Om jou voorkennis te gaan verken

Gereed vir die reis vanaf die Weskus tot in Nairobi (Foto: Verskaf)

Oupa Nicolaus Everhardus Johannes Laubscher van Blouberg naby St. Helenabaai was ʼn baie besonderse mens. Hy is alombekend as oom Kammie, maar die oorsprong van die naam kon ek nog nooit opspoor nie.

Sy ma was ʼn nooi Laubscher en ek vind geen Hanekom in die voorgeslagte nie hoewel party mense van hom gepraat het as Hanekom Laubscher. Maar onse ou mense het mos dinge op hulle eie manier gedoen soos die oom doer in Klawer se omtes wat hulle oom Gert Oostewind genoem het.

Hy het nooit vir ons kleinkinders die rede vertel nie, maar hy vat in elke geval in Oktober 1913 die Duitse skip Admiral in Kaapstad hier teen die ooskus op is tot by Zanzibar. Daar klim hy op die Canisbrook Castle om op 3 November 1913 by Port Amelia aan “Portugees-Oos-Afrika” aan wal te gaan. (Dis die huidige stad Pemba in die noorde van Mosambiek.)

Op 11 Januarie 1914 ontvang hy ʼn jagsertifikaat no. 45 om grootwild te jag in die Njassa-provinsie van Portugees-Oos, soos oupa die plek genoem het. Dan loop sy spoor dood om later ietwat daarvan op te tel in ʼn ou kaart van Duits-Oos-Afrika, soos Tanzanië destyds bekend was. Sy dagboek van 1915 is van die “Nashorn Apotheke” in Arusha in “Deutsch – Ostafrika” en hou my vir ure besig en ek verwonder my oor Swahili-woorde wat netjies alfabeties opgeteken is en van verslae van velle en horings en tande wat in Dar es Salaam verkoop word.

Daar is ook ʼn klompie briewe van jare van mense soos oom Charles Hitchock en Piet Albrechts. Hulle vertel van wonderlike plekke met name soos Skull Rock Estate en Sumoni Coffee Estate en van Eldoret en van Arusha en ander wat ek steeds nie kan ontsyfer nie. En toe vind ek dié briefie gedateer 29 September 1924.

Beste Neef Klasie,

Met droefheid en leidweeze moch ik jou die treurige tyding meedelen. My geliefde broeder Johannes het op die 16de September verongeluk op ʼn olifantsjag naby Fort Maquire. Van Piet Albrechts.”

Ek hoor van gewere wat misvuur en olifante wat storm en trap en ʼn nagtelike ekspedisie met ʼn draagbaar na die Malindi Mission in Njassaland waar die sendingdokter ure tervergeefs gespook het.

 

Voorkennis is eintlik deel van sekere leerstellings van Carl Jüng. Of dit is vir my die beste verstaan in Afrikaans van die begrip “collective unconsious”. Volgens Jüng is dit daardie diepe, onbekende voorwete wat families, groepe of volkere het aangaande sekere gebeure en vir my vat “voorkennis” dit saam.

Dit is daardie inligting wat diep in jou en my wese verborge is wat ons lewe grondig beïnvloed en jy kan dit nie verduidelik of verklaar nie – dit is net daar en is dit wat voor die natuurlike insameling van kennis kom wat deel van ons opvoedingsproses is.

Oos-Afrika is deel van my voorkennis. Vasgepen en uitgegraveer in die dieptes van my wese want dit was waar oupa Kammie sy heldedade uitgelewe het. Toe ek hom leer ken, was hy oud en afgeleef en eintlik maar net ʼn spook wat gedwaal het tussen sy kantoor en die kombuis daar op Blouberg. Hy was nie meer iemand se held nie.

Maar in my hart is en bly hy die held wat Oos-Afrika manalleen loop bestorm het hoewel hy sekerlik geen of min Portugees, Duits, Engels of Swahili magtig was nie. Hoekom het hy dit gedoen en hoe was sy alledaagse ervarings? Daardie vrae maal al vir meer as 60 jaar deur my wese.

Baie jare gelede vra een van my kinders my wat is die grootste wens in my lewe. Skynbaar het ek sonder om tweemaal te dink geantwoord “om Oos-Afrika te besoek”.

Die afgelope Covid-tyd was dokters mos kroonwild – almal is opsoek na ene. En my een dogter is ook dokter en sy soek ʼn mens om haar te help in haar eenmanpraktyk. So leer ken sy vir Jack en John (nie hulle regte name nie, want hulle is boer-mense). Twee aangename afgetrede dokters wat kom inspring en help met die krisistyd. En ons word almal vriende en kuier saam om braaivleisvure.

Eendag laasjaar, kom John met die voorstel dat ons drie oues die pad vat hier op tot daar teen Keniaberg waar hy ʼn paar goeie vriende het. En my voorkennis kom vat oor.

Ek het nie geld vir so ʼn uitspattigheidjie nie, maar die kinders vat hande. Ons vat ʼn mooi jaar om ons reis te beplan en om kans te kry om geldjies in te samel. Soos die dag nader kom het ek hoe slegter geslaap. Ek ken van safari ry. Van 1996 tot 2012 was dit ons daaglikse brood. Ek ken rygoed wat breek en donkies wat voor ʼn mens kom instap. Donderstorms en nat beddegoed, tente wat verskeur word deur stormwinde en siek word van swartwaterkoors totdat jy later op die rand van die dood draai. So, ek was bang.

Maar Jack het sy Geladewagen ordentlik laat nagaan, die dakrak het ek self onder hande geneem en ons het vir dae gepak – sorgvuldig. 40 liter ekstra diesel op die dak, 40 liter ekstra water op die dak, twee ekstra bande op die dak, ekstra opblaasmatrasse, gereedskap genoeg om die Mercedes heel uitmekaar te haal, kompressor en snot-stokkies, lappe en gom, hengelvrieskassie met twee ekstra batterye, twee sonpanele, olie en filters, boeke en kaarte, Garmin en Tracks-for-Africa opdateer en verder nog vir Google Maps en outydse kaarte ook.

 

Toe kom die doktersgoed. Sakke en pakke en soveel goeters dat ons mangels, blindederms, gebreekte bene, hartaanvalle en so aan sou kon hanteer. Soos ʼn noodeenheid op wiele kompleet met 4×4 en diff-locks, wonderlike veld-ligte, alle kamptoerusting, kos en klere en boonop kameras, sakrekenaars en baie bokse “Iced Tea”.

Ons is mos maar Weskusmense en hou van ʼn lekker wyntjie in die aand. Ons lees van al die beperkings oor drankgoed by die grense, maar nou is ons mos darem al ook ou hande. ʼn Bekende wynlandgoed vat ons hand en giet mooitjies hulle beste wyn in dieselfde soort sakke as wat in bokswyn voorkom. Toe koop ons ʼn klomp bokse ystee en verplaas daai tee sakke met wyn en plak alles sorgvuldig toe. Dit alles kom in ammo-bokse en word ook bo-op die dak vasgemaak. Die Geladewagen was gelaai tot op sy limiete. En toe word John siek.

Sy hart sit op loop en hy beland in die Kaap waar die groot dokters hom onder die mes neem en gou gou ʼn klompie stente in sy are moet plaas sodat die bedryf weer oop kan kom. Hy verswyg die ongevalletjie vir sy nadere familie en weier volstrek dat ons die safari uitstel. Hy gaat saam en as hy omval dan is dit klaar en verby want hierdie reis wil hy meemaak, kom wat wil.

Ons besluit toe om darem net so drie dae langer te wag en verder sal ons vir die eerste paar dae van ons trippie die harde werk doen. Dit is nou die werke van bestuur, op die dakrak klim en tente opslaan. Maar hy wat John is sal moet pa staan vir die kosmakery.

So ek was benoud. Vir die lank saamwees, vir die ver pad, vir die wis en onwis, vir Afrika. Maar dis deel van my voorkennis, so hier gaat ons.

Hierdie artikel vorm deel van die reeks wat Koos Greeff se reis vanaf Jacobsbaai tot in Nairobi dokumenteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.