10 naweekwegbreke naby Johannesburg

Mount Savannah Game Reserve (Foto: LekkeSlaap)

Johannesburg is ’n reusestad met ’n hele rits aktiwiteite om te geniet, maar dit kan maklik te veel raak vir diegene wat na stilte, rustigheid en ’n wegkomkans smag. Daarom het LekkeSlaap dié lysie vir Gautengers saamgestel met tien lekker plekke wat ideaal is vir ’n naweekwegbreek uit die besige stad.

Mount Savannah Game Reserve

Afstand vanaf Johannesburg: 70 kilometer

Mount Savannah Game Reserve (Foto: LekkeSlaap)

Mount Savannah Game Reserve is perfek vir paartjies met jong kinders wat op soek is na ’n blaaskans uit die stad. Hier kan julle ’n pragtige chalet bespreek en heel naweek langs die swembad rus, terugkeer na die natuur op ’n wildrit of die Wieg van die Mensdom verken. Daar is ook ’n boma, plonspoel en ’n gemeenskaplike kombuis op die perseel.

Ontbyt en een wildrit is ingesluit!

Aktiwiteite op die perseel: Voël- en wildkyk, fietsry en swem
Aktiwiteite naby: Perdry, kunsvlieg- en forelhengel, wildkyk en fietsry
Klik hier vir die tariewe.

Mount Savannah Game Reserve (Foto: LekkeSlaap)

Seasons Golf, Leisure and Spa

Afstand vanaf Johannesburg: 88 kilometer

Seasons Golf, Leisure and Spa (Foto: LekkeSlaap)

Is jy lus om vir ’n slag saam met ’n lekker groep mense uit die stad te ontsnap? Wel, kry jou groepie bymekaar en vat die pad na Seasons Golf, Leisure and Spa, wat rustig lê en wag om verken te word. Hier kan julle tot vier slaapkamers met ’n kuierarea bespreek en ’n luilekker gholfnaweek geniet, by die spa ontspan of heerlik in die boma kuier. Verken ook die Hartbeespoortstreek met al sy aktiwiteite soos riviervlotvaar en abseil.

Aktiwiteite op die perseel: Voëlkyk, fietsry en swem
Aktiwiteite naby: Voëlkyk, riviervlotvaar, abseil, perdry en wildkyk
Klik hier vir die tariewe.

Seasons Golf, Leisure and Spa (Foto: LekkeSlaap)

Thirsty Falls Guest Farm

Afstand vanaf Johannesburg: 104 kilometer

Thirsty Falls Guest Farm (Foto: LekkeSlaap)

Thirsty Falls Guest Farm is 35 kilometer vanaf Rustenburg. Dié gasteplaas skuil hoog teen die suidelike hange van die Magaliesberg en is nét die plek waar jy wil wees as jy mal is oor die natuur. Hier is eenhede vir twee tot ses gaste, so of jy nou ’n romantiese wegbreek beplan of jou gesin wil bederf, hiér is iets van als. Die kothuise het elk ’n kaggel, braaigeriewe en ’n gasverwarmer vir die koue aande. Wanneer dit warm is, kan julle in die eko-swempoel met natuurlike water afkoel.

Aktiwiteite op die perseel: Voëlkyk, fietsry en swem
Aktiwiteite naby: Perdry, visvang, wildkyk en kunsvlieg- en forelhengel
Klik hier vir die tariewe.

Thirsty Falls Guest Farm (Foto: LekkeSlaap)

ATKV Buffelspoort

Afstand vanaf Johannesburg: 120 kilometer

ATKV Buffelspoort (Foto: LekkeSlaap)

ATKV Buffelspoort bied ’n rits verblyf-opsies soos rondawels, woonstelle, tenthuise, kampplekke en ’n villa. Hier is nie net verskeie blyplekke wat elke gesin, vriendegroep of paartjie sal pas nie, maar ATKV Buffelspoort spog ook met ’n lang lys aktiwiteite wat elke lid van jou reisgroepie sal besig hou. Dit sluit binne- en buite-swembaddens met warm en koue water, Jacuzzi’s, putt-putt, ponieritte, vlugbal, ’n sportkroeg en skoonheidsalon in. Sun City is net 80 kilometer van dié oord af!

Aktiwiteite op die perseel: Perdry, voëlkyk, tennis, swem, wipmatte, snoeker- en pooltafels en gholfspeel
Aktiwiteite naby: Voël- en wildkyk
Klik hier vir die tariewe.

ATKV Buffelspoort (Foto: LekkeSlaap)

The Ancient Copper Shed

Afstand vanaf Johannesburg: 140 kilometer

The Ancient Copper Shed (Foto: LekkeSlaap)

The Ancient Copper Shed is net tien kilometer buite Potchefstroom en spog met twee unieke troeteldiervriendelike eenhede wat slaapplek vir vier en vyf gaste het. Vergeet van die stad se gedruis in dié eenhede wat elk ’n goed toegeruste kombuis het. Bring net julle klere en kos en kom ontspan op die stoep met ’n pragtige uitsig. Daar is natuurlik braaigeriewe en ’n buitestort in die tuin.

Aktiwiteite op die perseel: Wildkyk en perd- en bergfietsry
Aktiwiteite naby: Kunsvlieg-, baars- en forelhengel, swem, fietsry, perdry, begeleide wandelpaaie en wildkyk
Klik hier vir die tariewe.

The Ancient Copper Shed (Foto: LekkeSlaap)

The Kingdom Resort

Afstand vanaf Johannesburg: 170 kilometer

The Kingdom Resort (Foto: LekkeSlaap)

As jy op soek is na ’n bietjie sielsrus, nie te ver wil ry nie en ook wil seker maak die hele gesin gaan besig bly, kan jy nie verkeerd gaan met The Kingdom Resort nie. Die oord is ’n bron van oneindige pret en plesier vir jonk en oud. Die wooneenhede is netjies, die mense vriendelik en die kos smaaklik. Ouers kan uitsien na spa-behandelings en die kinders na ure se pret op die waterwurms. Moenie op jou laat wag nie, kom skep herinneringe wat ’n leeftyd sal hou!

Aktiwiteite op die perseel: Swem en bergfietsry
Aktiwiteite naby: Wildkyk, swem, bergfietsry en begeleide wandelpaaie
Klik hier vir die tariewe.

The Kingdom Resort (Foto: LekkeSlaap)

Fish Eagle Log Cabin

Afstand vanaf Johannesburg: 170 kilometer

Fish Eagle Log Cabin (Foto: LekkeSlaap)

Dié kothuis is nie in ’n oord of by ’n gewilde lodge nie; dit is op die oewer van die Vaalrivier en bied aan tien gaste die geleentheid om van die verkeer, geraas en gedruis van die stad te ontsnap. Fish Eagle Log Cabin is perfek vir ’n lekker visvangnaweek, waar julle heeldag langs die rivier kan ontspan en heerlik kan braai in die aand. Troeteldiere is welkom en die kothuis maak op sonkrag en gas staat, wat beteken dat dit eko-vriendelik is. Eskom-kragpale en kragonderbrekings is nêrens in sig nie.

Aktiwiteite op die perseel: Kunsvlieghengel, visvang, voëlkyk en fietsry
Aktiwiteite naby: Kunsvlieg- en baarshengel, fietsry en wildkyk
Klik hier vir die tariewe.

Fish Eagle Log Cabin (Foto: LekkeSlaap)

Moonriver Mountain Retreat

Afstand vanaf Johannesburg: 250 kilometer

Moonriver Mountain Retreat (Foto: LekkeSlaap)

As julle mal is oor voëlkyk of sommer net jul selfoonwekker met die getjirp van allerhande voëls wil vervang, is Moonriver Mountain Retreat nét die plek om te wees. Die eenhede wat hier op die Waterbergplato skuil is geskik vir twee tot ses gaste en is toegerus vir selfsorg. Die eenhede het ook glas voorkante wat sorg dat jy elke oomblik van die dag die pragtige uitsigte kan geniet.

Aktiwiteite op die perseel: Voëlkyk, swem en bergfietsry
Aktiwiteite naby: Perdry
Klik hier vir die tariewe.

Moonriver Mountain Retreat (Foto: LekkeSlaap)

Riverman Cabin

Afstand vanaf Johannesburg: 260 kilometer

Riverman Cabin (Foto: LekkeSlaap)

Riverman Cabin bied verblyf in steen-, grasdak- of houthutte met slaapplek vir twee tot tien gaste. Die hutte is vir selfsorg toegerus, maar daar is ook ’n restaurant en ’n kroeg op die perseel. Troeteldiere is welkom en daar is heerlike braaigeriewe. ’n Skoonmaakdiens is op versoek beskikbaar, so hiér kan julle nét ontspan en die uitsig geniet.

Aktiwiteite op die perseel: Voëlkyk en kunsvlieg- en forelhengel
Aktiwiteite naby: Perdry, baarshengel en fietsry
Klik hier vir die tariewe.

Riverman Cabin (Foto: LekkeSlaap)

Willow Villas

Afstand vanaf Johannesburg: 300 kilometer

Willow Villas (Foto: LekkeSlaap)

Willow Villas is op Clarens se gholflandgoed geleë. Hiér kan julle een van vier selfsorg-villas, wat geskik is vir vier gaste, bespreek. Oorweeg dit om sommer meer as een villa te bespreek en nóg vriende en familie vir ’n rustige wegbreek op dié landgoed te nooi. Die villas spog elk met ’n lekker braai en meubels op die dek.

Moenie vergeet om Clarens in te vaar en al dié dorpie se kuns, uitsigte, bierbrouerye en avontuur-aktiwiteite te verken nie.

Aktiwiteite op die perseel: Voëlkyk, fietsry en begeleide wandelpaaie
Aktiwiteite naby: Perdry, visvang, wildkyk, swem, tennisspeel en kunsvlieg- en forelhengel
Klik hier vir die tariewe.

Willow Villas (Foto: LekkeSlaap)

Nou ja toe, kies vir jou ’n lekker plekkie en herlaai daardie batterye ver van die stad se gewoel!

*Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Lisa Croeser.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.