Om Paasfees in Tsjeggië te vier

Tradisionele Tsjeggiese Paasversierings. (Foto verskaf)

Deur Monja Kraemer

“Hallo Anton, vinnige vraag: het jy en Monja al planne vir die Paasnaweek? Ek het ʼn klein ideetjie in my kop.”

Hierdie boodskap ontvang ons op een saai werksoggend van neef Romano in Switserland. Gebore en getoë in daardie reëlbehepte land, maar met Afrika-bloed in sy are.

Die “ideetjie” wat hy het, is dat ons vir die Paasnaweek Tsjeggië toe moet gaan en daar gaan visvang.

Ons is nie hengelaars nie, maar só ʼn geleentheid gaan ons nie deur ons vingers laat glip nie.

Laat Donderdagaand daag Romano by ons woning in die suide van Duitsland op. Vrydagoggend is ons op pad. Dit is ongeveer vier uur se ry na ons bestemming; moontlik die kleinste dorpie in Tsjeggië: Trpísty.

Net voor die Tsjeggiese/Duitse-grens eet ons middagete. ʼn Konvooi van ongeveer agt reuse-weermagtrokke, met onbekende nommerplate en ʼn Nederlandse vlaggie, ry verby. Europa beleef onstuimige tye.

(Foto verskaf)

Aangekom in Trpísty, kom Romano se kollega (ons kontak in Tsjeggië) se vrou ons tegemoet gestap.

Hulle is besig om ʼn vlakvark, wat vroeër die middag geskiet is, by die buurman af te slag. Haar Engels is nie goed nie, haar Duits nog slegter, maar “kaffee” verstaan ons en sy spring onmiddellik aan die werk.

Voordat ons haar egter kan volg, kom haar eggenoot ook te voorskyn. ʼn Massiewe man. Ek hou van ʼn stewige handdruk, maar ek is onseker of die bene in my hand nog almal heel is na hierdie ontmoeting. Ladi werk in Switserland by ʼn houtkonstruksiemaatskappy. Ek lees later in Insider dat hy nie ʼn uitsondering is nie: Tsjeggië is blykbaar vyfde op die lys van lande met die langste mense. Donald Trump se eksvrou, Ivana Trump, is nog ʼn goeie voorbeeld met ʼn lengte van 182 cm.

Ladi bied dadelik vir ons ʼn bier aan. Die dorp waar die eerste pilsner gebrou is heet Plzeň (Pilsen) en is ongeveer 50 km van Trpísty af. Die mense in hierdie omgewing drink baie graag pilsner, besef ek toe ek die reuse-krat pilsner in Ladi se werkskamer sien.

ʼn Vriesende wind waai. Ladi sê dat as die wind uit Rusland se rigting waai, kan dit tot -20°C of -30°C word in die winter. Dit is in sterk kontras met Duitsland waar dit reeds begin lente word het.

Ons maak dit duidelik dat ons reeds geëet het, maar daar word nietemin ʼn bord met keurig voorbereide ham-en-eier-broodjies voorgesit. Ek verkyk my aan die pragtigste paaseiers in Jana se sitkamer. Só iets het ek nog nie gesien nie: eiers oorgetrek met kralewerk.

Ná ete gaan wys Ladi en sy engelgesig-dogtertjie vir ons die kampplek. Ons 4×4 met Romano se Nissan Patrol deur die woud en ek moet bieg: daar was tye wat ek asem opgehou het.

Ladi vertel dat landbou een van die grootste inkomstebronne in die omgewing is. Baie Tsjeggiërs werk in die motorbedryf –  Škoda Auto (deel van die Volkswagen-groep) is ʼn Tsjeggiese maatskappy. Baie vakmanne werk blykbaar egter in Duitsland of Switserland omdat hulle daar meer verdien. Dit is die geval met Ladi en hy sien dus ongelukkig sy gesin net elke tweede naweek.

(Foto verskaf)

Terug by hulle huis, is die werkskamer in ʼn oogwink in ʼn kuierarea verander. Die buurman kom ingewals by die tuinhekkie. Hierdie kuier gaan hy nie mis nie. Ladi en Jana braai aartappels, hoender en die vlakvark wat hulle pas geslag het. Ons kuier heerlik. Tussen Afrikaans, Engels, Switserse Duits, Hoog Duits en Tsjeggies gaan baie verlore, maar ons lag uit ons mae uit vir mekaar.

Die aand word laat en Ladi en Jana dring daarop aan dat ons by hulle oorslaap. Hulle wil hulle kinders se kamers aan ons afstaan. Ons weier, maar ons bereik ʼn kompromie om die eerste aand in hulle tuin te kamp. Saterdagoggend kry ons nie net koffie nie, maar ook ʼn heerlike ontbyt. Groente word reeds opgesny vir middagete…

Ons vertrek na die ruïnes van die Gutštejn-kasteel wat vermoedelik gedurende die 14de eeu gebou is. Dit is erg vervalle, maar daar is nie ʼn te groot kontras tussen die kasteelruïnes en sekere ander meer moderne geboue in die omgewing nie. Dieselfde jaar (1948) wat die Nasionale Party in Suid-Afrika aan bewind gekom het, het die Kommunistiese Party van Tsjeggo-Slowakye deur middel van ʼn staatsgreep beheer hier oorgeneem. Die blywende gevolge van daardie tydperk is nog duidelik sigbaar in die vervalle gebou.

Ná ons uitstappie word ons natuurlik weer terugverwelkom in die Plačeks se huis met vuurwarm goulash en knödels en word ons ʼn kettingsaag in die hand gestop sodat ons nie die aand hoef te sukkel met brandhout by die kamp nie.

Die res van die naweek het ons slegs vuur gemaak (ek het lanklaas twee Afrika-kinders so gelukkig gesien!), gelees, geroei, want glo dit of nie, Ladi het ook nog vir ons ʼn boot by een van sy vriende te lene gekry.

Hierdie was my eerste Paasfees in Europa. Dit was anders. Geen somber kerkdiens op Goeie Vrydag nie. Geen vreugdesdiens op Opstandingsondag nie. Hierdie jaar bid ons alleen langs die oewers van ʼn vreemde rivier om dankie te sê dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het. Dat ons vry is. En dan stook ons ons vreugdesvuur tot tweemaal die hoogte van die daktent.

“Ek voel soos ʼn gypsy,” sê Romano net voordat ons vertrek van die Plačeks af. “Ons stink na rook, ons leef uit die motor uit, ons eet ander mense se kos.” Eers lag ek, want dit is só waar, dan tref dit my: die Here nooi ons netso in Sy huis in, laat ons by Sy feesmaal aansit, ontvang ons soos eregaste en ons sal ewig tuis wees in Sy huis. Al is ons vuil. Al stink ons na rook. Al is daar riviergrond onder ons naels.

Die Here het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan!

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.