Speel ons kinders nog?

(Foto: @krakenimages/Unsplash)

Deur Marinda Schutte

Ek het meer as twintig jaar terug, toe my kinders nog klein was, ’n boek aangeskaf oor tradisionele kinderspeletjies. Ek was verstom oor die afname in kennis en spel van geslag tot geslag: van my grootouers (wat amper alles geken het) na my ouers, my en my kinders (wat bitter min daarvan geken het en baie daarvan nuwe reëls gehad het).

Kinderspel is dus iets wat baie met die tyd verander. Tog is daar speletjies wat deur honderde jare behoue gebly het en van geslag tot geslag oorgedra word.

Wat beïnvloed kinders se spel en hoe het dit deur die jare verander? ’n Ander belangrike vraag is ook watter effek hierdie veranderinge op kinders se fisieke, emosionele en geestelike welstand het?

Die grootste debat hieroor die afgelope tien jaar het gehandel oor gestruktureerde versus ongestruktureerde spel. Dit is al baie bespreek, maar ná 2020, waar ouers self in ’n groot mate vir hul kinders se formele en informele opvoeding verantwoordelik was, is dit ’n onderwerp wat weer op die voorgrond gedwing is.

Yolanda Huijsamer, ’n M-student aan die Noordwes-Universiteit, het onder leiding van Issie Jacobs, verbonde aan die Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Familiestudies in Wellington, ’n studie gedoen oor kinders se ontwikkeling en meen speel is die belangrikste faktor in ’n kleuter se ontwikkeling.

Wat is gestruktureerde en ongestruktureerde spel?

Gestruktureerde aktiwiteite stel voorskoolse kinders bloot aan ervarings waar reëls nie self deur die voorskoolse kinders vasgestel word nie en waarby volwassenes betrokke is. Voorbeelde hiervan is gimnastiek, Playball, Monkeynastix, drama, moderne danse, Experi-Maatjies (Experi-Buddies), ballet, afrondingsklasse, stoei, karate, musiek en kuns. Hierdie definisie kan ook uitgebrei word na ouer kinders, soos laerskoolleerders. Dit is dus spel waar sekere vasgestelde reëls geld en waar daar toesig oor die korrekte toepassing van hierdie reëls is.

Ongestruktureerde spel word beskryf as speelaktiwiteite wat plaasvind wanneer voorskoolse kinders kies wat hulle wil doen, hoe hulle dit wil doen en wanneer hulle spel wil staak en ’n ander speelaktiwiteit wil probeer. Dit sluit, byvoorbeeld, simboliese spel of fantasiespel is soos, onder meer, om huis-huis te speel. Dit het geen eksterne doelwitte wat deur volwassenes vasgestel word nie en hoewel volwassenes gewoonlik die omgewing en hulpmiddels vir ongestruktureerde spel voorsien, neem voorskoolse kinders self die leiding. Ouer kinders kombineer dikwels bestaande gestruktureerde aktiwiteite met ongestruktureerde spel en maak hul eie reëls vir die betrokke spel op.

Voordele en nadele

Sentrums vir vroeë kinderontwikkeling is swaar getref deur die Covid-19-pandemie en die afsonderingsmaatreëls. (Foto: Maroela Media)

Die vroeë kinderjare, tussen ongeveer twee en ses jaar, word beskou as die belangrikste vir speel. Jong kinders bring die grootste gedeelte van hul dag met speel deur en ontwikkel terselfdertyd die vaardighede, idees en waardes wat belangrik is vir grootword en die normale funksionering in die wêreld. Hoe kinders speel, is dus uiters belangrik.

“Spel is ’n weerspieëling van die self en bemagtig voorskoolse kinders met ’n mate van onafhanklikheid deurdat dit geleenthede skep om die betekenis van hul ervarings aan die wêreld te kommunikeer.”

Die gesonde balans tussen gestruktureerde en ongestruktureerde spel is noodsaaklik vir die ontwikkeling van die kind.

  1. Liggaamlike ontwikkeling

Die ontwikkeling van groot en fyn motoriese vaardighede op verskillende stadiums van die voorskoolse kind, is baie belangrik.

Groot motoriese vaardighede ontwikkel veral tydens liggaamlike aktiwiteitspel, soos stoei, deurmekaar rondhardloop en hardloopspeletjies. Vanaf die ouderdom van vier jaar is die speletjies ook meer aggressief en vind ’n gestampery en fisieke kontak meer plaas. Dit is normaal en kinders ontwikkel in die proses ook hul probleemoplossings- en onderhandelingsvaardighede.

Gestruktureerde spel is by uitstek geskik vir die ontwikkeling van hierdie groot- en fyn motoriese vaardighede en dus voordelig vir die liggaamlike ontwikkeling. Die nadeel is egter dat, veral by klein kinders, die toepassing van streng spelreëls wat hulle dalk nog nie kan gehoorsaam nie, hul vrye bewegings inperk en hul liggaamlike ontwikkeling strem.

  1. Kognitiewe ontwikkeling

Voorskoolse kinders ontwikkel die vermoë tot simboliese denke, verbeelding en die verwerwing van taalvaardighede. Dit gebeur alles deur die interaksie met hul leefwêreld, wat hoofsaaklik deur speel plaasvind. Ongestruktureerde spel bied aan voorskoolse kinders die geleentheid om hul kommunikasievaardighede te ontwikkel, kennis te verwerf en leerervaringe te integreer. Dit stel hulle ook in staat om ’n positiewe selfkonsep en ’n gevoel van bekwaamheid te ontwikkel. Gestruktureerde aktiwiteite bied aan voorskoolse kinders die geleentheid om te leer hoe om binne spanverband saam te werk en instruksies te volg.

  1. Sosiale ontwikkeling

Sosialisering is ’n noodsaaklike proses waardeur kinders leer watter gedrag aanvaarbaar binne verskeie situasies is. Voorskoolse kinders se sosialisering vind deur spel plaas. Deur ongestruktureerde spel ontwikkel kinders se sosiale interaksie omdat hulle ’n oplossing vir ’n sosiale probleem moet vind, byvoorbeeld die keuse van die speletjie wat gespeel gaan word, wanneer spel begin en wanneer dit gestaak gaan word en watter reëls tydens die speletjie gevolg gaan word. Dit help kinders ook om bewus te word van hulself en om vriendskappe te vorm. Sosiale ontwikkeling vind die beste spontaan binne die ouderdomsgroep plaas en gestruktureerde spel bied nie genoeg geleentheid hiervoor nie. 

  1. Emosionele ontwikkeling

“Emosionele ontwikkeling verwys na die proses waartydens individue leer om hul emosies te erken en te beheer om sodoende op ’n aanvaarbare wyse binne hul omgewing op te tree.”

Kinders se speelomgewing moet veilig genoeg wees dat hulle geleentheid kry om hierdie emosies uit druk. Verbeeldingspeletjies en nabootsing is ’n belangrike medium vir kinders se emosionele uitdrukkingsvermoë en hulle moet dit op ’n aanvaarbare wyse kan uitdruk. Gestruktureerde spel kan baie daartoe bydra om aan kinders ’n voorbeeld te stel van aanvaarbare en onaanvaarbare emosionele gedrag.

Hedendaagse spel

(Argieffoto: Maroela Media)

In hierdie artikel is daar bepaal dat ongestruktureerde spel ’n noodsaaklike deel van ’n voorskoolse kind se ontwikkelingstadium uitmaak. Navorsing die afgelope paar jare bewys egter dat ouers toenemend verkies om hul kinders bitter min aan ongestruktureerde spel bloot te stel en gestruktureerde aktiwiteite vir hul kinders verkies. Dit is ook opvallend hoe jong ouers dikwels “ingryp” tydens kinders se spel en op hul manier beheer daaroor wil uitoefen. Dit word met goeie bedoelings gedoen, maar hoeveel belemmer ouers hul kinders se natuurlike ontwikkeling?

Redes waarom ouers gestruktureerde spel verkies:

  1. Ontwikkel selfdissipline: Kognitiewe ontwikkeling word toenemend deur ouers vooropgestel. Skoolstelsels en die toenemende druk op kinders om te presteer ten einde beter naskoolse opleiding te ontvang, het alreeds ’n invloed op die ontwikkelingsaktiwiteite waaraan klein kinders blootgestel word. Ouers verkies aktiwiteite wat kinders se kognitiewe ontwikkeling bevorder en waar vordering gemeet kan word. Ouers beskou ook hierdie tipe spel as ’n manier om selfdissipline te ontwikkel, wat deesdae as ’n belangrike aspek van sukses gesien word. Die ontwikkeling van logiese denke en die klem op spesifieke vaardighede (soos wiskunde) geniet ook hoë prioriteit.
  2. Groepsdruk: Onderlinge kompetisie tussen ouers en groepsdruk is nie ’n nuwe konsep nie – gaan sit maar net langs enige skool se sportveld! Groepsdruk kom verbasend genoeg die meeste voor onder ouers tydens hul kinders se voorskoolse fase. Die druk om die perfekte ouer te wees en die beste moontlike geleenthede aan jou kind te bied, begin by die alombekende spreekwoord van buig die boompie terwyl hy nog jonk is. Ouers plaas geweldig druk op hulself om perfek te wees en jou kinders is dikwels ’n aanduiding van jou sukses as ouer. Jong ouers het ook nog nie die lewenservaring om baie van hierdie dinge in perspektief te sien nie en doen wat hulle dink die grootpad na sukses vir hul kind is.
  3. Onveilige omgewing: Dit is die kruis van ons samelewing. Geweld en misdaad skep ’n omgewing waarin kinders anders grootword. Dit is nie meer veilig vir kinders om oor die pad te loop om by ’n maatjie te gaan speel nie en selfs ouers voel nie veilig om met kinders in openbare parke te gaan speel nie. Die gevolg is dat kinders se spel toenemend binne gekontroleerde, bewaakte, veilige omgewings moet plaasvind.
  4. Gejaagde lewe: Ons moderne lewe is so ’n gejaag dat ’n mens skaars tyd het vir aansit vir ete. Elke liewe aktiwiteit van ouers en kinders moet binne vooraf beplande tydgleuwe plaasvind en daar is letterlik nie tyd vir enige spontane aktiwiteit nie. Dit is dus vir die ouers makliker om kinders by gestruktureerde aktiwiteite te laat inskakel om hul behoefte aan speel te bevredig.
  5. Tegnologie:Tegnologie het baie van die tradisionele speletjies vervang. Dit is vermaaklik en ’n maklike kinderoppasser. Dit het egter ’n baie groot invloed op kinders se verbeeldingswêreld, ongestruktureerde spel en totale ontwikkeling. Die beperking van skermtyd vir kinders is nie ’n nuwe onderwerp nie, maar is ’n bespreking op sy eie – ons sal dit hier net as ’n faktor noem.

Die ideale situasie

(Foto: Scott Webb/Unsplash)

Soos met talle ander dinge in die lewe, is dit ook in hierdie geval ’n kwessie van balans. Die noodsaaklikheid van ongestruktureerde spel vir voorskoolse kinders is onomwonde deur navorsing bewys. Jong ouers (en oumas en oupas) is goed opgelei en die internet stel baie inligting tot hul beskikking. Dit is belangrik om daarop ag te slaan. Ouers moet besef dat “jagentjies” op die grasperk speel net so opvoedkundig soos die wiskundespeelgroep kan wees. Hierdie aktiwiteite kan ook nie in ’n kwaliteittyd-oomblik ingepas word nie. Kinders het genoeg tyd nodig om net te wees en ongestruktureerd te speel en hul verbeelding te ontwikkel.

Die realiteit is egter dat tye verander en kinders definitief nie dieselfde speletjies as hul oupas en oumas gaan speel nie. Hul omgewing en opvoedingsvereistes lyk anders. In hierdie opsig is gestruktureerde spel van onskatbare waarde. Dit berei die kind voor vir die vereistes van sy tyd en sy omgewing. Dit bied ook aan die ouer ’n geleentheid om rustig, binne vasgestelde tye en reëls, met die kind te kommunikeer. Bowendien verbreed dit die kind se leefwêreld en kom hy/sy in aanraking met verskillende soorte mense, ontwikkel hulle van kleins af verskillende talente en leer hulle wat aanvaarbare gedrag binne hul leefwêreld is.

“Die skepping van iets nuut word nie bereik deur die inspanning van die intellek nie, maar deur die instink om te speel.” – Carl Jung 

Besprekingsvrae

  1. Wat is die gunstelingspeletjies wat julle as kinders gespeel het?
  2. Speel jou kinders/kleinkinders nog dieselfde speletjies?
  3. Wat is jou gunstelingbordspeletjie en hoekom?
  4. Watter “opvoedkundige” speletjie is jou gunsteling?
  5. Watter speletjies van die kinders vandag maak jou jaloers dat jy nie meer ’n kind is nie?

 Bronnelys

Hierdie artikel is met die vergunning van die tydskrif Granaat, van Die Dameskring, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.