“Krewe, lekker krewe!” skree die man met die sak vol krewe oor sy skouer en fluit hard deur die gaping waar sy voortande moes wees.
Dís hoe ʼn Gautenger weet hy is aan die Weskus: Krewe word sommer net só op die straathoeke verkoop (wettig of onwettig, dit weet ons nou nie) terwyl plaaslike inwoners en toeriste deur die strate drentel.
Op die lang pad van die N7 na Paternoster ervaar ʼn mens reeds ʼn vakansiegevoel met name van verskeie bekende Weskusdorpies soos Langebaan, Saldanha en Jacobsbaai wat ʼn mens op pad daarheen herken.
Ons klop aan by die Paternoster Lodge in die hoofstraat vir ʼn heerlike ontbyt. Later drom ʼn hele groep motorfietsryers op ʼn ontbytrit saam om ʼn tafel. Hulle is in ʼn vrolike luim en maak grappe met die kelnerin dat “die Boeing lankal oor is” en bestel elkeen ʼn bier.
Die strate van die dorpie is maar stillerig vir die laaste Saterdag van Februarie. Ná ontbyt gaan ons die dorp verken, waar ons onder meer die akteur en skilder At Botha se ateljee en die Paternoster-biblioteek (ja, daar is selfs ʼn biblioteek) ontdek.
Ons ry verby bekroonde restaurante soos Die Gaaitjie, Wolfgat en Oep ve Koep en sien hoe mense in rye staan en wag vir die gewilde vis en skyfies van On The Rocks.
Daar is ook ʼn laerskool met ʼn seeuitsig en ek kan nie help om te wonder of ek nie heeldag daar sou sit en dagdroom as ek daar as kind moes skoolgaan nie.
Die strande is spierwit en skoon. Plek-plek stap ʼn gesin met ʼn groot hond wat na die vlak branders hap en tussen stukke seewier baljaar. Kinders bou sandkastele in die kleierige seesand en oral is mense met selfoonkameras om die herinneringe wat hulle op dié prentjiemooi dorp skep vir ewig vas te vang.
Die wit huisies wat in rye in die woonbuurt van die dorpie staan bied ʼn knus atmosfeer en herinner aan die wit seehuisies van Griekeland. Die huisie wat ons deur Airbnb huur, is sowat 50 meter op ʼn smal sandpaadjie weg van ʼn stil strand af – moeiteloos om aan te pak, selfs met ʼn besige peuter op die heup.
Ons eindig die dag met ʼn heerlike en spotgoedkoop draairoomys naby die strand. Teen skemer, wat in die Kaap eers heelwat later geskied as in Gauteng, het ons ʼn braaivleisvuur aangesteek en glase vol witwyn en ys gemaak.
Terwyl ons aan (voorafbestelde) kreefstertjies, skaaptjoppies en ʼn vars slaai smul, bou ons lugkastele dat ons eendag van dié rustige kusdorpie ʼn permanente tuiste sou kon maak.
Hoewel ons gewaarsku is om nie enige waardevolle items in motors wat buite geparkeer is te laat nie, aangesien diefstal soms ʼn probleem in die omgewing is, het ons nag sonder ʼn insident afgeloop en het ons soos babas geslaap met die brekende branders wat ons gesus het.
Die volgende oggend is ons harte maar broos om só gou al die dorp te verlaat en wens ons kon sommer nog weke aanbly. Ons maak weer ʼn draai by die strand en waai vir die seilbootjies wat op die stille waters dobber.
Net enkele kilometers weg verlang ʼn mens reeds na die atmosfeer van Paternoster, waar die aanloklike blou water en glimlaggende man met die sak krewe jou telkens welkom heet.
Gelukkig verskil mense. Nooit sal ek daar wil woon nie. Gaan kyk liewer hoe lyk port owen.
Dankie tog.
Ek stem Oujongnooi – dankie tog smaak verskil. Ek verkies die natuurlike rustigheid wat Paternoster bied bo Port Owen – wat ook mooi is – maar nie in mens se hart klim soos Paternoster nie.
Ja Oujongvrou, gelukkig dat smaak verskil. Was jy al op Paternoster? Dit is regtig so pragtig en rustig! ‘n Behoorlike lafenis vir mens se siel as jy wil wegkom van die stad se gewoel….