Ons sal altyd Parys hê! Pret en prag in die Vrystaat se lieflingdorpie

Foto: Lourens van Schalkwyk

Aan die oewer van die Vaalrivier skuil dié klein, maar alles behalwe stil, toerismedorpie. Parys in die Vrystaat het oor die jare gegroei van ’n plattelandse dorpie tot ’n juweel van toerisme, kuns en die gasvryheid wat ’n mens van ’n plaasgemeenskap sal verwag.

Inwoners van Gauteng en Noordwes gaan kuier gereeld vir ’n langnaweek, of sommer net vir ’n daguitstappie in dié dorpie om weg te kom van die stad se gedruis. Maar moenie dat die dorpie se grootte jou flous nie ─ daar is altyd iets aan die gebeur! Op ’n naweek sal jy gedurig ’n groep motorfietsryers teëkom wat by een van die talle koffiewinkels ontspan, of selfs ’n skertsende ram- of henneparty wat jou mondhoeke sal laat opkrul!

Vir dié wat op soek is na ’n bietjie meer je ne sais quoi is daar ’n rits modieuse klerewinkels in die hoofstraat, asook twee beroemde ontwerpers wat reg staan om enige Aspoestertjie vir die bal aan te trek! Diegene met ’n meer avontuurlustige neiging kan ’n rits adrenalien- of buitelugaktiwiteite soos riviervlotvaart, kabelgly, visvang en gholfspeel in die dorp aanpak.

Natuurlik, met Covid-19 wat internasionale reis beperk, kan jy ook ’n smakie van Parys se Franse naamgenoot by een van die drie Eiffeltorings in die dorp kry, of julle liefdeslotjie aan die hangbrug haak sodat jy en jou liefie met ’n sleutel julle ewige trou en liefde aan mekaar kan beloof.

Hier is LekkeSlaap se lys van moet-doen-en-sien-dinge in dié bekoorlike dorpie.

Ons eie Champs-Élysées

Deur die jare het Parys gegroei tot die toerismedorp wat dit vandag is en een van die hoofbesienswaardighede in die dorp is beslis die rits unieke winkels wat in die hoofstraat, Waterstraat wat om die draai in Breëstraat verander, te vind is. Op hierdie einste draai is en Style, ’n stylvolle winkel met ’n verskeidenheid handgemaakte items, produkte van bekende handelsname en selfs ’n tatoeëer-ateljee! Daar is wraggies iets vir almal.

enStyle op die draai van Breë- en Waterstraat. (Foto: Lourens van Schalkwyk)

Oorkant die pad is die outentieke, gevestigde antiekwinkel, Pines Antiques. Hier sal jy vir ure lank tussen antieke meubels, versamelstukke en tierlantytjies kan verdwaal. Daar is ook ’n galery in Pines waar plaaslike en welbekende kunstenaars hul werk uitstal. Hier kan jy ook die meer abstrakte, tong-in-die-kies beeldhouwerk van Francke Ceramics vind. Dit is maar een van talle antiekwarewinkels wat jy kan besoek, so hou jou oë oop vir Paris Antiques, Mon Ami Antiques, Oaktree Junction, Ou Goed en Parys Auctioneers waar jy op ’n Saterdag aan ’n veiling kan deelneem!

Regs: Mon Ami Antiques. Bo: die Wakis. Onder: Paris Antiques (Foto’s: Lourens van Schalkwyk)

Verder af in Breëstraat is ’n doolhof van kunstige winkels waar jy sonder ophou na kopies kan koekeloer. Van juwele en kledingstukke tot kombuisware en lekkernye ─ dit vind jy alles hier. Maak seker jy loer by Olivia and Co, L.Design, lavish’d en Tactile Room in.

Bo: L.Design. Onder: Inge’s Decor. Regs: Tactile Room, Beauty Room en lavish’d (Foto’s: Lourens van Schalkwyk)

Un café, s’il vous plaît? ─ Koffiewinkels

Die plaaslike kelners mag dalk frons as jy dít vra ─ ’n eenvoudige asseblief en dankie is voldoende wanneer jy koffie by een van die dorp se verskeidenheid koffiewinkels bestel. Daar is Koffiekan, The Trading Post, Lekker Bistro, Plum Tree, La Vie en Rose en Pines Antiques se Liewer Koffi al langs die hoofstraat af. By laasgenoemde kan jy ’n liplekker koffie bestel waarvan die bone self deur die eienaar gerooster word! Maak ook seker jy loer na hulle ontbytspyskaart.

Bo: The Trading Post. Onder: Lekker Bistro. Regs: La Vie en Rose (Foto’s: Lourens van Schalkwyk)

Avante Garde, my skat ─ Modeontwerpers

As jy ’n ontwerpersitem benodig ─ of dit nou ’n matriekafskeidrok, trourok, of ’n snyerspak is ─ waarom nie Parys toe kom en ’n naweek van die saak maak nie? Parys spog met twee wat jou in ’n prinses sal verander. Werner Dey en sy span tower rokke op wat enige metgesel na hul asem sal laat snak. Verder spog die dorp met Michael Bezuidenhout, ’n naam wat nie onbekend is in die modewêreld nie. Gaan maak gerus ’n draai by een van dié twee boetieks en skaf vir jou ’n perfekte, pasgemaakte uitrusting aan.

Links: Michael Bezuidenhout se vertoonvenster. Regs: Die bekende strepiesgebou van Werner Dey Couture (Foto’s: Lourens van Schalkwyk)

Pont des Arts in die Vaal ─ Die hangbrug

Die liefde, o die liefde! By die 1919-hangbrug wat oor die Vaalrivier strek, kan verliefde duifies, nes in Parys in Frankryk, ’n slot gaan hak en sommer ’n paar romantiese kiekies ook neem met die woeste waters en wilgerbome in die agtergrond.

Links: Die 1919-hangbrug. Regs: Van die honderde slotte waarmee paartjies hul liefde toegesluit het (Foto’s: Lourens van Schalkwyk)

Un trou en un – Pak jou gholfstokke in!

Die dorp spog met twee luukse wêreldklas-gholfbane langs die Vaalrivier. Vaal de Gráce en Parys Gholflandgoed bied beide agtien putjies en ’n klubhuis wat sommer as jou negentiende putjie dien. Die bekende gholfster, Nick Price, was deel van die span wat Vaal de Gráce se gholfbaan ontwerp het ─ wêreldklas inderdaad!

Vaal de Gráce se groene gras (Foto: LekkeSlaap)

Woerts-warts oor die Koepel

Mega Zipline by Kiepersol bied ’n besonderse uitsig oor die Vredefortkoepel, een van Unesco se Wêrelderfenisgebiede. Ons beveel sterk aan dat jy ’n besoek aflê vir ’n avontuur-ervaring binne-in een van ons land se mees gesogte besienswaardighede.

Jippieeeeeee! (Foto: Koepel Mega Zip)

Roei ’n bietjie hier, roei ’n bietjie daar

Riviervlotvaart is een van die gewildste aktiwiteite wat gaste na Parys lok en wanneer die Vaalrivier afkom verskaf dit genot vir die hele familie! Daar is verskeie plekke in Parys wat hierdie aktiwiteit aanbied, so kry jou swemklere reg, gryp ’n spaan en ’n helm, en vaar die waters in vir ’n ervaring uit die boeke.

Vetpret op die waters (Foto: LekkeSlaap)

We’ll always have Paris … en die Eiffeltoring!

Nou ja, wat sal hierdie dorpie wees sonder sy naamgenoot se bekende Eiffeltoring ─ en ons Parys spog sommer met drie sulkes! Gaan neem ’n klassieke Eiffeltoring-foto voor hulle, terwyl jy droom oor die dag wat jy die régte een kan besoek. Kan jy almal van hulle in die dorp opspoor?

Drie van die Eiffeltoring-namaaksels in dié dorpie (Foto’s: Lourens van Schalkwyk)

Hierdie Vrystaatse dorpie is dalk nie die Stad van Romanse soos die ánder Parys nie, maar dit steek ook glad nie af met al die aktiwiteite en besienswaardighede wat aangebied word nie. Parys herinner aan Clarens se kunssinnigheid en Kleinmond se sjarme. Vir diegene wat in Gauteng of Noordwes woon, maak ’n draai by die Vaalrivier se waters en gaan besoek Parys vir ’n dag- of naweekwegbreek. Dié van julle wat effens verder woon, maak seker om Parys op jou reisplan te voeg vir jou volgende rit in die Noord-Vrystaat se rigting!

*Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Janke van Schalkwyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.