Hoe kom jy by Mabibi uit? Hou net reguit aan

Die grondpad op pad na Mabibi. (Foto: Arno Pouwels)

Eintlik wil ek vir niemand van Mabibi vertel nie. Ek wil eerder alles net vir myself hou. Dit is ’n baie spesiale plek. Selfs op pad daarheen met grondpaaie en die klein gemeenskappe, geniet ons elke oomblik en stop elke nou en dan by een van die plaaslike inwoners om aanwysings te kry.

“Ah, Mabibi!” sê hulle dan met ’n glinstering in die oog. “Just go straight.”

Dit is die antwoord en basta. Maak nie saak of daar vurke in die pad is of ander afdraaipaadjies nie. Hou net reguit aan, want alle paaie lei na Mabibi. Dit sou my nie verbaas as dit regtig so was nie…

Ons doen ʼn hele toer deur die noordelike gedeelte van Suid-Afrika se kusgebied in KwaZulu-Natal en hierdie is ons vierde bestemming.

Uiteindelik vind ons die regte pad. Het jy geweet, selfs al antwoord Mabibi se personeel hulle is volbespreek, kan jy net jou kar pak en die kans waag. Dit is wat ons gedoen het. Met 12 mense en drie 4×4-voertuie vind ons plek.

Vir die eerste aand moet ’n paar van ons in ’n huisie slaap, die ander kampeer. Ek is een van die gelukkiges wat in die huisie slaap – met mure gemaak van seile en vensters met draad om die muskiete uit te hou. Ek en een van my vriendinne gryp dadelik die koffie en een van die huisie se bekers en gaan verken die strand.

Daardie aand slaap ek buite op die stoep…  Ek, die maanlig en die sterre. Al het ons dié aand ’n slang gesien, hou ek my dapper en rol my matrassie en slaapsak uit. Tog wonder ek êrens in die middel van die nag of hier luiperds is. Ek luister na die nagapies se geblaf wat eerder soos ’n gillery klink. Ek hoor die kriekies en later die douvoordag-voëltjies. Ons kyk hoe die son opkom, koffie in die hand, en al wat bestaan is die golwe van die see digby ons en die vars oggendlug. Hoe is dit dat ’n sonsopkoms op ’n afgeleë strand so in ʼn mens se hart ingeëts word?

Die eerste oggend se sonsopkoms by Mabibi. (Foto: Anita van Renssen)

Elke dag is ʼn stranddag. ’n Paar van ons groep speel tennis, ander is besig om te snorkel. Ek stap langs die kuslyn af. Salig. By ons tente is daar hangmatte in die boom waarin mens kan lê en boeklees. Elkeen doen wat hy wil. In die aand gaan party van die groep op ʼn begeleide toer om seeskilpaaie te soek. Hulle vind vier grootkopseeskilpaaie.

Een van ons vriende het vir ons gesorg vir ʼn vis vir aandete. (Foto: Anita van Renssen)

Een middag besluit een van ons vriende om vir ons ʼn vis vir aandete te vang. Hy vat sy spieshengelgereedskap (spearfishing) en ek hou wag met sy hengellisensie byderhand. Ek staan net een keer op om te kyk of ek sy oranje merker in die onstuimigheid van die golwe kan sien, voordat ek weer ʼn blokkiesraaisel probeer baasraak. ʼn Uur later kom hy terug met ʼn bronskoningvis in die hand. Ons is opgewonde, neem ’n foto of twee. Daardie aand is daar vis oor die kole, wyn in die hand en geselligheid in die kring.

Tog neem niemand eintlik baie foto’s in hierdie paar dae nie. Almal floreer eerder in die heerlike samesyn, want ons is ver van winkels, die beskawing en selfoonontvangs.

Ja, al is die stortwater bruin en ondrinkbaar (en al my klere verkleur), al is die pad strand toe steil en vol trappe, sal my hart altyd weer soek na daardie paar dae by Mabibi Beach Camp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theunis ·

Ek het klompie jare gelede in die Weg tydskrif Mabibi raak gelees en dieselfde jaar gaan verken. Enigste iets wat bietjie gepla het wat die baie trappe maar mens raak dit ook gewoon met die kleintjies wat op die skouers ry. Lekker kamp plek. Sal verseker weer en weer gaan.

Jan ·

Mabibi sal ek altyd onthou, want ek was daar op RSG ingeskakel om te hoor hoedat Natal die Blou Bulle met 18-12 klop om die 1990 Curriebeker te wen. Wat ‘n pragtige plek, nog mooier as die sononder die aand gevier word met die wete dat die beker in Durban tuis is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.