Grootbos: Unieke kunsruimte in ’n botaniese galery

Net voor jy na regs sou afdraai na De Kelders in Walkerbaai, sit die klein bordjie vir Grootbos Privaat Natuurreservaat na links. Niks kan jou voorberei op die fynbos-erfenis wat hier skuil óf die bewaringswerk wat hier vermag word nie. ʼn Unieke botaniese galery het onlangs daar geopen en ʼn geskiedkundige boek, Grootbos Florilegium – Celebrating a legacy of conservation in fynbos from the Cape Floristic Region of South Africa is pas bekendgestel, skryf Maryke Roberts.

Praat jy van De Kelders of Gansbaai, sal die meeste mense vir jou sê dis waar jy saam met haaie duik of, as jy gelukkig is, die beste perlemoen of ander Suid-Kaapse seekos sal kan eet. Ander sal weer vertel jy is binne minute in drie verskillende wynroetes: die Hemel-en-Aarde-, Stanford- of Agulhas-wyndriehoek. Of vlieg laag oor die kuslyn en kyk hoe die reuse van die see hier kom kalf en perkaatse maak in die golwe tydens die jaarlikse walvisseisoen.

En hoewel jy al hierdie genietinge van Grootbos kan ervaar, is dié plek ʼn bestemming in eie reg.

Ek dink nog steeds die eienaar, Michael Lutzeyer, en sy gesin het ʼn visie gehad, wat moontlik glad nie duidelik vir ander was, toe hulle meer as drie dekades gelede besluit het om ʼn stuk aarde, wat vir ander net grond naby De Kelders was, se potensiaal raak gesien het. Die Lutzeyers het in 1991 by Uilkraalsmond vakansie gehou en op pad terug Kaap toe, verby die lamlendige bordjie langs die pad gery. Hulle het die voormalige veeplaas –  toe 123 ha – gekoop en twee selfsorghuisies opgerig. Vandag is dié reservaat egter een van Suid-Afrika se top botaniese reservate en die grootste in die suidelike halfrond.

Vandag is daar in hierdie vyfster lodge se besoekersboek name soos Katy Perry, Brad Pitt en Charlize Theron en wat goed genoeg is vir hulle, is natuurlik die beste-este vir die res van ons! (Natuurlik skryf hulle nie hul name in besoekersboeke nie, maar die mure het ore en dis hoe ek weet…)

Die reservaat spog met trofeë vir bykans elke aspek van toerisme: beste indringervrye reservaat; beste landgebaseerde walviskyk; unieke lodges van die wêreld en vele ander, hang teen die mure. ʼn Glastrofee van National Geographic ook trots tussen hulle.

Grootbos het twee lodges, die herboude en splinternuwe Garden Lodge en Forest Lodge, privaat villas en ook selfsorgeenhede. Gaste kan allerhande aktiwiteite in die omgewing gaan geniet, maar die ware ervaring lê binne die reservaat se 3000 ha: die beste wyne van die Kaap is op die drie wynlyste; die beste sjefspan sorg vir drie liplekker etes per dag; Grootbos se eie jenewer dui die einde van ʼn dag aan. Hoe nou, drie wynlyste? Jy het reg gelees: Grootbos het drie uitsonderlike wynlyste – een is plaaslike wyne; een is verouderde wyne uit die kelder en een is spogwyne van die Kaapse Wynmaakgilde. In die nuwe Garden Lodge is ʼn indrukwekkende glaskas met laasgenoemde uitgestal.

Met ons fynbosstap kyk ons na die mooi rooisewejaartjies in die veld.

Maar dis die fynbos-ervarings wat uitstaan. Daar is perdry- en staptogte – met of sonder gidse – en ʼn twee uur lange fynbos-safari soggens en ʼn grot-ontdekking in die middag. Jy kan ook die Grootbosstigting besoek. Dié stigting doen nie net opheffingswerk in die omliggende gemeenskappe nie, maar het bewaring van die Kaapse blomkoninkryk as hoogste prioriteit.

Alles dra trots die fynbos-borsspeld: die kamer is versier met potjies fynbos; die handdoeke, toiletpapier, vensterbanke het oulike takkies wat die veldgeure as’t ware tot in jou kamer bring. Die reservaat se eie fynbos-geïnspireerde tee is die perfekte drankie voor jy droomland toe gaan, of lank in die bad lê met hul eie badseep, lyfroom en ander pamperlang-produkte.

En dan, as jou kop stil geword het, stap jy vroegoggend of laatmiddag deur die tuin, verby die fontein, af na die galery. As jy gelukkig is, het jy al die boek onder oë gehad en weet jy – soort van – wat op jou wag binne die gewyde stilte van hierdie fynboskatedraal. Die boek en galery is ʼn spanpoging deur verskeie rolspelers, maar dis die skenkings van Hannarie Wenhold wat die bou van die fynbosgalery moontlik gemaak het en die ruimte is na haar vernoem.

Die pragboek – ʼn omvattende ensiklopedie waarin 120 kunswerke van 44 botaniese kunstenaars van regoor die wêreld ingesluit is – is by Kirstenbosch Botaniese Tuine bekend gestel. Benewens die kunswerke wat jy elkeen op hul eie sou wou raam, is daar staaltjies en insigte van Sean Privett, skrywer, bioloog en Grootbos-bewaringsdirekteur.

Die boek word deur Quivertree uitgegee en alle winste word in die Grootbosstigting teruggeploeg.

Sean het die aand met die bekendstelling vertel: “Wat ons probeer doen het, is om te wys wat ons by Grootbos het, maar dit is ook die storie van die Kaap en die Kaapse flora – die rariteit, diversiteit en bedreiging. Die narratiewe en wetenskap is daar. Baie van daardie stories staan ​​in wetenskaplike joernale en publikasies, en ons moes ʼn manier vind om dit oor te dra, na iets wat verband hou met die gemiddelde toeris. Ons het dit vir baie jare gedoen deur ʼn span fantastiese gidse.”

Dis egter ʼn heeltemal ander ervaring om hom in Kirstenbosch te hoor praat of tuis deur die boek te blaai, as om daar in die goedbeligte galery na die oorspronklike kunswerke te kyk. Wat egter nog meer spesiaal is, vertel die bekende botaniese kunstenaar, Vicki Thomas, is dat tradisionele florilegiums uitsluitlik geassosieer word met plante wat in isolasie uitgebeeld word.

Die naam uit Latyns, wat letterlik blomversameling beteken, getuig hiervan.

Die inskakeling van ander spesies en landskappe in gepaardgaande kunswerke wat of onder of langs elke kunswerk uitgestal word, is dus baie ongewoon. “Die idee om van dié norm weg te breek, het bloot uit die fynbos self voortgespruit,” sê Vicki.

“Dit het my opgeval dat nie een van die plante in isolasie leef nie. Elke plant het grondsoorte, metgesel-plante en allerhande soorte insekte en bestuiwers nodig. Ons het toe besluit om ʼn volledige bewaringsirkel oor hoe hulle saamwerk weer te gee.”

Die fynbos-bioom het hierdie wonderlike ekologie: die miere, die muise en verspreiding. Al hierdie klein interaksies is by kunswerke ingebring, waaronder ook die storie van bestuiwing, vertel Vicky.

Die galery is opgedeel in sewe afdelings: Diversiteit, ekologie, bestuiwing, vuur, erfenis, woude en bedreigde spesies en in die middel van die galery, in ʼn pragtige glaskas, is die grootste kopie van die boek. Die wit handskoene neffens die boek is ʼn goeie aanduiding van die ontsag waarmee hier geblaai moet word. Chris Lochner, inwonende kunstenaar van Grootbos en een van die kunstenaars wat se werke teen die mure pryk, vertel dié boek weeg 14 kg!

Hy vertel: “Tradisioneel word florilegia eksklusief in beperkte oplae van luukse boeke van die hoogste gehalte gepubliseer. Hierdie publikasies is groot en algemeen met die hand gebind. Alhoewel Grootbos besluit het om ʼn meer toeganklike uitgawe kommersieel te publiseer (kleiner en meer bekostigbaar), wou ons wel die ou tradisie eer deur ʼn spesiale luukse uitgawe ook te publiseer.”

Die boek se voorwoord deur Richard M Cowling, ʼn emeritusprofessor in die plantkunde-departement aan die Nelson Mandela Universiteit, lui: “Die Kaapse blomkoninkryk – ʼn strook kusvlakte en berge wat langs die Kaapse kus van die Cederberge in die noordweste tot by Algoabaai in die suidooste strek – spog met ʼn rykdom van sowat 9 000 plantspesies, waarvan meer as tweederdes endemies is. Hierdie diversiteit is net die tweede na die tropiese Andes. Ewe divers is die insekfauna, hoewel dit nie so omvattend bestudeer is nie, so wêreldwye vergelykings sal moet wag.”

In die middel van die galery, in ʼn pragtige glaskas, is die grootste kopie van die boek. Die wit handskoene neffens die boek is ʼn goeie aanduiding van die ontsag waarmee hier geblaai moet word.

Baie van die honderde spesies – waarvan sommige nog nie voorheen opgeteken is nie – is by Grootbos gevind en word in meer as 300 bladsye van die boek beskryf.

Soos jy met jou vergrootglas – wat oral op klein rakkies onder potjies fynbos rus – na muisies met stuifmeel op hul snoete; bye met stuifmeel op hul rûe; suikerbekkies wat met hul lang bekkies in ʼn protea grawe of ʼn fluweelwurm wat lang slierte uitspoeg om sy prooi te vang, loer, kom sit die wonder van ons blomkoninkryk in jou lyf.

Ek wonder hoe die kunstenaars gekies is wat se werke daar vertoon word – en dus in die boek opgeneem is? Chris vertel: “Vicki Thomas – een van die stigters van die Botaniese Kunstenaarsvereniging van Suider-Afrika (BAASA) – het al deelgeneem aan soortgelyke projekte oorsee (Koning Charles se Highgrove Florilegium, Transylvania Florilegium en die Sydney Florilegium) en sy ken van die beste internasionale botaniese kunstenaars. Sy het topgehalte kunstenaars van Suid-Afrika en die buiteland gekeur en genooi om deel te neem.

“Die Suid-Afrikaanse kunstenaars het twee aande op Grootbos deurgebring – genoeg tyd om die reservaat te sien, om ʼn gevoel van die omgewing te kry en om hul plante te kies. Die internasionale kunstenaars het tien dae gebly, sodat hulle meer tyd kon hê om aan hul illustrasies te werk terwyl hulle naby die plantmateriaal is.”

Die galery – versigtig geposisioneer op die rand van ʼn oer melkhoutbos – is ontwerp deur Vaughan Russell van Field Architecture en daar is geen direkte sonlig op die kunswerke nie. Elke kunswerk is ook met nie-reflekterende glas bedek, wat jou kykgenot soveel egter maak.

Nou is die hoop dat al wat leef en beef ons fynbos-erfenis op hierdie spesiale manier sal kom geniet. En almal uiteindelik sal hande neem om dit vir ons nageslag te bewaar.

Kitsfeite

  • Die galery is oop vir bespreekte besoeke. Jy kan Woensdag tot Sondag ʼn begeleide toer onderneem, dan ʼn fynbos-safari op die reservaat meemaak, voor jou uitstappie met middagete by Schneider’s Kitchen afsluit. Die galery is ook op bespreking Dinsdae, Donderdae en Saterdae oop. Bespreek jou uitstappie by Grootbos by (028) 384 8053, [email protected] of besoek www.grootbos.com. As jy langer wil vertoef, kan verblyf op dieselfde nommer en webwerf bespreek word.
  • Grootbos spog met die wêreld se grootste melkhoutboom-woud en jy kan in die woud gaan stap. Een van die bome is 1 000 jaar oud.
  • Grootbos het ook ʼn herbarium – ʼn versameling gedrukte plantmonsters wat geïdentifiseer is. Dit is ʼn waardevolle rekord van die plante van Grootbos en die omgewing.
  • Altesaam 943 plantspesies is al waargeneem op die reservaat. Geen plante kom net op Grootbos voor nie, alhoewel ʼn paar van hulle uiters seldsaam is. Die afgelope 25 jaar se navorsing het gelei tot die ontdekking van sewe nuwe plantspesies op Grootbos.

Foto’s verskaf deur Clifford Roberts en Grootbos

 

Die galery is opgedeel in sewe afdelings: Diversiteit, ekologie, bestuiwing, vuur, erfenis, woude en bedreigde spesies.

Die projek is onder meer gelei deur die bekende botaniese kunstenaar, Vicki Thomas (regs). Maar die skenkings van Hannarie Wenhold het die bou van die fynbosgalery moontlik gemaak het.

Die pragtige teëlkunswerk in die ontvangslokaal van die nuwe Garden Lodge, is ʼn weerspieëling van die natuurtoneel wat buite die reuse vensters op jou wag. ʼn Kleurespel van lug, see en plante.

Chris Lochner, inwonende kunstenaar van Grootbos en een van die kunstenaars wie se werke teen die mure pryk, wys trots van die kunswerke.

Saans is ons eerste op die restaurant se stoep om die sonsondergang te geniet en ons aan die smaaklike etes te vergryp!

Die pragtige teëlkunswerk in die ontvangslokaal van die nuwe Garden Lodge, is ʼn weerspieëling van die natuurtoneel wat buite die reuse vensters op jou wag. ʼn Kleurespel van lug, see en plante.

Vergrootglase is regdeur die galery beskikbaar om die fynste detail in die kunswerke te kan waardeer.

Die pragboek – ʼn omvattende ensiklopedie waarin 120 kunswerke van 44 botaniese kunstenaars van regoor die wêreld ingesluit is – is by Kirstenbosch Botaniese Tuine bekend gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.