Foto’s: Pak en ry na Riebeekvallei

Geen twyfel wat die gekose drinkgoed hier is nie. (Foto: Clifford Roberts.)

Ons herlaai ons battery in die Riebeekvallei en geniet so kuier-kuier bo-oor Kasteelberg die ware Swartlandse gasvryheid waarvan mens deesdae net in tydskrifte lees, skryf Maryke Roberts.

Ons draai van die R46 af, by Riebeeksrivier se grondpad in. Ons ry verby damme met voëls en interessante plaasname soos Taaibosfontein voor die klein kronkelende grondpaadjie ons deur olyfboorde lei en voor ’n klein geboutjie uitspoeg. Daar agter die besonderse traliehek is waar John Relihan die afgelope vyf jaar sy towerkuns uit ’n modulêre stookketel haal. Jenewer is die naam, maar daar is ook rum en brandewyn en witblits en Honey Digestif aan’t ontwikkel, vertel hy trots.

“Ek vroetel ook met ander se goed wat distillering nodig het.”

John vertel dat die proses van begin tot einde – dis nou vandat hy die eerste keer sy eie brousel geproe het totdat hy sy dranklisensie ontvang en sy eie bottels volgemaak het – meer as drie jaar geduur het.

“Die moeilikste deel was nie om iets drinkbaars te maak nie; die SAID-aksynslisensie was die grootste hekkie om te oorkom,” vertel hy.

John wys sy stookketels, die netjiese emmers met bestanddele soos jenewerbessies. Ons verkyk ons aan die botaniese wondergoed soos suurvytjies, boegoe en wilde anys, wat aan sy jenewerdaardie effe anderse smaak gee en hy gesels so tussendeur oor sy liefde vir stook.

“Ek is ’n crafter. Ek wil die vaardigheid van stook slyp. Ek leer elke dag nog iets. Ek probeer om die kuns om goeie alkohol te maak, verstaan. Ek bring baie ure hier deur,” erken hy met ’n breë glimlag. Dis heel duidelik dat hy glad nie swaarkry nie!

Wat sy jenewer van vele ander boetiekjenewer onderskei, is dat hy Swartlandse rooiwyn – en nie graan nie, soos wat jy sou verwag van ’n distilleerder in hierdie graanryke omgewing – gebruik. En natuurlik die soet bergwater van Kasteelberg.

John Relihan by sy modulêre stookketels. (Foto: Clifford Roberts.)

John was vir 35 jaar in die tydskrifbedryf in die stad en het naweke sy lyf kom kleinboer hou. Hy het met olyfbome begin eksperimenteer, later sy eie pars gekoop en nou pars hy sy eie olyfolie.

“Maar dan staan ek by die markies met my olyfolie en mense kom skud blad en vra hoe dit gaan en sê maar hulle het nog olyfolie, dankie. Die ou langs my wat limoncello verkoop, se tafel kook en hy verkoop binne ure uit. Daar het die saadjie begin ontkiem dat ek moet stook.”

John sê die mensdom hou van kuier – dis ’n integrale deel van wie ons is en dis vir hom lekker om te sien hoe mense sy jenewer daar op die historiese ou huis se stoep geniet. Jy kyk ver oor die vlaktes en hy beduie so reguit voor hom uit:

“Daar agter die bloekombome is Tafelberg.” Twee witkruisarende draai geruisloos in die lug, swiep en swaai op die warm opwaartse winde van die berg.

Hy vertel dat hy alles alleen doen en daarom eintlik eerder groepe verwelkom. “Dan laat ek hulle jenewer proe. Ek vertel hulle die hele storie, elkeen meng sy eie drankie en dan sit ons op die stoep.”

Vra jy hom waar hy so baie geleer het, antwoord hy vinnig: “Ek is ’n student van die Universiteit van YouTube!”

John wys ons met ons vertrek dat sy grond bo-op die bergkruin aan Pulpit Rock Wynkelder se plaas, De Gift, grens. Ons vertel dat ons soontoe op pad is vir die naweek en graag die nuwe staproete wil gaan stap en beloof om van bo-op die kruin vir hom te waai, die volgende dag.

Kom maak ‘n draai by Nuweplaas. (Foto: Clifford Roberts.)

Ons planne om daarvandaan direk na Pulpit Rock te ry, word (gelukkig) gekortwiek deur ’n restaurant met babadonkies in ’n kampie daarnaas. Ons trek by die Nuweplaas Padstal in. Met ons aankoms besef ek dis eintlik ’n heerlike kuierplek: padstal links, speelterrein vir die kleinspan in die middel en groot restaurant regs.

Die padstal/restaurant behoort aan Elrika Lesch. Haar dogter, Christelle de Lange, kom gesels oor die spyskaart, toe ek vra hoekom hul plaasburger met roosterbrood in plaas van burgerrolletjies gemaak word.

“Die enigste brood wat ons daagliks bak, is plaasbrood en toe dink ons dit maak ook ons burgers uniek,” vertel sy. Daarby kry jy pampoenkoekies of tjips en koolslaai.

Sy en haar ma sê daar is agt kleinkinders binne ses jaar gebore en hulle “moes iewers ’n plek kry vir familiebyeenkomste en toe klink ’n kindervriendelike padstal na ’n blink plan!”

Op swartborde teen die muur word “Koek in kas” geadverteer en voor ons groet, loer ek by die padstal in met sy pasteie, koekies, wyne en vele snuffelgoed. Ek koop drie krale-armbande in groen en pienk en voel sommer koeler toe ek weer die son buite trotseer.

Ons ry oor die Bothmaskloofpas met ’n pragtige uitsig oor die vallei. By Nektarhoogte pak werkers in blou oorpakke rooiwangvrugte in veelkleurige kratte. Die koue vonkelwyn by Pulpit Rock roep hard, maar ons wil eers gou ’n paar plante en potte koop by die Riebeek Valley Garden Centre, want dit spog met die nuwe Boomhuis, die Krem a Tart Restaurant, Karoo Deli, Doringrosie-geskenkwinkel en ’n gallery. André Beaurain en Corné Pretorius se liefde vir eksotiese plante is legendaries en hier kry jy altyd ’n raar plant, terwyl jy ’n heerlike cappuccino geniet. Terwyl jy loop en jou verwonder. Die nuwe kwekerygebou is om ’n 50-jarige kremetartboom geplant en binne is dit een hemelse kop-skoon-maak kans met watervalle en orgidee wat teen die klipmure afrank.

Bothmaskloofpas met sy pragtige uitsig oor die vallei. (Foto: Clifford Roberts.)

Ons swaai darem ook af vir beskuit na Home of Swartland Rusks, ’n klein ontvangslokaal in kantore, langs ’n besige silo en meule. Met ons pekanneut-en-dadel beskuit onder die blad, val ons agter die lang ry verkeer in. Mense kruip teen ’n slakkepas voort – trekkers, sleepwaens en reusagtige trokke met bakke tot barstens toe vol koring, wag hul beurt om hul vrag af te laai. Die mense lyk nie ongeduldig of haastig nie. Kyk jy af en jou oog vang hul nommerplaat, is CK die letters. CK word vir my die kodewoord vir rustigheid en ek voel sommer hoe ek ook effe ontspan.

Ons gastehuis is oorkant die Pulpit Rock-wynkelder. Perde en skape wei in die lang, groen gras en die lug verkleur in ’n bont reënboog, voor die son finaal oor die heuwels ondergaan. Ons braai vleis, teug aan Pulpit Rock-wyne en slaap soos mense sonder sorge.

Saterdag is ons triomfantelik op die piek, 826 meter bo seespieël, en kyk ons waar die vallei teen die Groot Winterhoekberge doodloop. Ons het piekniekgoete ingepak en sit daar in die veld, met ’n koel windjie wat ons seer lywe streel.

Ver onder ons kyk jy oor die plaas se lappies Pinotage, Chenin blanc, Viognier, Grenache, Merlot, Cabernet Sauvignon en Shiraz. Die staproete is nie lank oop vir die publiek nie en was die breinkind van die kelder se bemarkingsbestuurder, Hermias Hugo en Dewald Huisamen, die wynmaker, wat aan besoekers aan die kelder iets meer as net proeë en verkope wou bied.

Hulle het eers ’n Wine & Snack Bar geopen, wat naweke oop is en waar jy bo die proelokaal oor die dam en wingerde uitkyk en iets kan eet en drink.

Dewald vertel dat mense die stap geniet, omdat hulle langs die wingerde stap en dit ’n goeie aanknopingspunt is voor hulle wynproe. Mens kry amper meer respek vir die wyn as jy dink in watter rotsagtige grond die druiwe oorleef. Die staproete is 1,9 km van die kelder tot heelbo op die berg en het vyf uitkykpunte waartydens jy altesaam 584 meter styg.

Die roete word met rooi pyle op klippe aangedui. Ons stop by elkeen van die oulike name wat Dewald uitgedink het: Shiraz Sighting, Cabernet Corner, Pinotage Pinnacle, Wild Olive Tree, Cabernet Crest, Little Table Mountain en Kasteelberg Peak.

Ons sit die hele middag by die intieme restaurantjie en hoor later Pulpit Rock is die Brink-familieplaas en beslaan 500 hektaar. Ernst, sy twee seuns – Van der Byl en Haumann – en wynmaker Dewald en bemarkingsbestuurder, Hermias, is almal ewe betrokke by die kelder. Ernst het die kelder in 2004 tot stand gebring. Mignon de Klerk, die plaas se vlytige gasvryheidsbestuurder, dra kaasborde aan en hou ons glase vol.

Dewald vertel trots dat die Brinke vanjaar 5 000 ton druiwe gaan pars en sover ek weet, is dit een van die grootste kelders in familiebesit is, wat al hul druiwe vir hul eie wyne gebruik.

Daar op die ou huis se stoep kuier jy saam met John Relihan oor ’n sopie (of twee) jenewer. (Foto: Clifford Roberts.)

Pulpit Rock het drie reekse: Stories, Pulpit Rock Louisa, hul vlagskip en die Brink FamilyVineyards-reeks. Elke reeks het ’n gevestigde aanhang, maar ek verloor my hart op die Louisa MCC Brut, ’n Chardonnay vonkelwyn wat in die tradisionele Franse manier gemaak word en ook die Pinotage-versnit, wat verskeie pryse ingepalm het.

Ons is lekker styf van die stap en die warm stort is behaaglik. Ons sit en lees laatmiddag op die stoepie. Springbokkies wei neffens ons en stadig kom die voëls so saam met die skemer huis toe. Ons is te oordraad geëet aan die vrugte van die vrygewige Swartland om weer te eet en kyk eerder net sterre deur ’n wingerdblaardak voor ons kamer.

Sondagoggend is ons terug op die Wine & Snack Bar se stoep, waar Mignon ons met stomende cappuccinos en ontbytrolletjies inwag.

Dis nie vreemdes wat ons groet ná twee dae se kuier nie, dis nuwe vriende. Dat hulle boonop bekroonde wyne maak en gawe mense is, is natuurlik ’n bonus. Ek sal nie weer na ’n Pulpit Rock-wynetiket kan kyk sonder om hierdie warmte te herleef nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.