Foto’s: Kom kuier in geskiedkundige Graaff-Reinet

Die historiese Drostdy Hotel is dié plek om te bly, veral as jy van geskiedenis en luukse onder een dak hou.

Graaff-Reinet is Suid-Afrika se vierde oudste dorp en gestig as handelspos om binnelandse handel van die Kaapkolonie uit te brei. Dis na die destydse goewerneur van dié kolonie, Cornelis Jacob van de Graaff en sy vrou, Reinet, vernoem. Ná 236 jaar is dit steeds ’n belangrike handelspos met die mooiste ou geboue, skryf Maryke Roberts.

Die verrassing wat op jou wag as jy in die kort, historiese Parsonage Street wat op beide punte deur twee historiese geboue geanker word indraai, is maar net ’n klein kykie in die dorp se ryk erfenis. Aan die een punt van die straat met sy pragtige gerestoureerde huisies, teater en biblioteek is Reinethuis, en aan die ander kant die Drostdy Hotel.

Neffens die hotel is die Imibala Galery ingerig en daarnaas ’n wynwinkel, De Camdeboo Wijnkamer, almal in ou geboue wat van buite lyk of dit in die 1800’s vasgevang is, maar binne so 2022 is as wat kan kom.

Die hotel se horingoue grasgroen luike en voordeur staan wyd oop, amper asof hy sy besoekers wil omarm. Die moderne glasdeure smelt amper weg teen die antieke meubels en kandelaar wat daaragter skuil.

Geen besoek aan dié Oos-Kaapse dorp sou heeltemal volledig wees sonder om hier oor te bly nie. Dis in die vroeë 1800’s al as hotel ingerig en oor die jare met sorg gerestoureer.

Die hotel het verskeie kuierplekke om met ’n koffie, glas wyn saam met vriende of met ’n lekker boek te ontspan.

Die dorp het vyf museums en nie een van hulle kan minder belangrik as die ander een geag word nie, vertel Kim von Behr Imrie, die toerismebestuurder.

Die vyf ou geboue – Reinet Huis, Ou Biblioteek Museum, Ou Residensie, Urquhart Huis en die Militêre Geskiedenis Museum – is in die eerste deel van die 1800’s gebou en huisves ’n groot versameling van Graaff-Reinet se ryk kulturele en natuurlike erfenis wat fossiel- en rotskuns, kunsversamelings, periodemeubels en kontemporêre geskiedenis-uitstallings insluit. Elkeen van die geboue is uniek en bied verskillende uitstallings en inligting aan besoekers. Neem ’n selfie by Reinet Huis by die wingerdstok wat in 1870 geplant is.

Oral op die dorp bly jy bewus van die teenwoordigheid van die pragtige Moederkerk, of “Groot Kerk” soos die dorpenaars dit ken, wat imposant op ’n sirkel in die middel van die sakekern staan. Ek leer dat dit die enigste NG Kerk in die land is wat ’n kaggel in die konsistorie het, maar nog nooit gebruik is nie.

Nie ver van die kerk nie wink McNaughton’s Bookshop. Ai, dis darem maar lekker om net vir ’n paar minute te kan vlerke kry en vlieg as jy so droomverlore deur die boeke van toeka tot nou kan blaai.

Die dorpsverkenning, oplees oor ou geboue met 220 historiese en pragtig gerestoureerde geboue (’n mengsel van Kaaps-Hollandse, Victoriaanse en egte Karoo-boustyl), inloer by die talle museums, koffie drink by Maria’s en ’n draaitjie by Adele’s Mohair vir ’n sybokhaarserp, vul die dag se ure vinnig.

Die kamers is ruim en luuks en ons kon tussendeur ’n paar uur voor die rekenaar en in die lekker gemakstoele ontspan, voor ons die dorp verken gaan verken het.

Laatmiddag is daar mense in die hotel se tuin en in die verskeie kuiergedeeltes naby die kroeg. ’n Paartjie kom in hul kamerjasse uit die Africology-spa gestap. Ek onthou die verouderde, geraamde advertensie teen die een muur wat uitbasuin dat die hotel in die middedorp naby die stasie, poskantoor, telegraafkantoor en biblioteek is. En dan as nagedagte: Naby die meeste banke en kerke op die direkte roete na die Vrystaat en diamantvelde.

Moenie dink net omdat jy vêr van die wynlande is, jy gaan dors wees nie. Die hotel se vinoteek waar ou wyne gestoor word, wynwinkel en uitgebreide wynkelder in die restaurant, bied wyne te koop aan om in jou kamer te geniet, of saam met etes in die restaurant. As jy onseker is watter wyn om met jou Karootjoppies te geniet, is Pieter Arendse, die gasvryheidsbestuurder, die man om te raadpleeg.

Dis egter die woorde heel onder wat my laat lag: “Invalids and pleasure seekers will find Graaff-Reinet one of the most healthy and pleasantly situated towns in the colony. In its vicinity are the famous Kruidfontein Mineral Springs.”

Die geskiedenis leef hier rondom jou. Elke klein detail illustreer die hotel se lang geskiedenis wat sorgvuldig in ou koerantberigte of in foto’s vasgevang is. Daar is bokhorings teen die mure wat sagte skaduwees in die lamplig gooi; ou memorabilia uit die omgewing se vervloë dae wat ’n plekkie op ’n rak of tafel gekry het.

Aandete in die gesellige eetkamer is ’n fees. Oorspronklike illustrasies van die Roberts-voëlgids versier die mure. Daar is leer met kelimpatrone op ou stoele wat trots tussen nuwes staan. Die een muur van die restaurant is ’n reusewynkelder agter glas.

As jy onseker is watter wyn om saam met jou Karootjoppies te geniet, is Pieter Arendse, die gasvryheidsbestuurder van die afgelope sewe jaar, die man om te raadpleeg. Hy neem jou graag na die vinoteek waarheen wyne met goeie verouderingspotensiaal gebring word. My hart blom toe ek ons land se voorste wynlandgoedere herken wat hul plek vol lê langs die bestes uit Frankryk.

Lank ná ete sit ons in die biblioteek met boeke op die skoot en L’Ormarins Sagnac brandewyn in ’n bolwang-glas. Die biblioteek is ’n skatkis van kennis wat liefderik saamgestel is deur iemand wie se passie vir die omgewing in elke boekkeuse na vore kom: die plante, klippe en insekte van die Karoo; boustyle van die streek; meubels van die Kaapkolonie; die storie van wyn en vele meer.

Die pragtige Tewaterhuis, die tuiste van Eira Maasdorp se antieke winkel, ’n onderneming wat sy al vir 53 jaar bedryf.

Jy is skaars een dag in die dorp en dit voel asof ʼn mens hier jou wortels herontdek.

Die streek is tans in ’n verwurgende droogte vasgevang en ons bad se prop is verwyder. Gaste word aangemoedig om te stort om te help om waterverbruik laag te hou. Wat ’n verrassing om die volgende oggende uit te stap ontbyt toe en dit het deur die nag gereën. Ek hoor die aarde se dankbare fluistering en versugting oor die welkome lafenis. Die stoepe is nat en almal is dik aangetrek toe ons gaan sit.

Met die laaste hap salm en teug cappuccino kom staan ’n netjiese ouer vrou langs ons tafel. “So, waar slaap mens in Bloemfontein?” Sy sit haar atlas op die tafel neer. Ons staar effens verbaas na haar. Sy gaan voort deur te sê sy herken medereisigers as sy hulle sien. Sy het nou al die hele land platgery van Tzaneen tot Springbok, Glentana tot Graaff-Reinet, en nou is sy op pad Bloem toe.

Google-kaarte word oopgemaak om te help met die regte roete. Sy klap egter weer die kaartboek oop. “Ek het ook ’n selfoon, maar my probleem is, hoe kom ek uit die parkeerterrein hier buite tot op die regte pad?” My man se ongeloof is op sy gesig te sien. Sy kyk na die blou lyn op die N9 tussen Graaff-Reinet en Bloem. “Ek wil op daardie pad kom.”

Mooie kuns in die Imibala-kunsgallery wat deel van die hotel vorm.

Sy verdien applous vir haar avontuurgees om alleen te gaan toer – sekerlik teen vriende en familie se aanbeveling in. Sy verdien al die hulp wat sy kan kry omdat sy voluit leef. Geen verskoning van niemand om mee saam te toer nie; haar eie geselskap is goed genoeg.

Mag ek ook eendag só vreesloos wees, ongeag hoe oud ek is.

Van vreesloos gepraat: Reg oorkant die pad is die pragtige Tewaterhuis, die tuiste van Eira Maasdorp se antieke winkel, ’n onderneming wat sy al vir 53 jaar bedryf. Elke kamer is ’n museum op sy eie met koper, antieke breekware, nestafeltjies van ’n eeu terug en mooi silwerware uit die dae van die kolonie.

In die voorkamer hang ’n reuseportret van die Britse koninklikes se besoek van 1947 toe hulle in daardie einste voorkamer tee en verversings geniet het. Op die kaggelrak staan “die wêreld se oudste koek”, wat vir die goue huweliksherdenking van die tóé eienaars van die huis, Franz te Water en Caroline Theodora Muller, wat op 5 April 1852 getroud is, gebak is. Tannie Eira is ’n wandelende ensiklopedie en elke keer as jy terugkom by haar lessenaar – ’n poskaart van ’n kleinkind in Kanada verklaar dat dié gemors ’n lessenaar is – stuur sy jou terug na ’n ander interessante artikel in een of ander agterkamer.

Heerlike loom ure kan by die hotel se swembad verwyl word.

ʼn Mens word daar met heimwee oorval. Nie alleen is die bekende reuk van vloerpolitoer, blinkgepoetste koper en die effense mufreuk van ou boeke in jou neus oral waar jy gaan nie, die goed op die rakke is op een of ander manier ook onlosmaaklik deel van jou geskiedenis. Die emaljebak in die kombuis, die blaasbalk by die kaggel, die kole voetstoeltjie in die sitkamer; alles het herinneringe aan jou ouma en oupa op die plaas. Selfs die diervel op die vloer laat my na familie verlang wat ek nie eens meer kan onthou nie. Stories voor slaaptyd op ’n krakende koperbed onder ouma se handgemaakte deken. ’n Paraffienlamp of kers wat uitgeblaas word as Klaas Vakie kom inloer.

Dis heelwat later wat ons weer op die sypaadjie staan – terug in die hede. Die bruin papiersak onder my blad het ’n kristalblompotjie en apostel-bottermessie in. Laasgenoemde gaan by my oorlede ma se apostel-koekvurkies en -teelepels aansluit wat sy net op spesiale geleenthede uitgehaal het. Ek is as kind deur die ragfyn figuurtjies van die 12 apostels aan die bokant van die eetgerei gefassineer. Elke keer as ek dit nou vir my gaste uithaal, spoel die nostalgie om my enkels.

Keer op keer is ons terug in Somersetstraat. Dis hier waar ons vars koffie by Maria’s drink, ’n rumproe by Afrikanis Rum inkry, badsout by Quintinn van Rensburg se Schoonhuid koop wat allerhande pamperlangprodukte van badsout, gegeurde kerse tot seep maak – elkeen met sy eie storie – en die mooiste geskenke by Windmill Junction raakloop.

Die eerste ding wat jou opval, is die winkel se doringtakplafon. Dis ongewoon en oorspronklik, soos die geskenke, handwerk en klere in die winkel. Hoog op ’n kas staan die woord “Love” in bordspeletjie-houtletters uitgepak en ek weet van een van my vriendinne wat haar voortande daarvoor sal gee.

Die Vallei van Verlatenheid op die R63 na Murraysburg kan nie misgeloop word nie. Dié natuurmonument bied een van die skouspelagtigste berguitsigte in Suid-Afrika en is van besondere geologiese betekenis. Loodregte kranse en hoë dolerietpilare teen die agtergrond van die vlaktes van die Kamdeboo is die gevolg van vulkaniese werking en erosie 150 tot 190 miljoen jaar gelede. Hierdie besondere stuk bergterrein is in 1935 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Pierneef het dit in een van sy skilderye verewig.

Dis die T-hemp met “wyn asb.” op die linkerbors wat my aan die vorige aand se lekker eet en wyndrink by die hotel laat terugdink.

Die droë klimaat en stowwerigheid van verkenning om die dorp het sy tol geëis, en skuins na sononder stap ons gou om sommer wegneemkos te koop. Minute later is ons in die bed met pizza van Hello You en rooiwyn van die hotel se wynwinkel. Toe die La Motte Pierneef Syrah Viognier so lekker saam met die salami-en-knoffelpizza afgly, kan ʼn mens jou indink hoe lekker jy hier kan woon.

Die vroegoggendluggie met ons oppak laat my die grys sybokhaarserp stywer om my kop draai. Daar is soveel van Graaff-Reinet wat saam met ons gaan reis tot ons weer tuis is wat dié ervaring nog lank sal uitrek.

Bespreek by die Drostdy Hotel by Newmarkhotels.com of bel 049 892 2161.

Oral op die dorp bly jy bewus van die teenwoordigheid van die pragtige Moederkerk, of “Groot Kerk” soos die dorpenaars dit ken, wat imposant op ’n sirkel in die middel van die sakekern staan.

Verken die omgewing:

  • Die Vallei van Verlatenheid op die R63 na Murraysburg mag nie misgeloop word nie. Dié natuurmonument bied een van die skouspelagtigste berguitsigte in Suid-Afrika en is van besondere geologiese betekenis. Loodregte kranse en hoë dolerietpilare teen die agtergrond van die vlaktes van die Kamdeboo is die gevolg van vulkaniese werking en erosie 150 tot 190 miljoen jaar gelede. Hierdie besondere stuk bergterrein is in 1935 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Pierneef het dit in een van sy skilderye verewig.
  • Nieu-Bethesda en Helen Martins se Uilhuis is beslis ’n besoek werd as jy in die omgewing is. Die dorpie lê 53 kilometer op die N9 en R61 van Graaff-Reinet af.

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.