiervoor, soos ouers wat middelafhanklik is en behandeling weier. In so ʼn geval kan die kind se lewe selfs in gevaar wees. Dit is dan in sy beste belang vir ander om in te gryp en te help om ʼn veilige hawe vir die kind te vind waar hy die regte ondersteuning kan kry.”

Van der Merwe sê daar is gevalle regoor die spektrum, van lewensgevaarlike situasies tot alledaagse gevalle. “In elke geval sal ʼn maatskaplike werker die omstandighede assesseer en sal daar bepaal word wat die beste uitkoms vir ʼn kind sal wees. Dit kan korttermynterapie om ʼn gebreekte verhouding te herstel wees, of langtermyningryping in ʼn kind se lewe om die beste uitkoms vir die kind te verseker.”

  • Kontak CMR Gauteng-Oos se hoofkantoor by 012 361 4619 of die naaste tak van ʼn welsynsorganisasie vir meer inligting of hulp.
  • Besoek die CMR Gauteng-Oos se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.