Om jou voorwete te laat prut

Voordat ons nou die pad vat, moet u, agbare leser eers ʼn paar goed weet. U voorwete moet opgeskerp word, anders sit ons met ʼn misverstand en dit gaan ʼn mislike besigheid word. Soos die keer toe ek en die Duitser aan die praat raak oor ʼn boom. Sy kom uit Zoeloeland en dink aan ʼn piesangboom en ek kom uit Namakwaland, so ek dink aan ʼn witgatboom.

ʼn Mens kry mos kitskoffie, moerkoffie, sakkies-koffie, drup-koffie, espresso-koffie en dan prutter-koffie. Ek het prutter-koffie leer ken met ʼn safari in 2004 saam met ʼn klompie Spanjaarde. Op daai stadium het ek darem al gevorder tot by espresso-koffie, maar ʼn mens kan mos nie die ding saamsleep op ʼn lang safari nie. Nou kry ʼn mens kitskoffie wat ʼn liegspul is en gelukkig deesdae amper verban word, want dis eintlik sooibrand-bomme. Maar die Duitsers maak kitskoffie wat darem so amper na regte koffie proe, so ons sleep dit saam vir die noodgeval wanneer die tyd te kort is vir sakkies-koffie.

Ek staan die een oggend brekfis en gaarmaak vir die Spanjaarde teen die Krokodilrivier. Inderhaas werk ek want ons wil nog beur tot by Nata. Ek kook water en haal “Jacobskrohne” uit sommer so saam met die eiers en spekvleis wat ek gaarmaak. Toe kom stap die een vroutjie so half skaam na my kant toe en vra of sy maar vir hulle self kan koffie maak. Ek is tog te dankbaar en gee haar plek op die drie-brander stofie.

Net daar loop haal sy so ʼn blink Italiaanse prutter-potjie uit en maak sy bodempie vol met water. Sorgvuldig plaas sy die koffiemoer bokant in ʼn siffie-bedryf en draai hom net so sorgvuldig toe. Na ʼn ruk begin prutter die pot en spoeg sulke donker, romerige koffie by sy tepeltjie uit. Hulle vat elk ʼn koppietjie en ek vat sommer twee. Dit was my bekering tot koffie-prutters daai dag. Van toe af ry ek en die Duitser ons eie koffiemoer en prutters saam. En ons proe land vir land se koffie en bepaal of hy lig of donker of pikswart gerooster moet wees. Ons is uitgeleerde koffiekundiges.

Koffiedrink is een van die wonderlike dinge van die lewe. Ek weet jy kan swart, warm goed in jou keel afgooi net om te verhoed dat jy dood van die ellende. Maar dit is nie koffiedrink in sy ware essensie nie. Want koffie kom met kultuur, dit is tradisie, dis net soos vleisbraai en potmaak. Bowendien het die Pous iewers in die verre verlede dit “die drank van engele” verklaar. Daarom hanteer ʼn mens koffie met respek.

Party mense se verblyfplekke is soos prutter-koffie. As jy daar kom, dan weet jy hier leef mense. Om elke hoek en draaitjie vind jy ʼn unieke stukkie ding. ʼn Draadmannetjie teen ʼn boom, ʼn geverfde klip met ʼn sêding op. Snaakse blik-bokke of ligte wat versteek is iewers in ʼn bos. Soos die waarskuwing destyds op pad na Ngepi teen die Okavango. Soos ek dit verstaan het: “As jy ʼn 4 x 4 het, stop. Sit hom in lae-trek en sit jou “difflocks” aan. Ry versigtig en stadig die laaste vier kilometer.”

Getrou doen ek dit ook om net ʼn bietjie verder op ʼn ander bord te lees: “As jy ʼn gewone voertuig het, hou normaal aan. Die eerste boodskap is net om vir die 4×4-ouens ʼn rede te gee vir die koop van daai duur ryding”.

Ander blyplekke is soos ʼn hospitaal. Alles is netjies en skoon en op sy plek. Maar niemand leef hier vir die lekkerte nie. Dis soos kitskoffie wat jy vat net omdat jy nie wil dood nie. Ek is dankbaar vir ʼn mooi, netjies en goed funksionerende plek. Maar ek wil by die ontvangs kan instap en praat oor Eskom se morserye of die Springbokke wat lekker rugby speel. Ek wil hoor van oom Mossie se lekker slaghuis en tant Mina se plaasbrood. Ek wil raad vra oor waar ek my bande kan laat regmaak in Palmwag of waar die beste vleis in Klawer te koop is.

Ons padlangse mense is kuier-mense. Ons wil vriende word en familie uitlê. Ons wil nommers op selfone uitruil en vir mekaar twak goetertjies stuur in die middel van die nag.

Een jaar doen ons ʼn groot TV-produksie in die noorde van Zoeloeland. Dis ʼn groot span mense en hulle kry alles reg vir ʼn paar dae in St. Lucia aan die Noordkus. Ons bly sommer daar by ʼn vriend in sy driester-gastehuis en almal is tuis. Daar word gewerk en beplan en party loop die kombuis in en uit en help kosmaak en sommer opruim ook.

Toe gaan haal ek en die Duitser die grootbaas van die span in Durban. Dit word laat en ons haal net Ballito teen die Noordkus toe begin soek ons slaapplek. Die grootbaas boek ons in by ʼn baie duur gastehuis met meer sterre as die melkweg reg op die strand, ek en die Duitser slaap by haar familie oor. Na brekfis loop laai ons die grootbaas. Stil-stil klim hy hier links voor by my in en maak hom tuis.

En ons stoot op na St. Lucia waar die span hom gul ontvang en ons nog ʼn nag oorslaap. Toe ons die pad verder noord vat, vra ek hom hoekom hy dan so stil was die vorige oggend. “Koos – ek hou nie van vyfster-hotelle nie. Hulle is dieselfde vanaf Nieu-Seeland, deur Hongkong, Los Angeles, Londen en Ballito.”

Ek hou van plekke met harte. Ons reis was padlangs en nie in die hogere hemele nie. Ek praat soos dit is en noem ʼn ding reguit op sy naam. Die hoë vlugte van wonderlike verbeeldings los ek vir geleerdes en rykes wat dit kan bekostig om in lugkastele te leef en baie daarvoor te betaal.

Ek gebruik soms nie die regte name vir mense en plekke nie. Dis omdat ek alreeds lank gelede eenkeer in die tronk was en omdat ek ook al voorheen vir naamskending aangekla is vir miljoene rande.

Ek is arm, nou ja, nie regtig soos onder die broodlyn nie. So ek het hierdie safari op die genade-brood van my kinders gedoen. Net so voor hulle ʼn ou strydros uitsit op die ou koringlande om sy laaste dae in vergetelheid te spandeer; ek is amper daar. Ek skrywe dus duidelik en sonder verskoning oor wat goed kos met so ʼn padlangse ryery. As dit jou ontstel, dan stel ek voor jy lees daardie gedeeltes maar mis en dan vlie jy na Oos-Afrika en doen die besoek op ʼn ander manier as wat ek dit gedoen het.

Ons het soms ʼn week of twee in ʼn land spandeer. Ons het nie die hele land verken nie en hierdie is nie ʼn volledige reisbrosjure oor die betrokke lande nie. Hierdie is my oorblik van my kort, padlangse reis deur sommige plekkies in Afrika.

Dit help nie om met my te verskil of te verklaar dat ek eensydig of partydig of kortsigtig is nie. Dit weet ek sommer uit die staanspoor uit. Dis geen akademiese proefskrif met volledige en goed gefundeerde verslae nie. Dis bloot eenvoudig my eerlike ervarings en opregte opinies en dis persoonlik, subjektief en eensydig want ek is net een en ek praat nie uit twee bekke uit nie.

Maar ek ken van reis. Ek ken vir safari. Ek ken vir Afrika, want ek is ʼn wit kind van Afrika. Ek praat sy tale en ek droom sy drome – Afrika is in my hart. Vanaf die dae van my oupa Kammie. Ek mag ook ʼn opinie hê al is ek ʼn OWAM (O, jy weet nie wat dit is nie? Ou Wit Afrikaanse Man.)

Hierdie artikel vorm deel van die reeks wat Koos Greeff se reis vanaf Jacobsbaai tot in Nairobi dokumenteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.