Ervaar Heidelberg, en SA, se erfenis só

Die ou stasiegebou. (Foto: Heidelberg Erfenismuseum)

Heidelberg in die ou Transvaal was vir jare lank die spilpunt van die Afrikaner se stryd teen oorheersing. Vanaf sy nederige beginjare as handelspos wat deur die dorp se stigter, H.F.J. Ueckermann in 1862 bedryf is, het Heidelberg ʼn ereplek in die geskiedenis van Suid-Afrika ingeneem.

Die dorp, wat amptelik in 1866 geproklameer is, se topografie het Ueckermann aan sy alma mater in Duitsland herinner en daarom is die dorp Heidelberg genoem. Sy strategiese posisie tussen Johannesburg, Natal en die Vrystaat het daarvoor gesorg dat dit in 1880 die hoofstad van die ZAR geword het en ʼn belangrike rol in die Anglo-Boereoorlog gespeel het. Dit was ook ʼn politieke setel sedert Uniewording in 1910 en die setel van die premier H.F. Verwoerd toe die land in 1961 ʼn republiek geword het. As jy Heidelberg besoek, loop jy in die voetspore van talle plaaslike én internasionale ikone.

Die Heidelberg Erfenismuseum se personeel hou die geskiedenis lewendig binne die indrukwekkende museumgebou, wat in die ou treinstasiegebou gehuisves word. Boonop kan besoekers erfenistoere meemaak met 30 moontlike besoekpunte wat van daar deur die dorp vertrek. Ons doen ʼn toer met 18 besienswaardighede langs die pad.

Ryk aan ʼn verskeidenheid geskiedenis

Bouwe Wiersma by ‘n hoeksteen van die stasiegebou in Heidelberg. (Foto: Verskaf)

“Heidelberg is vrot van die geskiedenis,” sê ons toergids, Bouwe Wiersma, soos ons deur die historiese strate vleg. Die ou Victoriaanse argitektuur wat nog volop in die dorp voorkom, getuig inderdaad daarvan en ons moet kophou en oplet om by te hou.

Die toer vertrek vanaf die pragtige ou sandsteenstasiegebou, wat in 1894 gebou is. Die stasie is amptelik op 10 Oktober 1895 deur president Paul Kruger geopen, met die doel om handel tussen Johannesburg en Natal te vergemaklik. Die stasie het reg deur die Anglo-Boereoorlog diens gedoen en moes krygsgevangenes vervoer en soms in die kelder onder die gebou gevange hou. Winston Churchill en Mahatma Ghandi het in die einste beknopte kelder gebly waar ons gebukkend na ʼn ou velddraagbaar kyk. Dié is tydens die oorlog deur Indiër-helpers gebruik om gewonde Britte na hospitale te dra.

Heidelberg het vandag nog ʼn H.F. Verwoerdstraat, met die ou klipkerk in die sentrum daarvan. Die klipkerk se hoeksteen is gelê in die tyd toe die NG en Hervormde kerke op die punt was om te skeur. In ʼn poging om die vrede onder die gemeentelede te bewaar, is dié gemeente toe die gekombineerde naam van Nederduits Gereformeerde of Hervormde Kerk gegee. In later jare is dit na die NG Kerk van die Transvaal verander. Dié kerk het talle bekendes binne sy beskermende mure verwelkom, soos die Boeregeneraals Louis Botha, Christiaan de Wet en Jan Smuts, asook Emily Hobhouse.

Ons hoor ook dat die stryd vir moedertaalonderrig in die kelder van Heidelberg se einste klipkerk begin het. Hier is die eerste Afrikaansmedium skool gestig, in opstand teen die Engels wat ná die Boereoorlog op gemeenskappe afgedwing is. Wat vandag die Laer Volkskool is, is in 1903 gestig danksy die vasberadenheid en deursettingsvermoë van die ouers en kerkgemeenskap. Die laerskool is tot nasionale monument verklaar en spog met ʼn gedenkteken wat die dorp se 867 gesneuweldes tydens die Anglo-Boereoorlog vereer – ʼn verering wat gestalte aan die skool se leuse, “Vir volk en vaderland”, gee.

Oorkant die klipkerk pryk die ou stadsaal nog statig – ʼn sandsteengebou wat deur Gerhard Moerdijk ontwerp en in 1939 gebou is. Daar troon standbeelde van die driemanskap wat in die hoofstad geregeer het, asook ʼn aardbol ter herinnering aan die krygsgevangenes wat tydens die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika moes kom. Hierdie gedenkteken is deur Italiaanse krygsgevangenes gemaak en toe aan Heidelberg geskenk.

Beenaf op dié besienswaardighede

Die ou bakoond. (Foto: Heidelberg Erfenismuseum)

Nog ʼn belangrike baken is ou sandsteenbakoond wat voor die Kloofspruit staan. Dié struktuur is in 1900 gebou, glad nie om iets in te bak nie, maar eerder as strategies geposisioneerde dekmantel om die fontein wat as hoofwaterbron vir Heidelberg dien, te verberg. Dit is ʼn klassieke voorbeeld van “ʼn Boer maak ʼn plan”, omdat die oond voorkom het dat die Britte die dorp se watertoevoer afsny en so die oorhand kry.

Op die dag van ons erfenistoer koop ek vir my ʼn stukkie grond neffens hierdie bakoond toe ek in my erfenis-ywer gly en my been breek – op dié manier het die bakoond meer as ʼn eeu later steeds sy werk effektief gedoen om vreemdelinge weg van die spruit te hou!

Ná ʼn vinnige besoek aan die hospitaal oorkant die pad – wat nie deel van die amptelike erfenistoer vorm nie! – toer ons verder deur Heidelberg se erfenis. Bouwe vertel my, so ewe voet in die lug, dat die ou tronkgebou die tragiese storie van Salmon van As se teregstelling vertel. Hy word as een van die eerste Afrikaner-martelare beskou en Bouwe vertel die verhaal in groot besonderhede.

By die ou begraafplaas sien ons die laaste rusplek van die dorpstigter Ueckermann, die klipkerk se geliefde predikant Van Warmelo, en die digter A.G. Visser, saam met die ongemerkte grafte van talle kinders wat in die Heidelberg-konsentrasiekamp gesterf het. Vir hulle is daar ʼn monument opgerig.

Nog stoppe op die toer sluit die ou Victoriaanse huis van die invloedryke Bezuidenhout-familie – na wie Bez Valley in Johannesburg vernoem is – in. Dit was die eerste huis in die ou Transvaal wat elektrisiteit gehad het. Ons ry ook by die geliefde digter A.G. Visser se huis en die Hoër Volkskool langs.

By die Heidelberg Heritage-gastehuis leer jy in elke kamer wat te huur is iets oor ʼn belangrike persoonlikheid wat deel van Heidelberg se geskiedenis vorm. Die belangrikheid van kennis oor die erfenis word beklemtoon met ʼn kers en slagspreuk wat in elke kamer verskyn, wat lees: “You can either curse the darkness, or light up a candle”.

Heidelberg se leuse is Spero Meliora – om hoër te strewe. Wanneer ons weer voor die ou stasiegebou stop en ek gekarwei word na die mikrobrouery wat Heidelberg se eie boetiekbier met ʼn erfenistema brou (ʼn hele ervaring op sy eie!), weet ek – Heidelberg se geskiedenis getuig daarvan dat hierdie strewe bereik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.