Nuwe dinge roep by De Hoop

Die pragtige villa op die rantjie van die vlei. (Foto: Clifford Roberts/Verskaf)

Net ʼn katspoegie anderkant Bredasdorp in die Overberg wag ongerepte natuurskoon, fietsroetes, wandelpaaie en ʼn uitstappie na ʼn aasvoëlkolonie op jou. Die De Hoop Collection – die eerste private/ openbare vennootskap in die Suid-Afrikaanse gasvryheidsbedryf – het in 2007 in die De Hoop-natuurreservaat geopen en het sedertdien nog nie ophou innoveer nie, skryf Maryke Roberts.

De Hoop Collection bied ʼn wye verskeidenheid verblyf, van kampterrein-rondawels en selfsorgkothuise en -huise (slaap van twee tot ses mense), tot romantiese suites en ʼn ou klip herehuis. Die onlangse toevoeging van ʼn nuut gerestoureerde luukse villa, is ʼn verdere uitbreiding van sy diverse verblyf-aanbod.

Die bonus is natuurlik die reservaat is net drie uur se ry van Kaapstad af en langs die wêreldbekende Tuin- en Walvisroetes. Die natuur-ervarings is legio: die see in die mariene-reservaat, strande, Ramsar-gelyste vlei, skaars inheemse plante, walvisse, diverse diere- en voëllewe, insluitend die bedreigde Kaapse aasvoël. Daar is sowat 260 voëlspesies op die reservaat te sien en meer as 1 500 plantspesies, waarvan heelwat bedreigde of raar fynbos is.

Die reservaat is een van die grootste natuurlike gebiede wat deur CapeNature bestuur word.

Met walvistyd hier, is dit natuurlik die beste plek om jou kop te gaan skoonmaak. Ons het die hele villa vir onsself in die middel van die week. Die villa se prys sluit alles in: kos, aktiwiteite (nie die aasvoëls en ekobootrit nie), ʼn sjef en gidse wat jou op daaglikse ritte neem.

Die villa is op die rand van die Ramsar-gelyste vlei en het betroubare WiFi, ʼn privaat buite-area met ʼn braai en swembad en die ongelooflikste uitsigte oor die water, waar die kleure en besoekers heeldag verander.

Danksy ʼn kombinasie van sonkrag- en gasgeriewe, is beurtkrag die laaste ding waaroor jy hoef te bekommer. Kyk eerder hoeveel voëlspesies jy kan lys en hoeveel wilde bosvarke, otters, rotsdassies, troppe elande en selfs luiperdspore jy dalk kan raaksien.

Die alge in die vlei is lekker dik. Dis baie gerieflik sodat bleshoenders en kuifkop-dobbertjies hul neste daarop kan bou. Neffens die stoep staan ʼn melkhoutboom en dit lok baie voëls. Ons hoor ook daar is vier pare visarende in die omgewing, waarvoor ons luister.

Die warm middaguur nooi al die tiptolle om in die louwarm vlakwater teen die rant van die vlei te kom bad. Papnat sit hulle dan soos nat vadoeke oral in die bome en droog word.

ʼn Pelikaan kom wei reg voor ons in die water. “Wei” is die beste woord, glo my! Hy duik af en kom op met ʼn bek vol gras en goggas en alles en nog wat – vlerke en pote in die lug. Very undignified!

By die meeste ander plekke is dit ʼn selfoon op die koffietafel as jou lyf een word met die sagte kussings van ʼn bank voor die kaggel. Hier is dit jou verkyker en voëlboek. Soggens sit ons op die stoep met koffie en tuisgemaakte beskuit, saans kyk ons sterre met ʼn glas wyn.

Met ritte op die wildkykvoertuig word die veld deur ons gids aan ons openbaar: op ʼn heuweltjie staan ʼn reuse-melkhoutboom van 200 jaar oud en ʼn kaalsingvalk het dit sy tuiste gemaak; “in die winter breek die bobbejane die protea se hart uit om die soet nektar te kry vir energie; renosterbos kan tot 3 m hoog word, maar elande en volstruise gee dit nie kans nie; en by sebras sal jy nie bosluisvoëls sien nie, want hulle rol in sand en bedek hulself teen vlieë”.

Skielik ruik jy reën in die lug en met die omdraaislag, hang die pienk vlieswolkies soos klein spookasempies teen die blougrys lug. Ons gaan kies skuiling op die reusebanke in ons sitkamer, waar – jy het reg geraai – die vuurtjie klaar in die kaggel knetter.

ʼn Mens kan nie help om jouself te wil knyp as jy dink net anderkant die spierwit duine, agter die villa, baljaar walvisse in die koue water; en ʼn paar kilometer verder, sit daar aasvoëlkuikens veilig in hul neste hoog teen die kranse van Potberg en jy kan dit nou selfs met ʼn aasvoël-stap gaan verken. Die kransaasvoël (Gyps coprotheres)-kolonie staan tans op 103 broeipare.

Die kort stappie na die houtplatform vanwaar jy die voëls kan betrag, is ʼn fees in die fynbos wat soms bo jou kop uittroon. Die veld is ʼn baldadige kleurespel van pienk, oranje, wit en rooi. Die uniekheid van die omgewing én ervaring beslis iets wat jou vir altyd sal bybly.

Die kransaasvoëls kan tot 10,8 kg weeg; 118 cm hoog staan; en ʼn vlerkspan van 2,6 m hê. Die spesie is bedreig en hoewel heelwat kolonies in bewaringsgebiede voorkom, bring die voëls meestal hul tyd buite dié gebiede deur.

Die omstandighede by Potberg is ideaal vir die kolonie, grotendeels omdat daar voldoende kos is. Die grootste onwaarheid rondom hierdie voëls is dat hulle gesonde, sterk diere kan doodmaak en dus landbouverliese kan veroorsaak. Hulle is inteendeel ʼn bate vir die landbousekort, want aasvoëls is die skoonmakers in die ekostelsel. Hulle maak die karkasse skoon en verlaag die risiko van enige siektes. Aasvoëls se maagsappe is uiters suur en baie min virusse of bakterieë kan daarin oorleef.

Die villa is egter nie al wat nuut is hier nie, maar bly steeds die ster: Die nuwe “Vlei to Whales”, ʼn ten volle versorgde en begeleide ‘ervaring’ – vier dae, drie nagte en ongeveer 38 km afgelê terwyl jy stap waar die natuurlike en kulturele geskiedenis van die reservaat met sy magdom mariene-, voël-, dier- en skaars plantspesies aan jou blootgelê word deur ʼn gekwalifiseerde natuur-/ mariene-gids.

Die primêre akkommodasie-opsie vir dié gemak-stap is die De Mond Villa. Indien dit reeds bespreek is, word De Hoop Collection se geskiedkundige Melkkamer-herehuis aan die oorkant van die vlei en 40 minute se ry vanaf die sentrale Opstal-area as alternatief aangebied (na gelang van beskikbaarheid).

Wildritte tussen die fynbos deur laat jou neus ontwaak. (Foto: Clifford Roberts/Verskaf)

As jy nog energie het, kan jy ook op die ekovaart op die vlei gaan of gaan fietsry. Of – as jy soos ons gelukkig is om net die wolke te sien verbydryf – net sit en jou siel laat skoonwaai.

Ons gids vertel dat die reservaat heeljaar iets anders bied: herfs en winter is die beste tyd vir plantspesies – “Hier is so baie om te sien. Die natuur stel nooit teleur nie” – en die lente en somer is die beste tyd om te kom voëls kyk.

Tussen ons uitstappies in die wildkykvoertuig, lang middagslapies en laat slaap oggende, is daar pure bederf by die villa: elke maaltyd word vir jou gemaak, die kombuisspan bak selfs vir ons ʼn koek en saans as jy terugkeer van ʼn rit of stappie, is die vuur buite gepak waar jy die son kan sien ondergaan en jou drankies geniet.

O, die wonder van vlamme en vuur en verskietende sterre onder ʼn pikswart Afrika-nag. Voëls en paddas en die geluide van die nag onder flikkerende sterre.

Een oggend word ons ontbyt gepak en ons ry duine toe. Onder is daar niemand op die strand, behalwe ʼn paar elande nie. In die potblou see baljaar walvisse – amper net vir ons. Ons gidse, Dilllon Visagie en Nazeer January, vertel die water is 16 tot 22 grade en die temperatuurverskille en storms en wind bring baie voedingstowwe na bo. Die walvisse reis 7.5 km per uur.

(Foto: Clifford Roberts/Verskaf)

Die heimwee oorval my. Doodse stilte – behalwe die see. Gebukkend oor rotspoele soos jare terug as dogtertjie. Die vryheid van rotspoele verken, geen siel in sig nie. Só lyk ʼn rotspoel waaruit niks verwyder is nie en waarin niks besoedeling voorkom nie.

Drie swarttobies sit op ʼn rots. Die Swarttobie-wyfie het ʼn lang dunner bek. Sy maak skulpdiertjies los en die mannetjie breek dit oop. Liefde vir altyd! Kuikens kan swem en vlieg, maar verloor later hul vermoë om te swem. Ek voel die briesie in my hare, die koffie en croissant van flussies nog op my tong.

Drie dae hier is gelyk aan drie weke elders. Wanneer jy jouself weer kan hoor dink en die styfheid uit jou skouers weg is, weet jy dis tyd om die lewe weer te gaan aandurf.

Kitsfeite:

  • Bespreek vir die begeleide aasvoël-stap en al die ander natuuraktiwiteite by die Opstal. Die stap vertrek om 09:00 en kos R550 per persoon, wat ʼn piekniek-koelsakkie insluit. Daar kan ʼn maksimum van tien gaste per stap gaan en ʼn minimum van twee gaste en almal moet ouer as 12 jaar wees. Die uitstappie is nie net vir gaste van die De Hoop Collection nie, maar ook beskikbaar vir dagbesoekers aan die reservaat. Bespreek jou verblyf by De Hoop Collection by (021) 422-4522, [email protected] of besoek www.dehoopcollection.com. Gaan loer in vir ete by die Fig Tree-restaurant met sy reuse-wynversameling. Die restaurant is ingerig in ʼn ou skaap-skeerstoor en ʼn lekker bederf.
  • De Hoop Collection is ʼn lid van Cape Country Routes (CCR), ʼn groep onafhanklike hotelle, gastehuise, herberge en aktiwiteite tussen Kaapstad en Gqeberha en moedig mense aan om die bekoorlike – en soms onontdekte – roetes op die platteland te ontgin. Bespreek by (021) 023 3611, [email protected], www.capecountryroutes.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.