Só vaar SA spanne by WRO

Argieffoto (Foto: HensleyStudios/Pixabay)

Die Wêreld Robotika Olimpiade (WRO) bring jong mense jaarliks byeen om hul kreatiwiteit, ontwerp- en probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel deur opvoedkundige robotuitdagings.

Maroela Media het vroeër berig dat sowat 200 spanne van 70 lande van 17 tot 21 November aanlyn in die WRO meegeding het, met vyf Suid-Afrikaanse spanne wat ook hier kragte gemeet het.

Vanjaar se tema vir die olimpiade was “Powerbots: The future of energy” en die aanlyn toernooi is in die Meganiese Museum-ateljee in Dortmund, Duitsland, aangebied.

Scibotnaccis van Al Nurul Muajiruun, ʼn tuisskool in Gauteng-Noord, het in die ope kategorie se elementêre afdeling deelgeneem en die tiende plek behaal. Die Scibotnaccis-span het bestaan uit Abdulbasit Balogun en Aisha Balogun.

In die kategorie vir toekomstige ingenieurs het Robodog, met Noah Kemp en Boheng Zhu, van Parklands College in die Wes-Kaap 11de geëindig.

Technoblade, van dié kollege en met Veer Atwaru, Matthew Francke en Luan Odendaal in die span, het 15de geëindig in die elementêre afdeling van die algemene kategorie. Altesaam 46 spanne het in hierdie afdeling deelgeneem.

Richard du Plessis, Paige Briggs en Sharnley van Heerden, met die spannaam Dawn Breaker, het in die algemene kategorie se senior afdeling meegeding en die 44ste plek behaal. Die span is van Curro Aurora in Gauteng-Suid.

In die junior afdeling van die algemene kategorie het SANFAN, met Juvan Botha en Evelynne Nel, die 18de plek behaal. Die span is ook van Gauteng-Noord en het teen 46 spanne meegeding.

Danie Heymans, nasionale organiseerder van die WRO, het in ʼn onderhoud met Maroela Media uitgebrei oor uitdagings wat hulle weens die Covid-19-pandemie moes trotseer. Hy het ook meer vertel oor die WRO waarvan hy al nege jaar lank die organiseerder is.

“Die groei en deelname van leerders en spanne is ongetwyfeld deur die pandemie gekniehalter,” sê hy. In 2020 was daar byna geen robotika-onderrigsessies nie, omdat dit meestal as ʼn buitemuurse aktiwiteit aangebied word. Weens protokolle en ontsmetting van ruimtes en toerusting is robotika dus op die agtergrond geskuif.

Nietemin het ʼn handvol spanne en klubs deurgedruk en vanjaar aan die WRO deelgeneem en die organiseerders het met kompetisies vorendag gekom om hulle te akkommodeer.

“Dit was, met die nuwe aanbieding en formaat, steeds ongelooflik om te sien met watter oplossings spanne vorendag kom, al kon hulle nie in persoon teen mekaar meeding nie,” sê Heymans.

“Wat ons wel vanjaar gemis het, is die samekoms van spanne, afrigters, onderwysers, organiseerders en ondersteuners. Dit is ʼn heel ander ervaring om bymekaar te wees, idees uit te ruil, te sien hoe ander spanne ʼn probleem of uitdaging benader en meganies met iets heel anders as jy vorendag kom.”

Suid-Afrika is in 2010 vir die eerste keer as deelnemende land in die WRO aanvaar. Van ʼn relatiewe klein begin het die kompetisie die afgelope agt jaar in deelname en gehalte gegroei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.