Pleidooi vir meer pleegouers

(Argieffoto: Unsplash)

Kinders wat verwaarloos word, word al hoe meer – maatskaplikesorg-organisasies se syfers getuig daarvan.

“Ons dienste aan gesinne is omvattend, en ons sien dat die uitdagings al hoe erger word,” sê Henda van der Merwe, direkteur van Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“Werkloosheid en armoede, veral na die pandemie, dra by tot kinders wat sorg benodig. In die ergste gevalle moet kinders verwyder word, soos waar ʼn ouer ʼn bedreiging is en kinders verwaarloos en mishandel word. Fisieke en emosionele mishandeling kan alles insluit van lyfstraf, aanranding soos om ʼn kind met ʼn sigaret te brand, of selfs om die kind kos te weier.”

Emosionele mishandeling is moeiliker om te identifiseer: dit kan vernedering, dreigemente asook herhaalde beledigings insluit. Kinders wat deur hul ouers verkleineer word, kan die letsels daarvan in hulle grootwordjare saamdra, verduidelik van der Merwe.

Maar mishandeling is slegs een van die maniere waarop ouers hul kinders benadeel. Verlating is nog een, en kinders wat verlaat word het onmiddellike hulp nodig.

“Ons maatskaplike werkers kom soms by huise waar kinders wel saam met ouers in ʼn huis woon, maar daar nie in hul basiese behoeftes voorsien word nie, soos skoon klere, liggaamlike higiëne en kos. Ons het al sesjariges gesien wat nog nooit geleer het om met ʼn mes en vurk te eet nie omdat hulle net op broodjies en worsies grootgemaak is. ʼn Kind soos hierdie ly aan ernstige langdurige wanvoeding – wat ook kan lei tot vrot tande,” vertel sy.

Die eerste stap vir so ʼn kind is ʼn plek van veiligheid, waar hy of sy deur ʼn bevel van die kinderhof geplaas word.

“Ons het nie genoeg sulke fasiliteite nie,” beklemtoon Van der Merwe. “Dit is ʼn groot probleem waaraan aandag gegee behoort te word. Dan het ons ʼn pleegouerprogram, waar ouers georiënteer word ten opsigte van die eise van pleegsorg.

“Pleegouers is mense wat hul huise en harte oopmaak om sorgbehoewende kinders nog ʼn kans te gee. Die doel daarvan is om die kind weer te kan terugplaas by die ouer, as dit moontlik sou wees. Die hofbevel vir pleegsorg is vir twee jaar, en moet dan weer hernu word. Pleegouers kan wel aansoek doen om ʼn kind permanent aan te neem, wat kan gebeur as die ouers nie die kind kan terugneem nie.”

Hierdie kinders is gewoonlik getraumatiseer en dit word deur hul ervaring van die lewe, en gedrag, geopenbaar. “Daarom werk ons maatskaplike werkers ʼn pleegsorgplan vir elke kind uit, wat saam met die ouers in plek gestel word, gemonitor en aangepas word, soos nodig.

Party van die kinders vereis onverdeelde aandag, wat ʼn stremming op die gesin kan plaas. Daarom is dit van groot belang dat almal ondersteun word. So ʼn kind se gedrag is soms nie normaal nie en kan impulsbeheerprobleme, swak onderskeidingsvermoë, ontwikkelingsprobleme en kognitiewe probleme, om maar net ʼn paar te noem, insluit.

Van der Merwe noem dat hierdie maar net die punt van die ysberg is. Die organisasie se dertien satelliettakke regoor Pretoria, het tans 931 gesinne in hul pleegsorgprogram en benodig steeds meer pleegouers.

  • Besoek www.cmroos.co.za vir meer inligting of kuier saam op die tak se Facebook-blad indien jy betrokke wil raak by die CMR Gauteng-Oos se pleegsorgprogramme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.