Foto’s: Kuba, hoekom Kuba?

 jaco-en-liana-drost-_-havana-kuba-2.jpg

Jaco & Liana Drost in Havana (foto verskaf)

Liana en Jaco Drost

“Kuba, hoekom Kuba?” is die vraag wat ek en Jaco gereeld gekry het. Elke mens se rede om te reis verskil. So het ons ook ʼn rede gehad hoekom ons Kuba gekies het.

Jaco, wat nog altyd ʼn diepe belangstelling gehad het in organiese en ekologiese landbou, het uit sy navorsing geleer dat Kuba een van die lande was wat noodgedwonge hierdie vorm van boerdery effektief kon toepas. Met die val van die Berlynse muur in die laat 1980’s was die land se lewenslyn met die Sowjet-unie afgesny en binne etlike weke was hongersnood ’n realiteit. Aangesien die land bitter min ander implemente kon invoer, het individue uit nood op klein skaal begin groente plant met net die hulpbronne wat hulle tot hul beskikking gehad het. Weens boikotte van die Weste was invoere van landbou-chemiese insette ook nie beskikbaar nie. Die Kubane het spoedig besef dat hulle in harmonie met die natuur gaan moet leer boer om te oorleef.

havana-kleurvolle-geboue-0-2.jpg

Een van die kleurvolle geboue in Havana (foto verskaf)

Kuba is die grootste van al die Karibiese eilande en het ʼn kleurvolle Spaanse en kosmopolitiese kultuur. Van die eerste aand af kon ons sien dat met dié mense se gasvryheid ons baie ver gaan kom. Dit, ten spyte van hul baie beperkte Engels.

Ons tyd in Havana, die hoofstad, was nie sonder haakplekke nie. Daar was uitdagings soos met die trek van geld, ons akkommodasie wat gekanselleer is as gevolg van ʼn fout met die stelsel en voorafgereëlde vervoer wat nie gerealiseer het nie. Die Kubane het egter elke keer tot ons redding gekom en alles vinnig uitgesorteer. Ons het nie een keer gevoel ons word ingedoen nie of dat hulle nie lus was om ons te help nie. Dit het ons stom geslaan en baie dankbaar gelaat. Ons het vinnig vergewe!

varadero-pragtige-ou-gebou.jpg

Jaco bewonder dié ou gebou in Varadero (foto verskaf)

Varadora was een van ons eerste stoppe. Dit is een van die mooiste strande in Kuba. Die skiereiland is 20 km lank en gemiddeld seker so 750 m breed. Die dorpie is pragtig uitgelê met een hoofstraat en dit is dit. Ons kon oral stap en alles wat ons benodig het, was binne ʼn blok of twee bereikbaar. Dit is ʼn plek vol energie met vrolike restaurante, ʼn supermark, die lekkerste koffie, aandenkings en die pragtige strand met stil turkooisblou water! Daar word geswem tot die laaste strale van die son verdwyn. Dan verskuif die aksie na die dorpie se naglewe. Saans is dit behoorlik ʼn jolige affêre! Plaaslike kunstenaars sorg vir musiek in die restaurant en daar word gedans! Ons tyd in Varadora was heerlik en kon ons net lekker ontspan.

havana-taxis-0.jpg

Dié ou klassieke motors word veral as huurmotors aangewend. (foto verskaf)

Ons is terug Havana toe met die doel om twee groenteplase te gaan besoek. Dié stad het egter ons harte gesteel! In die oustadgedeelte van Havana is alles te voet bereikbaar. Ons het heerlik gestap. Die nou straatjies en Spaans-koloniale argitektuur wat dateer van die 1500’s was absoluut betowerend.  Pragtige ou motors vanuit 1940 tot 1959 wat die strate vul is egter net soveel meer indrukwekkend as wat enige foto kan vasvang! Dié ou klassieke motors word veral as huurmotors aangewend. Dit maak die Havana-ervaring net soveel meer besonders. Hoewel dit nie ʼn goedkoop uitstappie is nie, is dit absoluut die moeite werd en kan daar maar vooraf begroot word vir so ʼn ekskursie deur die stad. Dit is opvallend hoe die Kubane hul geboue en ou motors bewaar en met trots in stand hou.

havana-vivero-alamar-1.jpg

Organiponica Vivero Alamar (foto verskaf)

Dit was baie goed om te sien hoe entrepreneurskap gegroei het ná die val van kommunisme. Die Kubane het eienaarskap geneem om hul land weer op te bou.

Ná ons tydjie in Havana was dit tyd om die organiese plase te besoek. Organiponica Vivero Alamar was ʼn perfekte voorbeeld van ʼn geslote stelsel waar alles organies verbou word en niks van buite ingekoop word nie. Alle afval word herwin en verwerk as bemesting vir die groente. Dié plaas in die stad is begin in 1997 en word steeds deur dieselfde familie bestuur in samewerking met die Kubaanse regering.

 finka-tungasuk-vrywilliglik-plant-ons-roosmarynplantjies-saam-met-siggi-n-plaaswerker-0.jpg

Jaco help plant roosmarynplantjies saam met Siggi, ‘n plaaswerker (foto verskaf)

Finca Tungasuk het ons verstom gehad. Hierdie boerdery was ʼn ongelooflike voorbeeld van ʼn boer wat verstaan hoe om in harmonie met die natuur te boer en nie die natuur te beveg soos ons dit ken met kommersiële landbou nie. Elke liewe plant is daar met ʼn doel om op ʼn merkwaardige wyse ʼn ekologiese funksie te verrig. Die eienaars, wat onderskeidelik van Peru en Nicaragua kom, werk baie goed saam met die plaaslike plaaswerkers en ploeg baie terug in die lewens van hierdie mense. Daar word ook gesorg dat hierdie werkers self ʼn baie gesonde leefstyl handhaaf.

Die ouer Kubane kén van plaaswerk. Ongelukkig sien die jonger garde plaaswerk as ʼn straf en die land loop ʼn risiko om nie net jong bloed nie, maar ook baie waardevolle kennis te verloor. Die regering besef dit en het ʼn paar inisiatiewe ingestel om hierdie probleem hok te slaan. Baie opvallend was die plaastrekker, ʼn houtwaentjie wat getrek word deur twee osse wat selfs trurat ken.

havana-strate-2-3.jpg

‘n Straat in Havana (foto verskaf)

Ná ons vrywillige werksessie die oggend en ʼn paar ure van leer, is ons trakteer op ʼn tuisgemaakte buffet van die boonste rakke. Vars vis en hoender met ʼn verskeidenheid groente van die plaas af, saam met pesto, tsatsiki en vars uitgedrukte vrugtesappe. Ons was so beïndruk met die ete dat ons die kok Suid-Afrika toe genooi het om haar kosvaardighede met ons te kom deel.

Toerisme is belangrik vir Kuba. Baie min Amerikaners besoek Kuba as gevolg van regulasies. Die meeste toeriste kom van Europa en Kanada. Inligting vir toeriste is nie altyd op die internet beskikbaar en dit wat wel beskikbaar is, is nie altyd so duidelik nie. Nietemin is die plaaslike bewoners baie vriendelik en altyd bereid om te help waar hulle ook al kan. Geduld is belangrik omdat die taal ʼn uitdaging is en jy moet genoeg tyd inruim vir geselsies. Die Kubaanse gasvryheid is opmerklik en dra by tot die sukses van hul toerismemark. Wat ook baie opvallend was, is hoe netjies en skoon die omgewing is.

Ons was voor die tyd nogal skepties oor misdaad. Tog, terwyl ons in Kuba was, het ons van geen misdaad gehoor of gesien nie.

Op die vraag wat het vir ons die meeste uitgestaan?  Definitief die mense se onvoorwaardelike opgeruimdheid. Hier leer jy hoe min jy nodig het om ten volle gelukkig te wees. Hulle het mekaar en wat hulle nog verder gelukkig maak, is as jy hul land, kultuur en gasvryheid komplimenteer.

“Kuba, hoekom Kuba?” Jy kan self besluit hoekom, maar om Kuba te besoek is ʼn spesiale ervaring. Daar is net een Kuba en geen ander land gaan dieselfde atmosfeer kan bied nie. ʼn Mens kan nie help om ʼn deel van jou hart daar agter te laat nie. Kuba is ʼn land wat definitief op jou emmerlysie geplaas kan word!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

charmaine ·

Nou verstaan ons hoekom Zuma Kuba verkies, lyk my daar werk dinge. En dit lyk na n pragtige land met goeie boerdery.

Frederik ·

Soos die spreekwoord lui -( Suid Afrika kan iets daar leer.)- Luiaard gaan na die mier en word wys. Kuba kan ons iets leer

Philip ·

Kuba is nogsteeds kommunisties. Hul voer 2/3 van hul kos in. Ook onderhewig aan maandelikse voedsel rantsoene. 78% van die BBP is staatsbesteding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.