Verbruikersake: Is jy reg om te reis? Kies die regte reisversekering

(Argieffoto.)

Nadat almal gedink het ons gaan nooit weer kan reis nie – selfs nie eens in ons eie land nie – kan verbruikers nou weer begin planne maak en eerste op almal se lys is natuurlik die Desembervakansie, al sluit die skole eers op 15 Desember. Verbruikers wat vakansies bespreek het wat weens die pandemie nie kon gebeur nie, het duur lesse geleer toe vlugte en blyplek gekanselleer is en van hulle nie hul geld teruggekry het nie. Ina Opperman verduidelik wat jy moet doen om seker te maak dat, as iets weer jou vakansie in die wiele ry, jou beursie nie aan die korste end gaan trek nie.

Dit is heel verstaanbaar dat mense nou lugtig is om plek op ’n vliegtuig of blyplek te bespreek, omdat hulle bang is hulle kry nie hul geld terug as hulle nie meer kan gaan nie. Daar is heelwat raad van ander, maar dit is belangrik vir verbruikers om te weet wat werk en wat nie en hoe hulle die beste voorsiening kan maak vir onverwagte omstandighede.

Reisversekering is die beste manier om te verseker dat jy vergoed word as iets jou vakansieplanne in die wiele ry. Die Ombudsman vir Korttermynversekering het juis sedert die begin van die inperking omtrent 180 klagtes oor reisversekering gekry wat verband hou met Covid-19.

Die regte reisversekering

Dit is baie belangrik om die regte reisversekering te kies. Die regte reisversekering verseker jou vir:

  • Mediese onkoste, veral as jy oorsee reis. Selfs iets relatiefs klein, soos ’n sny aan jou voet wat net ’n paar steke nodig het, kan jou vakansiebegroting uitput;
  • Bagasie wat wegraak, want wat is ’n eilandvakansie nou sonder jou bikini en mooi aandklere?; en
  • Kansellasies weens storms of dat die land waarheen jy wil reis, weer op grendel is.

Jy kan ook reisversekering uitneem wanneer jy binne Suid-Afrika reis en dan word jy gedek vir:

  • Skade aan gehuurde motors;
  • ’n Kansellasie, soos as jy siek word en nie meer kan gaan nie; en
  • Kansellasie van ’n deel van jou vakansie, soos as jy vroeër moet teruggaan huis toe om die een of ander bepaalde rede.

Onthou: Reisversekering vir vakansies in Suid-Afrika dek jou nie vir mediese onkoste nie.

Wees op die uitkyk vir:

  • Reisversekering wat genoeg mediese dekking bied, ook vir bestaande toestande, soos hartsiekte. As jy ouer as 70 is, maak seker dat die dekking ook vir mense van jou ouderdom geld vir hartsiektes;
  • Reisversekering wat dekking bied vir bepaalde gebeure wat lei tot kansellasie; en
  • Reisversekering wat beperkings stel waarmee jy tevrede is.

Besprekings met jou kredietkaart

As iemand hoor jy gaan reis, is die ongevraagde raad altyd: bespreek met jou kredietkaart, want dan het jy outomaties versekering. Dit is nie heeltemal waar nie. Jy sal basiese dekking kry, maar nie almal se kredietkaarte bied dieselfde dekking nie. Die bedrag wat gedek word, hang af van die soort kaart en dek gewoonlik nie kansellasies, bagasie wat wegraak of ’n reis wat vertraag word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.