Voorkom afknouery onder kleuters

Leandie Bräsler van AfriForum en Matteus spreek die kinders van Kleuterwoud Kleuterskool toe. (Foto: Verskaf)

Deur Leandie Bräsler

Dan Olweus, ’n voorstander in die voorkoming van afknouery, sê dit is beter om vroeër eerder as later in te gryp wanneer dit by afknouery kom, veral onder jong kinders. Wanneer kleuterskoolonderwysers vroegtydig ingryp deur skadelike afknouery te identifiseer en ’n stokkie daarvoor steek, kan dit verhoed dat afknouery eskaleer en in die toekoms ’n probleem word.

Jare se navorsing is al gedoen en verskeie programme is aangebied oor hoe afknouery beveg kan word, maar min van hierdie programme is egter doeltreffend. Een van die grootste probleme is dat die voorkoming van afknouery baiekeer die verkeerde benaming het, met ander woorde in plaas daarvan om die tipe gedrag te verhoed en dit stop te sit nog voordat dit in werklike afknouery ontaard, fokus baie programme eerder op die afname van afknouery wat reeds hoog is. Dit is dus belangrik om proaktief op te tree.

Ten einde afknouery te voorkom, is dit belangrik om ons fokus te verskuif na hoe afknouery ontwikkel. Dit sluit sowel die kinders wat by afknouery betrokke raak as dié wat geteiken word in. Dit is dan juis belangrik om by sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, byvoorbeeld dagsorgsentrums of kleuterskole, te begin.

Afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller gerig word. Olweus, die Noorse navorser, identifiseer die volgende drie kenmerke van afknouery:

  • aggressiewe aksies met die bedoeling om ander kinders seer te maak;
  • ’n herhaling van hierdie aksies oor ’n tydperk; en
  • ’n wanbalans van mag wat die slagoffer hulpeloos laat sodat hy homself nie doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie.

Afknouery kan ook verskeie vorme aanneem:

  • fisies (skop, slaan en boks);
  • verbaal (dreigemente, noem kinders name of dryf met hulle die spot); en
  • sosiaal (uitsluiting van ander).

Leandie Brasler (Foto: Verskaf)

Kuberafknouery is nóg ’n vorm van afknouery en behels onder meer die gebruik van die internet, selfone en sosiale media. Kuberafknouery is wel nog nie ’n bekommernis by kleuters nie.

Die manier hoe kleuters mekaar afknou verskil heeltemal van die manier waarop ouer kinders dit doen, hoewel afknouery reeds in hulle kleuterjare kan ontwikkel. Wanneer daar ’n begrip is vir hoe afknouery op verskillende maniere onder kleuters kan ontwikkel, sal kleuterskoolonderwysers dit makliker vind om dié tipe gedrag stop te sit. Hier is ’n paar dinge waarna hulle kan oplet:

  • Deur te sê “Jy mag nie saam met my speel nie” is die tipe gedrag wat maklik in sosiale afknouery kan ontaard indien dit nie vroegtydig aangespreek word nie. Hierdie tipe gedrag sal later jare na meer gesofistikeerde vorme van afknouery soos sosiale uitsluiting lei wat gewoonlik onder ouer kinders en selfs volwassenes voorkom. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ’n kind iets sal sê soos: “Jy kan nie saam met my speel as jy maats met X is nie.”
  • Deur te skreeu “Myne!” terwyl die kleuter ’n pak lekkers of ’n speelding gryp. Hierdie tipe gedrag word nie noodwendig as afknouery geklassifiseer nie, maar wanneer dit die heeltyd toegelaat word wanneer dit opsetlik en herhaaldelik op een kind gemik word, kan dit op ’n latere stadium in afknouery ontaard. Dit is ook belangrik dat kinders moet leer om mededeelsaam te wees en dat ons dan iets vir hulle sê soos: “Jy kry ’n beurt om met die pop te speel, maar dan mag jou maatjie ook ’n beurt kry.” Nog ’n voorbeeld hiervan is: “Jy mag van die pak lekkers eet, maar jy moet die lekkers ook met jou maatjie deel.”
  • Wanneer kinders karakters speel-speel uitbeeld. Kinders kan speletjies speel waar hulle maak asof hulle karakters in ’n familie is, soos byvoorbeeld die pa, ma, baba en troeteldier. Die kinders wat die meer dominante karakters speel-speel uitbeeld (soos die pa of ma) kan dan later in die boelies ontaard en dit kan moontlik tot gevolg hê dat die ander kinders die minder dominante rolle uitbeeld (soos die baba, troeteldier of slegte persoon in die speletjie) en mettertyd die slagoffers word. Dit kan ’n wanbalans van mag veroorsaak wat dan natuurlik later tot afknouery kan lei.
  • Wanneer kleuters geheime en stories in mekaar se oor fluister of mekaar lelike name noem. Wanneer die fluistering in skinderstories ontaard of om persoonlike inligting te versprei, wanneer lelike name in beledigings verander en wanneer een kind aanhoudend die teiken is, kan hierdie kinderspeletjies as afknouery gesien word.

Kleuterskoolonderwysers moet te alle tye gereed wees om afknouery te voorkom, in te gryp en op te volg wanneer hulle die verskillende maniere verstaan waarop kinders by die verskillende vorme van afknouery betrokke kan raak.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.

  • Leandie Bräsler is AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Ja ne. so het ek as arm en lelike kind die heeltyd deurgeloop. later selfs onder die onderwysers. maar ek het darem dinge geleer wat ek my kinders sal leer sodat hulle nie ook dit moet deurgaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.