Wolkskool op radio: Lees is lekker

Foto: Sven Brandsma/Unsplash

Jana Terblanche, hoof van GeRAT, die Afrikaans-vakvereniging van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), gesels in die jongste aflewering van hierdie gesprekreeks op Pretoria FM oor lees as ʼn vaardigheid.

Sy verduidelik dat kinders hulle leesvaardighede kan ontwikkel deur meer te lees en dat dit sommer help om ʼn kind se sosiale vaardighede ook te verbeter.

“Lees leer kinders om te droom. En al lees jy vir jou kind sy gunsteling-storie vir die 100ste maal voor, geniet hulle dit steeds omdat hulle kan voorspel wat gaan gebeur en dit laat ʼn kind veilig om om te weet hy is reg in sy voorspelling,” sê Terblanche.

GeRAT glo dit is uiters noodsaaklik vir elke kind om hulle leesvaardighede op te skerp, daarom bied die vakvereniging Woensdag en Donderdag twee gratis leeswebinare aan waarin hulle oor die belang van lees gaan praat.

Dié vakvereniging het hande gevat met Lotta Engelbrecht van Stimulus Maksima en op 3 Junie gaan hulle van 13:00 tot 16:00 kyk na die leesontwikkeling van geboorte tot op die ouderdom van ʼn gr. 6-leerder. Op 4 Junie word daar van 14:00 tot 17:00 na leesvaardighede vir gr. 7 tot 12-leerders gekyk.

Elke webinaar is drie uur lank omdat die aanbieding SACE-geakkrediteer is en onderwysers vyf punte per webinaar kan verdien. Ouers en kinders is egter ook welkom om vir die webinare in te skakel. Besoek die Wolkskool vir meer inligting hieroor.

Die Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum wat videolesse van hoë gehalte, assesserings en ondersteunende lesmateriaal in vakke soos wiskunde, wetenskap en Afrikaans as huistaal verskaf. Die SOS is ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat die gehalte van Afrikaanse onderrig wil help verseker. Besoek Skole.co.za of die Wolkskool vir meer inligting hieroor.

Hierdie gesprekke is moontlik gemaak met ondersteuning uit die opleidingsafdeling van die Solidariteit Beweging se krisisfonds. Luister na ʼn podsending van hierdie gesprek bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.